Ontmoet die President van die Tuli Beestelersgenootskap van SA

20220306_182703
“Om ‘n suksesvolle beesboer te kan wees glo ek eerstens, moet jy van die ras hou waarmee jy boer, maw jy moet lief wees vir jou beeste. Hulle moet vir jou mooi wees. Dit moet vir jou lekker wees om met hulle te werk. Dan moet die beeste die beskikbare plantegroei op jou plaas optimaal, teen die minimum insetkoste in ‘n bemarkbare produk kan omsit, hetsy ‘n speenkalf of smaaklike rooivleis. Die Tuli doen dit vir my,” so sê Ben Raath, President van die Tuli Beestelersgenootskap in SA.
Hy is op 31 Mei 1970 gebore en getoë op die plaas Donkerhoek in die Britstown-distrik, ‘n klein Karoo dorpie in die Noord-Kaap.
“Nadat ek my skoolloopbaan in Britstown voltooi het, het ek my Landboudiploma by Grootfontein Landboukollege verwerf. Daarna het ek my diensplig voltooi en wel by 1 Spesiale Diensbatteljon in Bloemfontein. Voordat ek in 1992 gaan boer het, het ek ‘n ses maande meganiese kursus in Bloemfontein voltooi. Ek is in 1994 met Sarina van Zyl, ‘n nooi van Upington getroud. Uit die huwelik is Bennie, Janke en Cara gebore. Bennie is tans besig met sy klerkskap by Mazars, Kaapstad. Janke is ‘n Grondslag-Fase onderwyseres by ons buurdorp, Prieska. Cara is tans besig met haar B-rek graad op die Puk,” sê Ben.
Meer oor die Tuli-ras:
Die Tuli is ‘n suiwer inheemse ras met sy oorsprong in die meer Suid-Westelike dele van Zimbabwe. DNS toetse het bewys dat die Tswana tipe beeste waaruit die Tuli afkomstig is, reeds 2 000 jaar gelede in Zimbabwe voorgekom het. Die Tuli is ‘n Sanga, maw die skof is meer na voor op die nek geplaas. Sangas soos die Tuli word weer in hul eie groep as Bos Taurus Africanus geklassifiseer.
In die vroeë 1940’s het Len Harvey, ‘n Suid-Afrikaans gebore lanbouadviseur, die destydse regering van Suid Rhodesië, oortuig om van die Tswana- tipe beeste by die plaaslike bevolking aan te koop en met ‘n teelprogram te begin. Volgens hom was daar ‘n geel tipe Sanga, te oordeel aan hul konstante goeie kondisie, wat beter aangepas was by die omgewing. Daar is toe met ‘n veeteeltprogram op ‘n plaas aan die Guyuspruit, ‘n sytak van dieTulirivier met hierdie beeste begin. Vandaar die naam “Tuli”. In 1955 is die Tuli as ‘n inheemse Rhodesiese Ras geregistreer.
Die eerste Tuli’s het gedurende 1976 Suid –Afrika binnegekom. Die Suid–Afrikaanse Tuli Beestelersgenootskap is gedurende 1995 gestig, wat voorafgegaan was deur ‘n Tuli Klub. Vandag is daar 45 telers, met nagenoeg 8 000 geregistreerde diere.
Ben het gedurende 2008 sy eerste Tuli beeste aangekoop en het die Donkerhoek Tuli stoet geregistreer, wat na die plaasnaam verwys. “Die agtergrond van ons logo is ‘n son, wat lewe spreek oor die naam Donkerhoek,” sê hy.

“Begin 2008 het ek Dorper ramme by ‘n vriend, Rikus van der Merwe in die Britstown-distrik gaan koop. Op daardie stadium het ek kommersieël met ‘n ander beesras geboer. Die speenkalwers was vir my te lig en het dit met hom bespreek. Op daardie stadium het Rikus ‘n Tuli stoet gehad en my sy beeste gaan wys. Ek het dadelik verlief geraak op die Tuli-ras. Dit was die mooiste beeste wat ek nog ooit gesien het. Dit was droog, die koeie was in goeie kondisie en elkeen het boonop ‘n kalf te voet gehad. Hy het vir my ‘n paar ou joernale gegee. Daardie aand het ek tot laat die nag gelê en lees. Dit wat ek gelees het, het ooreengestem met wat ek in die praktyk gesien het,” voeg hy by.
Kerneienskappe van die ras:
- Hoogs vrugbaar
- Nagenoeg 90% van die ras is poenskop
- Maklike kalwings
- Perfekte uiers en spene, met baie melk om ‘n goeie speenkalf te verseker
- Goeie natuurlike weerstand teen bosluisverwante siektes en parasiete
- Die vermoë om te floreer onder ekstensiewe toestande in verskeie habitatte
- Uitstekende kruisteling met die Bos Indicus en die tradisionele Bos Taurus
- Mediumraam met gladde haar
- Rustige temperament
- Langlewend
- Uitstekende marmering en vleiskwaliteit
Ben dien nou al sy 7de jaar as president van die Tuli Beestelersgenootskap en sê altyd hulle moet aanhou die ras verbeter, maar nie verander nie. “Dit is vir my krities belangrik. Ons durf nie die ras se unieke Sanga eienskappe soos maklike kalwings, vrugbaarheid, gehardheid, aanpasbaarheid ens te verloor deur eienskappe soos te veel groei na te jaag nie!
Ben noem ook dat SELEKSIE is een van die belangrikste en gevaarlikste “tools” wat elke teler tot sy beskikking het en moet oordeelkundig mee te werk gegaan word. Balans is die goue middeweg.
“Uit die aard van die saak wil ons leiers in die beesbedryf wees, deur aan te hou ons rasstandaarde so te verbeter, dat die Tuli DIE funksionele- en winsgewende ras van keuse, binne Suid-Afrika sal wees.
“Ons is tans besig met ‘n projek met NERPO (Nasional Emergent Red Meat Producers’ Orginisation), wat alreeds in beginsel goedgekeur is. Daarmee wil ons “nuwe boere” oplig en volle onafhanklike, Tuli -kommersiële/stoet boere maak, deur ‘n volledige program van mentorskap en ondersteuning. Daardeur wil ons ook terugploeg in die gemeenskap. Die Tuli-ras het al die karaktereienskappe om hierdie doel te bereik,” sê Ben.
Wat die genootskap beoog vir die volgende 2 jaar om die ras te bevorder?
Ons wil ‘n groot sukses van die NERPO projek maak. Boeredae/inligtingsdae sal bykans in elke provinsie aangebied word, die ras nog meer aan kommersiële boere bekend te stel en nog “nuwe” boere te identifiseer om in ons projek op te neem. “Ons glo dat hierdie projek ‘n groot inspuiting vir ons ras en sy lede gaan wees. Verder het ons alreeds nagenoeg 4000 diere vir Genomiese ontleding geïdentifiseer, om ons huidige Genomiese profiel verder uit te brei en sodoende meer akkurate teelwaardes vir ons ras saam te stel,” sê Ben.
Hoe die genootskap beplan om kommersiële beesboere meer te betrek by die genootskap en sy telers volgens Ben:
“Stoettelers se grootste mark, is die kommersiële boer. Daarom is dit ‘n goeie vraag! Tydens die laaste groot voorafgaande droogte het ek altyd gesê, ons moet dit nie net as negatief ervaar nie. Ons moet ook die positiewe daarin raaksien en tot ons voordeel gebruik. Die Tuli- ras, met sy unieke eienskappe het homself bemark. Talle kommersiële boere het na die droogte vertel hoe hul Tuli koeie, ander rasse uitpresteer het. Die kommersiële boer se stem dra die meeste gewig en boere praat onder mekaar. Die vraag tans na Tuli- diere spreek vanself. Dit is soos ons slagspreek sê, dis ‘n vrugbare, winsgewende veldbees!
“Verder is sigbaarheid belangrik, maar kos ongelukkig geld. Behalwe die normale bemarking, probeer ons om aan alle groot Landboutentoonstellings, soos bv. Nampo deel te neem. Soos genoem, gaan boeredae/inligtingsdae ook gehou word. Daar rus ‘n groot taak by ons as telers, Genootskappe en SA Stamboek om telers op te voed oor die belangrikheid met die gebruik van Prestasie getoetste bulle. Deur net bloot kommersiële bulle aan te koop om jou kudde mee te bevorder, is net so goed soos om ‘n skoot in die donker af te vuur.”
Kommersiële boere kan ook by die Genootskap teen ‘n laer tarief as lid aansluit, om meer data en inligting te bekom. Hul kan ook by SA Stamboek as kommersiële lid registreer, hul kuddes se data, direk op die Logix stelsel laai en sodoende hul vordering te meet. Boerdery is wetenskaplik, daarom is dit belangrik dat beskikbare tegnologië gebruik moet word, volhoubaar te kan boer.
“Ons het ook ‘n aktiewe Tuli stoet- en kommersiële whatsapp groep, waar diere/veilings adverteer en vrae gevra kan word. Verder het ons ook die nuwe Logix katalogus geïmplementeer wat meer toeganklik deur kommersiële boere gevind word. Ons tegniese adviseur, Mnr Charl van Rooyen doen ook graag plaasbesoeke, ons kliënte van advies te dien, asook behulpsaam te wees met die aankoop van die regte bulle vir kuddes,” sê Ben.
Hoe kan nuwe telers deel word van die genootskap?
Om ‘n teler te word is ‘n baie groot besluit en verantwoordelikheid. Dit is volgens my ‘n spesialis beroep. Ek sê altyd ek sien ‘n stoetteler soos ‘n mediese dokter wat besluit om te spesialiseer. Dit is net ‘n trappie hoër. Ek stel voor voornemende telers moet ‘n bestaande teler binne sy/haar omgewing besoek en hom/haarself vergewis met alle protokolle wat nagevolg moet word, ‘n volwaardige stoetteler te kan wees. Besigtig diere en doen deeglike navorsing oor die ras. Besoek gerus die Genootskap se webtuiste by www.tulicattle.co.za vir meer inligting, asook ‘n paar telers se webtuistes/ faceboek blaaie. Dan het ons ook soos genoem ‘n tegniese adviseur, mnr Charl van Rooyen (082-575-6370) in die veld wat aangestel is om hierdie diens te lewer en voornemende telers by te staan en van advies te dien. Ons as telers help ook graag.
Die Tuli’s se sekretaresse, Me. Anna-Marie Viljoen kan gerus gekontak word vir meer inligting by 051-410-0958, e-pos: annamarie@stemma.co.za of Ben Raath 083-468-6176, braath@isat.co.za
Besoek gerus ook Ben se webtuiste by www.donkerhoektulis.co.za vir die ware weergawe hoekom Ben werklik met Tulis boer onder ”My getuienis”.