Categories: Resource managementPublished On: 5th September 2016

Orania CVO-Skool mik hoog

By 4 min read
801 words

Bus

Die boere in die Orania-omgewing is die hartklop van die CVO-skool. Johan de Klerk, Orania CVO se hoof, sê ook dat die boere ’n belangrike invloed op die skool het. Hierdie skool stuit vir niks. Hulle brei elke jaar meer uit en wil nog groter en beter raak.

Orania CVO is ’n private skool met ’n Christelik Gereformeerde etos vir Afrikanerkinders. “Die skool het van 2008 gegroei van 47 leerders tot die huidige 212. Die skool is in ’n groeifase saam met die groei van Orania. Die skool bedien ook die omliggende gebied vanaf Hopetown tot by Vanderkloof,” sê Loutjie Steyn, lid van die skool se mieliekomitee.

“Orania CVO het ’n vyfjaarvisie om geriewe te skep om te kan groei tot ’n streekskool in die Noord-Kaap met 500 leerders,” sê Loutjie. Dit is ’n groot uitdaging aangesien die skool geen staatsubsidie ontvang nie.

n Boer maak n plan

Met egte boerevindingrykheid het ’n paar van die omgewing se boere ’n mieliekomitee gestig en ’n mielieprojek geloods om geld vir die uitbreiding van die skool se sportgeriewe in te samel. Hulle hoofdoel met vanjaar se geldinsameling is om ses netbalbane op te rig.

Dit is vanjaar die tweede jaar wat die mielieprojek aangebied is en dit was weer ’n reuse sukses. Johan glo ook dat dit belangrik is vir kinders se ontwikkeling om hulle die geleentheid te bied om aan sport deel te neem. “As die ses netbalbane voltooi is, gaan ons met drie rugbyvelde en ’n krieketblad voort, en daarna ’n klubhuis,” sê Loutjie. “Die plan is om die netbalbane so ver as moontlik te voltooi in die jaar wat kom. Verlede jaar se projek het R300 000 opgelewer en vanjaar s’n R750 000. Ons is baie dankbaar.”

Boere wat deelneem skryf 0,5 ha of 1 ha in en skenk dan die opbrengs wat hulle op daardie lap mielies behaal aan die skool as inskrywingsgeld. Die boer dra die insetkoste self en die boere met die hoogste opbrengs wen pryse.

Vanjaar se wenners vir die halfhektaarinskrywings is Frans Wiid (tweedeprys) met 7,625 ton en Hannes Bruwer van Genade Boerdery (eerste prys) met 8,145 ton. Die eenhektaardeelnemers se tweede prys is gedeel deur Reghoekboerdery en Frik Steyn wat albei 16,520 ton/ha gelewer het. Die wenner wat die hoogste opbrengs gelewer het, is Deon Joubert met 16,686 ton/ha.

Orania CVO maak dit vir die boere die moeite werd om deel te neem, want die wennerboer kry ’n Massey Ferguson 35X-trekker ter waarde van R150 000.

“Ons gaan die Mielieprojek ’n jaarlikse instelling maak. Ons probeer die kompetisie uitbrei en groter maak,” sê Loutjie.

n Skool maak n plan

Orania CVO doen elke jaar iets om geld in te samel. “Dis maar om die somme te laat klop,” sê Loutjie. “Verlede jaar het ons Steve Hofmeyr laat kom vir ’n optrede op die dorpsrugbyveld. Dit is deur bykans 2 000 mense bygewoon.”

Die CVO-skool samel nie net geld vir hulleself in nie, maar gee ook terug aan die boeregemeenskap. Loutjie vertel: “Ons het ook vanjaar aan ons mieliewedstryd ’n projek gekoppel waar ons iets kon teruggee. Ons het 10% van ons mielieopbrengs ten bate van droogtehulp geskenk aan Agri-Noord-Kaap en Vrystaat Landbou. Ons kon vir elkeen R40 000 gee. Ons beoog om volgende jaar ook aan ander instansies terug te gee, ons sal hulle identifiseer voor ons kompetisie vir 2017 afskop.”

By die spoggeleentheid waar die wenners aangewys is, het ’n bekende in die landboubedryf, prof Herman van Schalkwyk, gepraat oor die vooruitskouing van die faktore wat ’n impak op landbou het. Hy glo boere moet positief bly, maar die landbousektor bly onder druk en landbou is nie vir sissies nie.

Tydens die geleentheid het Loutjie ook erkenning aan die mielieprojek se borge gegee: “Ons steun baie sterk op ons borge vir hulle bydrae om die pryse moontlik te maak. Die borge was bekendes in die landboubedryf: Kynoch (hoofborg), Monsanto, PANNAR, Pioneer, Syngenta en InteliGro, Barloworld, GWK, OVK en daar was verskeie kontantskenkers.”

Tegniese sentrum

Orania CVO het ook die afgelope twee jaar ’n tegniese sentrum van R7-miljoen opgerig om tegniese vakke aan te bied en ook naskoolse opleiding te verskaf in die bou- en konstruksiebedryf waaraan Orania ’n groot behoefte het. Vakke wat aangebied sal word, is tegniese wetenskap, ingenieursgrafika- en ontwerp, sweis- en metaalwerk, konstruksie en elektries.

“Die ouditorium wat deel van die tegniese sentrum vorm, sal as satellietkampus dien wat deur middel van afstandsonderrig die grade sal kan aanbied waarvoor Akademia reeds geakkrediteer is. Die sentrum word op 28 Oktober 2016 ingewy. Akademia staan los van die skool, maar sal die sentrum se geriewe gebruik.

Vir meer inligting oor die CVO-skool of oor die mieliewedstryd, kontak die skool by 053-207-0177.

 

Lede van Orania CVO se mielieprojekreëlingskomitee saam met die wenner en die trekker wat hy gewen het: Cobus Nel, Riaan de Wet, Deon Joubert (wenner van die mielieprojek), Danie van Wyk en Loutjie Steyn.

Lede van Orania CVO se mielieprojekreëlingskomitee saam met die wenner en die trekker wat hy gewen het: Cobus Nel, Riaan de Wet, Deon Joubert (wenner van die mielieprojek), Danie van Wyk en Loutjie Steyn.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0