Categories: NewsPublished On: 5th December 2017

Plaasveiligheid is ‘n gedeelde verantwoordelikheid

By 4 min read
703 words
farm workers training

syngenta farm workers training

Die veiligheid van werkers is ‘n netelige kwessie in verskeie bedrywe wêreldwyd. Veiligheidsinsidente in myne en fabrieke word dikwels in hoofopskrifte uitbasuin; die veiligheid van plaaswerkers, daarenteen, neig om ‘n saak te wees wat verbruikersgroepe opneem en bepleit. Veral in Europa het verbruikersaktivisme ‘n deurslaggewende rol gespeel om te verseker dat verskerpte regulasies rondom voedselkwaliteit nou ook die welsyn van plaaswerkers in ag neem.

Bewus van die feit dat die gebruik van plaagdoderprodukte werkstoestande op ‘n plaas beïnvloed, het Syngenta die veiligheid van plaaswerkers in sy Good Growth Plan ingesluit. Die plan is Syngenta se reaksie op die werklikheid dat ons planeet elke dag 200 000 meer monde het om te voed terwyl meer en meer landbougrond aan erosie verlore gaan. Dit is ook waar dat baie van die mense wat die wêreld se kos produseer in armoede leef, en dat die toename in menslike behoeftes biodiversiteit onder bykans ondraaglike druk plaas.

Die Good Growth Plan het ses ondernemings wat Syngenta wil realiseer teen 2020. Een van hulle is om “mense te help veilig hou”. Ten einde dit waar te maak, het Syngenta homself ten doel gestel om internasionaal 20 miljoen plaaswerkers, veral in ontwikkelende lande, op te lei in veilige arbeidspraktyke.

In 2016 alleen, het die maatskappy 6,8 miljoen mense wêreldwyd opgelei om beter en veiliger te boer. Dit bring die kumulatiewe totaal sedert die aanvang van die Good Growth Plan op meer as 17 miljoen te staan. Ongeveer 70% van hierdie syfer is kleinboere en/of plaaswerkers in ontwikkelende lande.

In Suid-Afrika het Syngenta alreeds in die omgewing van 5 000 individue, waaronder produsente, plaaswerkers en agente, in die veilige gebruik van gewasbeskermingsprodukte opgelei.

Aangevuur deur die beginsels van die Good Growth Plan en die verpligtinge wat dit op al Syngenta se streke plaas om ‘n bydrae te maak, het Syngenta Suid-Afrika sy benadering tot veiligheidsopleiding versterk deur meer direkte interaksie met die eindgebruikers van sy produkte te hê.

Francois Viljoen, tegniese veldkundige: onkruiddoders by Syngenta, sê dat veilige-gebruikopleiding nog altyd ’n prioriteit was, maar dat dit deur Syngenta se agente uitgevoer was. Die maatskappy het gereeld werkswinkels aangebied waar agente as instrukteurs opgelei is, en het hulle van aanbiedings en opleidingsmateriaal voorsien om die boodskap verder uit te dra.

“Wat verander het, is dat ons nou die klem laat val op die feit dat veiligheid ‘n gedeelde verantwoordelikheid is,” sê Francois. “Ons doen dit deur plaaswerkersessies saam met ons verspreidingskanaal aan te bied.”

So ‘n interaksie het vroeg in September op die plaas Huntersvlei naby Viljoenskroon in die Vrystaat plaasgevind. Nagenoeg 200 produsente en plaaswerkers wat met plaagdoders en spuittoerusting werk, het die werkswinkel bygewoon. Na ‘n in-diepte aanbieding oor die beginsels van veilige gebruik, het die gehoor aan ‘n praktiese oefening deelgeneem waartydens toedieningtoerusting en -praktye gedemonstreer is. Elke persoon wat die werkswinkel bygewoon het, het ‘n sertifikaat ontvang.

“Ons glo dat die veilige gebruik van gewasbeskermingsprodukte ‘n gedeelde verantwoordleikheid is,” sê Francois. As die ontwikkelaar en vervaardiger is dit Syngenta se plig om seker te maak dat die produkte wat die maatskappy produseer van hoogstaande gehalte is, en behoorlik nagevors en volgens wet geregistreer is. Stabiele, geregistreerde formulasies van hoogstaande kwaliteit formulering, hou geen risiko in vir mense of die omgewing wanneer dit in ooreenstemming met die aanwysings op die produketiket gebruik word nie.

Hierdie bal is in die produsent se hande. Dit sluit onder meer in die verskaffing van opleiding, gepaste persoonlike beskermingstoerusting, bergingsfasiliteite wat behoorlik gesluit kan word en toedieningstoerusting – spuitstukke inkluis – wat in ‘n goeie toestand is.

Bostaande sal egter geen verskil maak indien die spuitoperateurs nie die beginsels van veilige gebruik toepas nie.

Om al drie bogenoemde partye in dieselfde vertrek te hê, is ‘n doeltreffende manier om die boodskap van gedeelde verantwoordelikheid tuis te bring.

“Ons verstaan dat veilige-gebruikpraktyke net een van die talle uitdagings is wat produsente elke dag die hoof moet bied,” sê Francois. “Daarom doen ons alles in ons vermoë om dit so maklik as moontlik vir produsente te maak om aan die regulasies te voldoen.”

Veiligheid is nie ‘n geleentheid nie; dit vereis konstante en konsekwente fokus en moet in werking gestel word. Die langtermynuitkyk van die Good Growth Plan, in samewerking met Syngenta se belegging in opleiding, is ‘n resep wat resultate belowe.

Bron: Syngenta

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0