Ocmis-spuite red oes in die droogte

ocmis 194
“As dit nie vir die spuite was nie, het ek niks gehad nie. Dan was ons al van die plaas af,” vertel Gert Swanepoel van Schweizer-Reneke. Hy en sy vrou, Alta, moes al ‘n paar moeilike besluite neem in die droogte.Al die beeste is verkoop, maar die dorpers bly op die plaas, “want hulle eet enige ding, tot vaalbos.” Met die ondersteuning van twee Ocmis-spuite van Irrigation Unlimited en boorgatwater kon Gert-hulle darem grondbone aanplant. Hy sê hy moes eintlik al vroeër die spuite gekoop het, want dan was hulle nou verder.
Hulle het in Desember in droë grond geplant en toe begin natmaak. Gelukkig het daar darem op 28 Desember 22 mm reën geval, wat baie gehelp het.
Die twee spuite, ‘n Ocmis 100/300 en ‘n Ocmis 75/220 word regstreeks met boorgatwater gevoer. By die boorgat lewer die monopomp tusen 5,2 en 5,4 bar drukking. Elke spuit benodig so 4,4 bar om doeltreffend te werk.
Afhangend van hoe die spuite gestel word, benat dit ‘n sirkel met ‘n straal van ongeveer 42 meter. Die koppelpunte aan die moederlyn is 60 meter uitmekaar, wat beteken dat daar goeie oorvleueling plaasvind vir deeglike benatting.
Die moederlyn vir die groot spuit loop in die middel van die land, sodat die Ocmis 300 meter daarvandaan weerskante toe kan besproei. Dit neem so tien uur om die strook na die een kant toe deeglik nat te maak en dan moet die spuit net gedraai word om die ander kant te besproei.
Elke 22 uur word die Ocmis by ‘n nuwe punt staangemaak. Die verskuiwing is baie maklik. “Dit is ‘n eenmanwerk,” sê Chris. Hy gebruik ‘n trekker om die spuit te skuif en ook om die karretjie met die klapspuit op uit te trek na die punt van die land toe. Die rede vir die trekker is dat die pyp nie teen meer as 3,5 km per uur afgerol moet word nie en die bakkie wil nie so stadig loop nie.
Chris het ook al ‘n spilpunt op die plaas gebruik en hy sê die selfaangedrewe klapspuite werk baie beter op sy plaas, want dit gebruik minder water om die eenheid te laat aandryf, is meer doeltreffend vir sy opset en daar is nou nie meer uitvalhoeke nie.
“Ek besproei nou 40 hektaar per week. Met die spilpunt kon ek net 22 hektaar per week besproei en die aankoopprys was amper dubbeld,” vertel hy.
Met ProAgri se besoek op die plaas het die wind baie sterk gewaai en Chris het die spuit net vir demonstrasie aan die gang gesit. Selfs in die sterk wind is die grond deeglik benat, hoewel die straal nie so ver gereik het as in normale omstandighede nie.
Hy sê: “Dit lyk mos vreeslik mooi as ‘n mens ‘n spilpunt aanskakel en die druppels gooi so ‘n reënboogmis, maar as die wind hier oor ons vlaktes begin waai, moet jy hom dadelik stop, want die fyn druppels waai weg.”
Chris het die Ocmis-spuite ontdek toe Kotie Botha van Kotkla Waters op Vryburg ‘n demonstrasie op ‘n buurplaas gehou het. Hy was dadelik beïndruk met die wye keuse van verstellings om by verskillende omstandighede aan te pas, soos die spoed waarteen die spuit beweeg wat die volume water bepaal, die spuitstukgrootte, die druppelgrootte en die spuithoek of straallengte.
Hy sê Kotie en die manne van Irrigation Unlimited het hom mooi gehelp met die beplanning van sy waterpyplyne en om die spuite reg in te stel en hy karring nie te veel met die verstellings nie.
“Ek weet Kotie is net hier om die draai by Vryburg as ek iets nodig het, maar tot dusver loop alles nog baie mooi. Ons gaan darem ‘n oes hê so in die droogte en ons volgende projek is ‘n dam wat ons kan volhou vir besproeiing.”
Vind uit hoe Ocmis se spuite jou kan help. Skakel Tobie van den Heever van Irrigation Unlimited by 082-658-6054 of 012-736-2121 of e-pos tobie@iunlimited.co.za. In Vryburg se wêreld is Kotie Botha van Kotkla Waters jou man. Kontak hom by 082-684-2233, 053-927-0326 of kotklawatersvryburg@gmail.com.

