Ontmoet die President van die SA Vleismerino Telersgenootskap

Manie Lombard
Manie Lombard
Manie Lombard, President van die SA Vleismerino Telersgenootskap het grootgeword in die distrik Oranjeville, neffens die Vaaldam, waar hy steeds vandag boer.
“My skoolloopbaan was aan Hoërskool Wilgerivier, Frankfort en daarna was ek ‘n Kovsie van 1979 tot 1982. Na militêre diensplig was ek werksaam by die Hoëveldstreek Dept Landbou Potchefstroom en moes ook deeltyds verder studeer. Sedert Augustus 1987 het ek die voorreg gehad om te kon inskakel by die boerdery saam met my pa,” sê Manie.
Sy ouers, Boet en Annetjie, het sedert 1956 in die distrik geboer. Die kleinvee was een gedeelte van die boerdery. Reeds in die laat 1960’s het sy pa oorgeslaan na die suiwer Duitse Merino. “Die redes daarvoor was goeie moeders, melkproduksie, ‘n mooi bouvorm, en die besondere groei van die lammers,” voeg Manie by.
In 1977 het hy aangesluit by die Genootskap. Die eerste 10 geregistreerde ooitjies en ‘n ram is gekoop van Hennie Jacobs van Nigel. Die Stelena stoet is geregistreer – ‘n samestelling van sy ouers se doopname: Stephanus en Helena.
“Ek het reeds as skoolseun ‘n passie ontwikkel vir die skape en teling, en was reeds van toe af betrokke daarby,” sê Manie.
Die eerste Duitse Merino’s is in 1932 ingevoer vanaf Duitsland na Elsenburg. In 1946 is ‘n Duitse Merino Vleisskaap Telersvereniging gestig met 7 lede. In 1951 het die Duitse Merino die eerste skaapras geword wat by Stamboek geaffilieer is. Op 1 Februarie 1971 is die ras se naam verander na die SA Vleismerino. Die ras is dus reeds 90 jaar in Suid-Afrika en die SA Vleismerino naam reeds 50 jaar oud.
Gedurende sy termyn van al reeds 13 jaar het ek kosbare vriendskappe gesmee rondom die SA Vleismerino. Hy het gedien saam met raadslede wat onbaatsugtig bydrae gelewer het in belang van die ras.
“Ons is ook bevoorreg om ‘n rasdirekteur by name mnr Jan Vosloo te hê wat ook ‘n passie het vir ons ras,” sê Manie.
Dit gaan goed met die SA Vleismerino. Dit is danksy harde werk en weldeurdagte besluite ten opsigte van hulle teelbeleid en al hulle lede in wat deel vorm van rigting gewende besluite.
Die afgelope jare is die volgende beginsels gevestig volgens Manie: (Dit kan beskou word as ‘n beleidsraamwerk wat bepalend was vir sukses en ook vir die toekoms ‘n fondament sal vorm.)
- Ons teel die tipe skaap wat die SA Vleismerino so gewild gemaak het. ‘n Skaap met sterk konstitusie wat wyd aanpasbaar is en vleis, wol en lammers produseer onder intensiewe- en ekstensiewe toestande.
- Teelwaardes as seleksie hulpmiddel is so geformuleer dat die klem lê op produksie, reproduksie en langlewendheid.
- Ons verskaf vrugbare fikse ramme aan die kommersiële bedryf.
- Die SA Vleismerino dra suiwer wit wol sonder kemp. Die kwaliteit van wol word deur seleksie en keuring gehandhaaf. Dit maak die ras by uitstek ‘n dubbeldoel ras. Kruisteling met wolrasse besoedel nie die skeersel nie.
“Ons lede is deur die land ingeskakel by klubs binne streke. Die klubs doen belangrike werk met byeenkomste, inligtingsdae en skoue. Vir jong- en voornemende telers is dit die aangewese plek om in te skakel by die Genootskap. Dit bied die geleentheid om diere te vergelyk, vriende te maak, en te leer by ander telers,” voeg Manie by.
Hy roem graag op die mooi gesindheid wat heers tussen die lede van die Genootskap dwarsoor die land. Die welstand van die ras is vir almal van groter belang as die belang van enige individu. Hulle lede deel graag inligting en wenke en gun mekaar sukses.
Enige belangstellendes is welkom om die Kantoor van die Genootskap te kontak. Dit is geleë in Fleurdal, Bloemfontein met kontaknommer 051-522-6827/8 of e-pos savmdata@yebo.co.za of sammsheep@yebo.co.za