NWK se gholfdag lewer R320 000 vir twee ouetehuise op

Elmarie van der Merwe
Elmarie van der Merwe, bestuurder van Japie Kritzenger-tehuis vir bejaardes in Bloemhof, ontvang ʼn denkbeeldige tjek van R160 000 van Pieter Kleingeld, groephoof- uitvoerende beampte van NWK.
Een van die twee ouetehuise wat as begunstigdes van NWK se Grip4Charity-gholfdag van 2024 geïdentifiseer is, gaan die opbrengste gebruik om die tehuis se koelkamer wat in November onklaar geraak het, te vervang.
Verteenwoordigers van Japie Kritzenger-tehuis vir bejaardes in Bloemhof, asook die Silwerjare-tehuis vir bejaardes in Schweizer-Reneke, het Dinsdag (25 Maart 2025) elk ʼn denkbeeldige tjek van R160 000 ontvang nadat R320 000 met dié jaarlikse gholfdag van NWK ingesamel is.
Die geld word binnekort aan dié tehuise betaal. Die geleentheid is op 12 September by Pecanwood-gholflandgoed by Hartbeespoortdam aangebied. NWK se verskaffers skryf spanne van vier spelers in en plekke word vinnig opgeraap. By die aand se geselligheid word wyn opgeveil waarvan die opbrengste ook aan die begunstigdes, wat vooraf geïdentifiseer is, geskenk word.
“NWK het 19 jaar gelede ʼn visie gehad om terug te gee aan gemeenskappe. Hoewel verskaffers met die gholfdag bydraes maak, skep dit ook ʼn geleentheid om hulle te bedank vir hulle ondersteuning,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie, by die tjekoorhandigingsgeleentheid by NWK se hoofkantoor, gesê.
Daar is sedert die gholfdag se ontstaan R3 092 080 ingesamel en aan 35 organisasies geskenk. Elmarie van der Merwe, bestuurder van Japie Kritzenger, was oorstelpt toe sy sien dat hulle R160 000 ontvang.
“As jy ʼn nie-winsgewende organisasie is soos ons wat grootliks afhanklik is van die staat vir geld, word elke skenking, selfs ʼn pakkie sout, waardeer.
“In tye wanneer die plaaslike regering sommer besluit om subsidies te staak, weet julle dalk nie wat ʼn skenking van hierdie omvang beteken nie. ʼn Mens se hart wil oorloop van emosie.”
Sy het NWK en sy verskaffers namens die sowat 100 inwoners van die tehuis bedank. “Dit is die antwoord op vele gebede.”

Nico Killian, finansiële bestuurder by Silwerjare-ouetehuis in Schweizer-Reneke, ontvang ʼn denkbeeldige tjek van R160 000 van Pieter Kleingeld, groephoof- uitvoerende beampte van NWK.
Ook Nico Killian, finansiële bestuurder van Silwerjare, het NWK bedank vir die skenking. “Ons is baie trots op NWK – ons oudste landboumaatskappy wat ʼn groot bydrae lewer – nie net in ons area nie, maar die hele Noordwes.”
NWK het Silwerjare ook vroeër met ʼn sonkragstelsel bygestaan en Nico het bygevoeg dat hulle nou gemoedsrus het dat inwoners se suurstofmasjiene tydens kragonderbrekings sal aanhou werk en dat dit tot ʼn algehele besparing van elektrisiteit lei.
Die ouetehuis se industriële stoof begin probleme gee en daar is ʼn groot behoefte aan gemakstoele vir inwoners. Dit is nou danksy die skenking van NWK, ʼn moontlikheid. Vanjaar se Grip4Charity-gholfdag word vir 16 September beplan.
Bron: NWK