Ontmoet die President van die Suffolk Skaaptelersgenootskap

suffolk IMG-20221030-WA0009
Derik Strauss
Derik Strauss, President van die Suffolk Skaaptelersgenootskap is gebore in Schweizer-Reneke, het daar skoolgegaan en daarna drie jaar rugby gespeel vir die Pukke. Hy het in 2008 plaas toe gegaan en saam met sy pa begin boer.
Die Suffolk is ñ vleisras wat geteel is uit ñ Southdown ram wat met ñ Norfolk ooi gekruis was en oorspronklik afkomstig is uit Europa.
“Ek het in 2014 my eerste ooie laat keur vir stoet, nadat ek baie gesukkel het om stoetooie te bekom en die wat wel in mark gekom het bitter duur was. Dit was nogal moeilik om ñ naam te kon kry vir my stoet oor baie van die name alreeds gebruik was by Stamboek, maar gelukkig kon ek die naam “Topchop” gebruik. Ek dink dit is presies is wat jy kry uit die ras en dit die beste en kortste beskryf,” sê Derik.
“Ek het paar beeste gehad toe ek nog baie klein was wat ek by my pa en oupas gekry het, maar die kalwers het my pa altyd verkoop sonder dat ek geweet het,” voeg hy by.
Toe besluit Derik op 15-jarige ouderdom om sy beeste aan sy pa te verkoop en skape aan te koop in hul plek,sodat hy ñ boerdery kan begin wat net syne is en waarvan hy maklik die verkope en aanteel kan kontroleer.
“Ek het redelik iets van allles gehad voor ek op Vleismerinos besluit het en lank daarmee geboer het. En op ñ dag het ek ñ Suffolkram gesien by my oom, wat dadelik my oog gevang het en vir my verskriklik mooi was,” sê Derik.
Hy het nie lank gewag nie en ñ Suffolkram aangeskaf en op sy SAVM-ooie gebruik.
“Die resultate was baie indrukwekkend met die goeie groei en mooi speenlammers wat ek gekry het uit die kruising,” sê hy.
Na ‘n paar jaar se ramme wat hy aangekoop het, het ñ teler aan hom gekarring om ‘n stoetboer te word, “maar ek wou nie dadelik byt aan die stoetding nie.”
“Ek het op ñ stadium redelik ooitjies gehad wat begin suiwer Suffolk raak a.g.v jare se teling en seleksie en so het ek besluit om die proses aan die gang te kry,want daar was bitter min telers op daardie stadium en geen boer naby my wat met Suffolks geboer het nie,” sê hy.
Kenmerke van die Suffolk ras:
- Die Suffolk is ñ baie goeie groeier in intensiewe omstandighede soos bv. voerkrale wat hom baie gesog onder kopers maak en hul selfs premies laat betaal.
- Suffolks is baie vrugbaar op ñ jong ouderdom reeds en is meerlinge volop, afhangende van jou bestuur.
- Suffolkooie beskik oor baie goeie moedereienskappe en melkproduksie.
- Die vleis is baie sappig en beskik oor ñ unieke smaak wat jy nie sommer by ñ ander ras sal vind nie.
- Suffolk lammers is maklik uitkenbaar waar ramme gebruik word in kruisteelprogramme dmv die lammers se bont gesigte of pote-veral as dit by wolboere kom en hul nie kruislammers wil terughou en sodoende hul wolkwaliteit beïnvloed nie.
“Ons sal graag DIE skaapras wil word wat op elke skaapboer se plaas voorkom en die ras wat elke restaurant en slaghuis se voorkeurras is as dit by skaapvleis kom. Glo ons sal kursusse meer gereeld probeer aanbied om belangstellendes en nuwe telers meer in te lig oor die ras, asook ALLE skoue en boeredae by te woon waar moontlik.
Belangstellendes kan hulle Facebookblad: Suffolk Breeders SA of webblad http://www.suffolk.co.za besoek of ‘n e-pos stuur aan sonja@studbook.co.za vir meer inligting.