Categories: Artikels, WielePublished On: 4th June 2026

Nuwe Toyota Land Cruiser FJ bekendgestel: Oulik en bekwaam

By 6 min read
1136 words

10b5be9c-6aed-4f4e-b03c-35393951c73a

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het pas die splinternuwe Toyota Land Cruiser FJ plaaslik bekendgestel en ons was daar.

Die kompakte nuweling bekend as die Land Cruiser FJ, fokus op avontuurgerigte veldry vir ‘n nuwe generasie en moenie verwar word met die FJ Cruiser van ‘n paar jaar gelede nie. Die heel nuwe Land Cruiser FJ wat aansluit by die bestaande Land Cruiser 300, Land Cruiser Prado en Land Cruiser 70-reeks in die Toyota stal, is ontwerp en ontwikkel met die filosofie van  “Vryheid en Vreugde” as konsep.

Ontwerp

Die Toyota Land Cruiser-nalatenskap is in 1951 geloods met die eerste BJ-model en het oor die jare gegroei tot een van die mees gerespekteerde voertuigmodelreekse ter wereld.

Die nuwe Land Cruiser FJ is met dieselfde filosofie as kern ontwerp ten einde ‘n nuwe generasie kopers ook die gees van vryheid te laat ervaar in die soeke na avonture in die buitelug en veld  en pas die nuweling dan ook perfek in by die res van Toyota se ikoniese en hoogs bekwame veldrymodelle.

Juis daarom is die Land Cruiser FJ gebou op Toyota se beproefde leerraamplatform en IMV argitektuur wat ook diens doen in ander outentieke Land Cruiser-modelle. Die onderstel en platform is omvattend verfyn ten einde ook dieselfde betroubaarheid, sterkte en rigiditeit te kan bied wanneer veeleisende uitdagings in die veld aangedurf word. Vir die doel is ondermeer ook ekstra struktuele versterking en mildelike gebruik van hoësterkte staal ingespan. Verder dra die kort asafstand van 2580mm ook by tot beter stabiliteit en rygerief.

Die nuwe FJ is 4 575 mm lan en 1 855 mm breed. In vergelyking met die Land Cruiser Prado is die nuwe FJ  350mm korter en 125mm smaller. Die asafstand  is 270mm korter as die van die Prado. Die resultaat is ‘n draaisirkel van 5,5m wat vir uitstekende maneuvreerbaarheid in die veld en knap parkeerruimtes van die stad sorg.

Voorkoms

Van buite vertoon die Land Cruiser FJ modern en ten spyte van ‘n robuuste vierkantige ontwerp , word die onbetwiste klassieke Land Cruiser trekke beklemtoon met die nuwe FJ se sterk horisontale lyne en hoeke, uitgeboude modderskerms en wye voetspoor. Die boksie ontwerpelemente, wat deur  ‘n dobbelsteenmotief geïnspireer is, bring ‘n avontuurlike karakter wat ‘n jonger generasie sal aantrek.

Die Land Cruiser FJ se neus trek aandag met ‘n prominente TOYOTA-erfenis-sierrooster wat aan weerskante beklemtoon word met vierkantige ligdiode-kopligte asook duursame glyplate en prominente modderskerm detail.

Van agter beskou onderstreep die nuweling klassieke veldry-ontwerpkenmerke met ’n agterdeur, waarop die noodwiel monteer is, wat prakties na die kant oopmaak en agterligte wat hoog langs die kant gemonteer is om die robuuste voorkoms te beklemtoon.

Van die kant beskou  staan die Land Cruiser  FJ VX soos ons bestuur het (daar is ook ‘n goedkoper GX weergawe), hoog bo die 18” allooiwiele wat met 265/60 H/T rubber beklee is. Die wiele vertoon nietemin effe te klein vir die bak, maar werk uitstekend op die pad en die veld.

Swart dakrelings, verwyderbare sytrappe , beskermende bekleding en baie kort inklim- en uitryhoeke,  rond die nuweling se doelgemaakte voorkoms af.

Die Land Cruiser FJ word tans verkoop  in ’n reeks uitdruklike buitekleure, insluitend Platinum White Pearl, Attitude Black, Ash Grey, Calciet Blue en Oxide Bronze.

Kajuit en toerusting

Binne bied die Land Cruiser FJ ’n praktiese en veelsydige kajuit wat as gemaklik modern beskryf kan word. Die voorpaneel is tradisioneel horisontaal uitgelê en die instrumentasie en ander skakelaars is gemaklik binne die bereik van die bestuurder.

’n 7”-TFT-multi-inligtingskerm is netjies ingepas met die breë middelkonsole en etlike nutsbergplekke prakties intuitief uitgelê, terwyl die instrumentpaneel laag agter die stuurwiel geplaas is vir beter uitsig vanuit die bestuurdersitplek.

Die Land Cruiser FJ bied gemaklik sitplek vir 5 insittendes met kniebeskerming vir die bestuurder en genoeg pakplek  agter vir die naweek se basiese kamptoerusting.

Die GX-weergawe is binne beklee met duursame materiaalbekleedsel, terwyl die VX-topmodel met sintetiese leerafwerking afgewerk is. Die binneruim is egter slegs beskikbaar in swart afwerking.

Enjin en verrigting

Die nuwe FJ word in beide GX en VX modelle toegerus met Toyota se bewese turbolose 2TR-FE-petrolenjin van 2.7-liter, wat maksimum 122kW @ 5200rpm en 245Nm @ 4000rpm lewer. Aandrywing na die wiele is met ’n kompakte en uiters doeltreffende sesgang-outomatiese ratkas.

Danksy Toyota se Super ECT-tegnologie is die aandryfstelsel spesifiek gekalibreer om gladde laespoed-rybaarheid, verbeterde heuwel-af beheer en versnellerreaksie, asook uitstekende  veldry-vastrap en gemaklike ooppadry te bied.

Met ‘n laer eerste rat word klim- en vastrap verbeter, terwyl ’n langer sesde rat brandstofekonomie  tydens lang afstande verbeter. Brandstofverbruik word amptelik as 10,7 L/100 km in ‘n gekombineerde siklus.

Rit, dinamika en veldry

Die Land Cruiser FJ, soos sy Land Cruiser stalmaats, is ontwerp om elke ry-oppervlak met gemak te kan hanteer en word daarin ondersteun met ‘n veerstelsel wat bestaan ​​uit ’n hoë-gemonteerde dubbele mikveer-voorvering asook  ’n vierskakel-soliede agtervering met ’n laterale stang.

Toyota se witjasse het ook gesorg dat ritverfyning en NVH (geraas, vibrasie en hardheid) aansienlik verbeter is, terwyl ook bykomende aandag gegee is aan verbeterde dempingsmateriale, isolasie en aërodinamika vir ’n meer verfynde en stiller kajuitervaring.

Die FJ maak gebruik van ’n deeltydse vierwielaandrywingstelsel met opsies vir  H4- en L4-modusse ten einde sand, modder, rotse, grond en ander lae-greep-oppervlakke met vertroue te kan hanteer. Danksy LC Prado-afgeleide voorste aandrywingskomponente asook ’n ligte Fortuner-gebaseerde skroefas om duursaamheid, verpakking en werkverrigting te vervolmaak,  lewer hierdie stelsels gesamentlik die soort vermoë soos wat verwag word van ‘n voertuig met die Land Cruiser-kenteken.

Verdere veldrytegnologie sluit in ’n agterste ewenaarslot, afdraande-hulpbeheer (DAC), opdraande-wegtrekhulpbeheer (HAC), ECT- tweede modus asook voertuigstabiliteitsbeheer .

GX of VX

Ongeag die model GX of VX, bied beide weergawes 7 lugsakke, voertuigstabiliteitsbeheer, afdraande-bystandbeheer, ’n volgrootte noodwiel en ’n 8”-multimediaskerm met ses luidsprekers.

Die grootste verskil tussen die twee modelle lê in veiligheid- en tegnologiespesifikasies. Die VX is ondermeer toegerus met Toyota Safety Sense 3.0, wat ’n reeks gevorderde bestuurdershulpstelsels byvoeg, maar die stelsel is nie op die GX beskikbaar nie. Die VX kry ook ’n blindekolmonitor.

Opsomming

Volgens Toyota is die avontuurlustige heelwat jonger (meestal tussen 30 en 40jaar) individue wat vryheid, verkenning en outentieke ervarings soek, die ideale koper van die nuwe Land Cruiser FJ.

Met die Land Cruiser FJ open Toyota ’n nuwe, veel meer bekostigbare toegangspoort tot die Land Cruiser-familie. Ons is van mening dat selfs die ouer garde, soos die uwe, en  waarvan baie voormalige Land Cruiser eienaars was, die nuweling graag sal wil besit. Gegewe die prys van die nuwe FJ sal diesulkes nou kan bekostig om weer ‘n Land Cruiser aan te skaf om ook die nuwe  FJ se filosofie van  Vryheid en vreugde nogmaals te kan beleef.

Model en Prys                                                         Prys
Land Cruiser FJ 2.7 4×4 6AT GX                                                         R714 000
Land Cruiser FJ 2.7 4×4 6AT VX                                                         R761 400

Waarborg en dienste

Alle Toyota Land Cruiser FJ-modelle word met ’n 9-dienste/90 000 km-diensplan (intervalle teen 10 000 km) en ’n 3-jaar/100 000 km-waarborg verkoop met kliente wat addisionele diens- en waarborgplanne by Toyota se nasionale handelaars kan koop.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0