Nuwe Nissan X~Trail vir SA
Nissan se derde generasie X-Trail is so pas in Suid Afrika bekendgestel en spog met ‘n nuwe sportief stylvolle ontwerp, asook heelwat nuwe tegnologie en ‘n 5-ster veiligheids gradering.

Die X-Trail volg kort op die hakke van die nuwe Qashqai en dit is duidelik dat daar sommer heelwat kruisbestuiwing plaasgevind het wat betref ontwerp eienskappe. Verder deel die twee gewilde modelle ook heelwat nuwe tegnologie en veiligheidstoerusting.
Die X-Trail is soos die Qashqai ook gebou op die Renault-Nissan CMF (Common Module family) platform en is saam met die Juke, Qashqai en Murano die vierde “Crossover” in die Nissan stal met die X-Trail meer van ‘n Sportnuts as byvoorbeeld die Juke.
Nissan het die X-Trail in drie spesifikasievlakke ter plaatse bekendgestel nl, XE, SE en LE met drie enjinopsies (een diesel en twee petrol) nl, ‘n 1.6L diesel, 2.0L en 2.5-liter petrol) terwyl twee- of vierwielaandrywing beskikbaar is. Die nuwe X-Trail is 4.6m lank (5mm langer), 1.8m breed(+30 mm breër) en 1.7 hoog. Die afstand tussen voor- en agterwiele is nou 2.7m wat 75mm langer is as die vorige model.
Die 1.6dCi turbodieselenjin lewer 96kW/320Nm en kom met ‘n 6-spoed handratkas en ‘n keuse van voor- of vierwielaandrywing. Nissan sê die brandstofverbruik is gemiddeld 5.3-liters/100km met ‘n COâ‚‚ syfer van 134g/km.
Van die twee normaal ge-aspireerde petrolenjins lewer die 2.5-liter petrol SE model 126kW/233Nm se piekkrag en trek deur al die wiele via ‘n Xtronic CVT-ratkas. Kopers het ‘n keuse tussen vyf of sewe sitplekke. Die 2.0-liter XE model kom met ‘n 6-spoed handratkas en bied 106kW/200Nm piekkrag.
Brandstofverbruik vir beide modelle word aangegee as 8.4L/100km en ‘n COâ‚‚-syfer van 197g/km.
Die nuwe Xtrail gebruik Nissan se All-Mode 4x4i stelsel (2.5 SE 4WD, 1.6dCi SE 4WD en 1.6dCi LE 4WD) en bied drie verstellings nl, 2WD, Outo en 4WD Lock wat via ‘n draaiknop op die middelkonsole geselekteer kan word. Nissan sê die stelsel bied ook vyf onderstel verstellings met etlike aktiewe en passiewe veiligheid- en bestuurder- hulpstelsels vir die ooppad of wanneer jy met jou X-Trail in die veld wil gaan speel.
Nissan het die nuwe X-Trail omvattend toegerus en daar is selfs in die intreevlak XE modelle heelwat geriefies soos onder meer elektriese vensters en spieëls, ‘n multi-funksie stuurwiel met beheerskakelaars vir ondermeer die radio, CD, MP3/WMA – klankstelsel asook die spoedbeheer. Lugversorging en ook USB, Aux, Bluetooth–koppeling is standaard.

Nissan se “Techno Pack” is as ‘n opsionele ekstra beskikbaar vir die SE en LE modelle en voeg die “NissanConnect” –stelsel by wat satnav op ‘n 7” raakskerm, verhitte kantspieëls en 18” allooiwiele insluit.
Die nuwe X-Trail het die strawwe Europese 5-stêr NCAP veiligheidsgradering behaal en standaardveiligheidstoerusting sluit in ses lugsakke, ABS remme met elektroniese remverspreiding asook Isofix kindersitplek-hegpunte.
Verkooppryse
2.0 XE 6MT – R327 700
2.0 XE 6MT (7-sitplek) – R334 100
2.5 SE Xtronic 4WD – R364 200
2.5 SE Xtronic 4WD (7-sitplek) – R 370 600
1.6dCi XE 6MT – R351 000
1.6dCi XE 6MT (7-sitplek) – R357 400
1.6dCi SE 6MT 4WD – R388 300
1.6dCi LE 6MT 4WD – R473 600
Die nuwe X-Trail word verkoop met ‘n 6-jaar/150 000km waarborg en ‘n 5-jaar/90 000km diensplan met ‘n padbystanddiens ingesluit.
![]()
Hierdie artikel is geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimage Drive. Besoek gerus hulle webwerf www.ultimatedrive.co.za vir nog puik artikels.