Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 29th March 2023

PhD-navorsers verken alternatiewe voerbronne vir bokke en lammers

By 6 min read

Picture1

Dr Leo Mahachi, dr Tulimo Uushona en dr Farouk Semwogerere tydens hulle gradeplegtigheid aan die Universiteit Stellenbosch in Desember 2022. Al drie het PhD-grade in Veekundige Wetenskappe ontvang. Foto: SU

Artikel voorsien

Drie navorsers wat fokus op alternatiewe voerbronne vir bokke en lammers, het onlangs hulle PhD-grade in Veekundige Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Hulle het ondersoek ingestel na hoe neweprodukte van plante dieregesondheid, groeikrag, gesondheidswaardes en vleisproduksie volhoubaar kan verbeter, en hoe dit die raklewe van vleisprodukte kan verleng.

Hierdie navorsing is deel van ondersoeke in die US se Departement Veekundige Wetenskappe om alternatiewe voerbronne te bekyk wat bekostigbaar, plaaslik beskikbaar en maklik toeganklik is, en wat volhoubare diereproduksie en vleisgehalte kan verbeter. Prof Cletos Mapiye, medeprofessor in Vleiswetenskap in hierdie Departement, was die studieleier van al drie navorsers.

Dr Tulimo Uushona se proefskrif is getiteld Voerwaarde en biopreserveerpotensiaal van Acacia mearnsii-blaarmeel vir lamsvleisproduksie en -gehalteverhoging. Hierin fokus hy op die gebruik van alternatiewe voerbronne in plaaslike voerkraalmengsels. In Suid-Afrika is blaarmeel van swartwattel (Acacia mearnsii) een van die belowende alternatiewe bronne van stadig fermenteerbare energie (dit wil sê vesel) in veevoer.

Blaarmeel is afkomstig van gedroogde en gemaalde blare en takke wat in voermengsels gebruik word. Koringsemels (Triticum aestivum) is tans een van die hoofveselbronne in voerkraaldiëte. Dr Uushona had met haar PhD ten doel om hoofsaaklik die uitwerking van swartwattelblaarmeel as plaasvervanger vir koringsemels in lammers se afrondingsdiёte te evalueer. Swartwattelbome het sowat 10-miljoen hektaar veld binnegedring en is op 110 000 hektaar aangeplant vir timmerhout en bas-tannienproduksie in Suid-Afrika.

Toenemend word navorsingsaandag daaraan geskenk om nuwe gebruike vir die plantmateriaal afkomstig hiervan te vind, onder meer as alternatiewe voerbron vir diere. Dr Uushona het ondersoek ingestel na hoe verteerbaar swartwattelblaarmeel is vir diere, of hulle die voedingstowwe daarin kan absorbeer en watter impak hierdie alternatiewe bestanddeel in hulle afrondingsdiëte op vleisproduksie en -gehalte het.

Sy wys daarop dat die toevoeging van swartwattelblaarmeel tot teen 100 g/kg droë materiaal in afrondingsdiëte verteerbaarheid asook groei en karkaseienskappe verbeter sonder om die gehalte van lamsvleis nadelig te beїnvloed. Die bevindinge dui daarop dat die insluiting van swartwattelblaarmeel tot op 200 g/kg droë materiaal in afrondingsdiëte die vetsuursamestelling, sagtheid en raklewe van lamsvleis verbeter. Swartwattelblaarmeel wat in die warm en droë seisoen (somer) geoes is, het die mees gewenste voeding en antioksidantprofiele gehad onder die monsters wat getoets is.

Dit beteken dit is moontlik ՚n geskikte nutraseutiese (voedingsmedisinale) en bewaringsmiddel vir skaap- en bokboerdery, en vir vleisbewaring. Nutraseutiese middels word ingesluit by veevoer en hou gesondheidsvoordele vir die diere in. Dit help onder meer om siektes te voorkom en te behandel. Dr Uushona, oorspronklik van Namibië, beveel die swartwattelblaarmeel aan as ՚n veselbron vir herhouers en dat dit beskou moet word as iets wat waarde toevoeg deurdat dit vleisproduksie en -raklewe verbeter.

Sy beskou swartwattelblaarmeel as ՚n belowende en goedkoper bron van vesel met bioaktiewe verbindings wat as preserveermiddels kan dien, en wat nuwe kommersiële geleenthede aan die swartwattel-, voer- en vleisbedryf kan bied. In sy studie het dr Leo Mahachi die verwerking van Sericea lespedeza (armmanslusern’) vir wurmbeheer by lammers, sowel as vir vleisproduksie en -preservering bekyk. Sericea lespedeza (Lespedeza juncea var. sericea) is ՚n droogtebestande peulgewas wat goed aard in arm grond en in waterskaars streke.

Dr Mahachi, afkomstig van Zimbabwe, het hierdie peulgewas se voeding- en bioaktiewe eienskappe ondersoek en die potensiaal daarvan as ՚n volhoubare voerbestanddeel en vleispreserveermiddel in skaap- en bokboerdery getoon. Hy het ondersoek ingestel na die uitwerking van die voer in toenemende vlakke van hierdie peulgewas in die plek van lusern (Medicago sativa L.). Sy resultate wys dat Sericea lespedeza as ՚n goedkoper bron van voeding en bio-aktiewe fitochemikalieë gebruik kan word in plaas van lusern, een van die gebruiklike veselbronne in voerkraaldiëte. Dr Mahachi beveel aan dat hierdie peulgewas lusern tot op 187,5 g/kg droë materiaal in lamvoerkraaldiëte vervang om groeiprestasie en gehalte van vleis te handhaaf.

Hierdie peulgewas kan inwendige wurms onderdruk, diere se groei verbeter en die raklewe van vleis verleng. Sericea lespedeza kom meestal in Asië, Noord-Amerika, Oseanië (eilande in die Stille Oseaan) en Suider-Afrika voor, en is inheems in Australië, Sjina, Indië, Japan en Taiwan. In Suid-Afrika word dit op kommersiële plase vir weiding aangeplant. Dit kom ook onder meer voor langs paaie in die Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Dr Farouk Semwogerere, oorspronklik van Uganda, het op sy beurt die voedingstowwe en bioaktiewe fitochemikalieë van hennep-neweprodukte as moontlike voerbestanddele en preserveermiddels vir bokvleis ondersoek.

Hy het ՚n alternatief in vee-afrondingsdiëte ondersoek in sy studie, getiteld Voedingstowwe en fitochemikalieë in hennepsaad- (Cannabis sativa L.)-koek: biobeskikbaarheid en biodoeltreffendheid vir die verbetering van bokvleisproduksie en -gehalte. In Suid-Afrika, soos dit ook die geval is in ander waterskaars lande, is proteïenvoerbronne die hoof-beperkende faktor in skaap- en bokvoeding. Die algemeenste proteïenvoerbestanddeel vir voerkraalproduksie van bokvleis is sojaboonmeel. Navorsing oor nuwe en onderbenutte bronne van voer wat vleisproduksie verhoog en die raklewe van vleisprodukte verleng is belangrik vir volhoubare skaap- en bokboerdery.

Een alternatief vir konvensionele voerbronne is hennep-neweprodukte (dit wil sê saad, olie, oliesaadkoek, saaddoppies en blare). Die wettiging van hennepproduksie en toenemende aanvraag na hennepprodukte sal volgens hom na verwagting tot ՚n toename in die wêreldwye produksie van hennep en dié plant se neweprodukte lei. Van al die hennep-neweprodukte het hennep[1]saadkoek die hoogste potensiaal om as veevoer gebruik te word vanweë dié produk se hoё proteïen- en energie-inhoud.

Daarby bevat hennepsaadkoek ook bioaktiewe fitochemikalieë wat sojaboonmeel kan vervang. In hierdie studie is Kalahari Redbokke, een van die land se prominenste inheemse kommersiële bokrasse, diëte gevoer wat hennepsaadkoek en sojaboonmeel bevat. Gekastreerde bokke (vier tot vyf maande oud) in hierdie studie het een van vyf soorte voeding ontvang. Ná ՚n voedings proefneming van 42 dae is die bokke geslag en hulle vleisgehalte bepaal.

Dr Semwogerere het die uitwerking van die gebruik van hennepsaadkoek in plaas van sojaboonmeel in afrondingsdiëte op die opname van voedingstowwe, verteerbaarheid, en vleisproduksie en -gehalte ondersoek. Volgens sy bevindinge kan hennepsaadkoek by afrondingsdiëte tot op 100 g/kg droë materie ingesluit word om die verteerbaarheid van voedingstowwe, groeiprestasie, gesondheid, vlugtige geurprofiel en rakleeftyd van bokvleis te verbeter sonder om vleiskleur te beïnvloed. Die resultate wys dat hennepsaadkoek as ՚n alternatiewe proteïenbron in bokvleisproduksie gebruik kan word. Die bevindinge dui ook daarop dat hennepsaadkoek tot en met 100% van sojaboonmeel sou kon vervang in afrondingsdiëte sonder dat dit die produksie en gehalte van die bokvleis benadeel.

Hy beveel aan dat boere hennepsaadkoek as ՚n alternatiewe proteïen en bioaktiewe bron gebruik om bokvleis se produksie, gesondheidswaarde, gewenste vlugtigegeurprofiel en proteïen-raklewe te verbeter. Die prysstabilisering van hennepsaadkoek as bokvoer sou funksionele bokvleisprodukte met ՚n verlengde raklewe kon lewer wat boere in nismarkte kan bemark, het hy aangedui

Vir navrae kontak prof Cletos Mapiye, Departement Veekun[1]dige Wetenskappe by 021- 808-2640 of stuur ՚n e-pos na cmapiye@sun.ac.za

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0