Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 16th July 2025

Pannar ploeg terug met PowerCore™ basters by Val Boeredag

By 3 min read
534 words

WhatsApp Image 2025-07-10 at 12.07.54

Pannar se stalletjie by Val Boeredag was nie net gemik op die saaiboere wat die geleentheid besoek het nie, maar ook op die volgende geslag boere wat in die toekoms Pannar-klante gaan word. Die interaktiewe stalletjie was ‘n treffer onder oud en jonk.

Pannar het weer eens sy toewyding aan Suid-Afrikaanse mielieboere gewys as Platinum-borg van die Val Boeredag. Met ՚n uitnodigende stalletjie en heerlike koffie en koekies het Pannar boere verwelkom om kennis uit te ruil en insig te kry in hulle toonaangewende PowerCore™-wit- en geel-mielie-basters.

Volgens Joe Payne, Pannar se streeksbestuurder vir die Oostelike streek en Limpopo, is deelname aan dae soos Val Boeredag nie bloot ՚n blootstellingsgeleentheid nie, maar ՚n noodsaaklike manier om naby aan die boere te bly en werklik by hulle behoeftes betrokke te wees.

“Ons sien hierdie geleenthede as ՚n interaktiewe platform waar ons boere kan ontmoet en hulle eerstehands kan wys waarmee ons besig is,” sê hy.

PowerCore™ in die kollig

Die fokus van die dag was Pannar se PowerCore™ reeks, wat wit- en geel-mieliebasters met gevorderde genetiese weerstand en uitstekende opbrengspotensiaal bied. Hoewel dit nie ՚n nuwe bekendstelling was nie, beklemtoon Joe dat daar deurlopend vernuwende ontwikkeling in die genetika van hierdie basters plaasvind.

“Ons werk konstant daaraan om boere te voorsien van topklas produkte wat aangepas is vir die uitdagende plaaslike omstandighede,” verduidelik hy. Die PowerCore™-tegnologie is juis ontwikkel om boere se mieliegewasse te beskerm teen sommige van die grootste bedreigings in die landerye wat spesifieke insekplae en algemene onkruid insluit.

Pannar beskryf op sy webwerf die PowerCore™ tegnologie as ՚n unieke stapel van drie Bacillus thuringiensis (Bt) proteïene wat tesame ՚n breë spektrum van blaarvretende peste, soos die Afrika mieliestronkboorder (Busseola fusca) en Chilo-boorder (Chilo partellus), beheer. Dit word verder gekombineer met glifosaatverdraagsaamheid vir verbeterde onkruidbeheer, wat boere groter produksie-sekerheid en bestuursgemak bied.

Volgens Joe Payne bied Val Boeredag en soortgelyke byeenkomste ‘n uitstekende geleentheid vir Pannar om inligting met boere te kan deel en terug te gee aan die maatskappy se klantebasis. Daarom was Pannar ook ‘n Platinumborg vir die dag.

Grondige toetsing, bewese prestasie

“Boere is nie proefkonyne nie,” sê Joe. Dit is ՚n filosofie waarop Pannar sy produkontwikkeling grond. Elke kultivar wat hulle op die mark bring, word deeglik in plaaslike toestande getoets en geëvalueer voordat dit vrygestel word. Boere kan dus vertrou dat die saad reeds bewys het dat dit gehard, opbrengsgewend en siekteverdraagsaam is.

Die ontwikkeling van nuwe saad word deur Joe beskryf as die “hartklop” van die maatskappy. Pannar se planttelingsprogramme poog om altyd ՚n stap voor te bly en kultivars te ontwikkel wat spesifiek aangepas is vir die omstandighede waarin Suid-Afrikaanse boere boer. Belangrike teikeneienskappe sluit in hoë opbrengspotensiaal,
goeie agronomiese eienskappe en weerstand teen ՚n reeks uitdagings wat die gewasse kan bedreig.

Getrou aan hulle belofte

Pannar se deelname aan Val Boeredag het duidelik gewys dat hulle verbintenis aan die sukses van boere verder strek as net die voorsiening van saad. Deur hulle PowerCore™-reeks uit te lig en met boere in gesprek te tree oor die nuutste genetiese vooruitgang, bevestig hulle hulle rol as ՚n vennoot wat boere se winsgewendheid op die plaas help verseker. Met produkte wat beskerm teen peste, verbeterde onkruidbeheer bied en deeglik in plaaslike omstandighede getoets en bewys is, lewer Pannar steeds op hulle belofte: om die voortreflikste saad aan Suid-Afrikaanse boere te voorsien.

Vir meer inligting oor Pannar se PowerCore™ wit- en -geelmieliekultivars, besoek gerus www.pannar.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0