Categories: NuusPublished On: 13th April 2018

Nuwe VL Jongboer van die Jaar 2018

By 2 min read
442 words

Foto 2

Net om ’n finalis in die Vrystaat Landbou (VL) Jongboer van die Jaar 2018 kompetisie te wees, wys reeds jy maak ’n verskil in landbou en dít is vir hom lekker. Só het Nelius Ferreira gesê nadat hy op 12 April 2018 by ’n glasngeleentheid in Bloemfontein as die 22ste wenner van die kompetisie, in samewerking met Standard Bank, aangewys is.

Volgens Ferreira (37), van die plaas Grootdraai naby Harrismith, was dit ’n voorreg om saam met knap jong boere soos Hendrik Theron, Reece Dedwith en Wessel Hattingh, die ander finaliste, die verhoog te deel.

“Ek is werklik oorweldig. Ek is so besig in ons eie besigheid en dan kom só ’n ding soos die kompetisie oor jou pad en dan sien jy wat doen ander ouens. Dan dink jy: Jislaaik, hier is goeie kandidate. En ek is seker daar is nog baie daar buite.”

Ferreira stap onder meer weg met ’n oorsese reis danksy Case IH/Northmec en sal ook outomaties aan die Toyota Agri SA Nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem.

Nelius Ferreira

Nelius Ferreira en sy vrou, Jomarli, nadat hy as wenner aangekondig is. Foto: 3’kie’s Fotografie

Volgens prof Pieter Fourie, hoof van die Department van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en sameroeper van die beoordeelaarspaneel, was Ferreira bestendig goed in al die afdelings wat beoordeel is.

“Nelius was eenvoudig baie sterk, veral wat die produksie-afdeling betref,” het hy gesê. “Die absolute presisie waarmee hy sy boerdery bestuur is vir ons ongelooflik. Hy is ’n waardige wenner.”

Boet Wilken, Voorsitter van VL se Jongboer-komitee en ’n beoordelaar, meen die beoordelaars kon nie vir Ferreira enige raad gee nie. “Alles wat Nelius doen, doen hy dié beste,” het hy gesê.

Ferreira, wat al op die Eeram-boerevereniging se bestuur gedien het en Voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie in die Vrystaat is, is ondanks al die landbou-uitdagings positief en trots om ’n jong boer in die Vrystaat te wees.

Die Bonsmara-boer, wat onder meer verantwoordelik is vir die stoet en kommersiële Bonsmara-kuddes, appels en voerkraal, boer reeds 15 jaar as deel van ’n familiebesigheid.

“Die afgelope dag tydens die VL Jongboer-konferensie (wat ook op 12 April plaasgevind het) toe ek met ander jongboere gepraat het, het ek nie met een ou gepraat wat nie ’n plan gehad het nie,” het hy gesê. “Hulle het planne en is positief. Hier is ’n klomp ongelooflike jong ouens in die Vrystaat en ek reken in Suid-Afrika ook.”

Bron: Vrystaat Landbou

Nelius Ferreira en sy vrou, Jomarli. Foto: 3’kie’s Fotografie

Die finaliste in 2018 se Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar 2018 kompetisie is van Hendrik Theron, Wessel Hattingh, Nelius Ferreira en Reece Dedwith. Foto: 3’kie’s Fotografie

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0