Nuwe kommentaar noodsaaklik om Onteieningswetsontwerp in huidige formaat te stop

irrigation 1
Lede van die publiek moet die twee wetgewende prosesse wat tans ter sprake is en daarop gemik is om ‘n beginsel vas te stel dat grond onteien kan word teen nul vergoeding duidelik verstaan.
Die een behels die proses van ‘n onteieningswetsontwerp en die ander is die konsepproses vir die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet, om nul vergoeding moontlik te maak. Vrystaat Landbou (VL) doen ‘n beroep op nie net eienaars van plaasgrond nie, maar ook alle eiendomseienaars om gebruik te maak van die verlengde tydperk vir kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening.
Volgens VL is dit baie makliker om die beginsel van onteiening sonder vergoeding deur die parlement te laat aanvaar deur die wetgewende proses wat slegs ‘n meerderheid van 50% in die parlement vereis, terwyl ‘n grondwetwysiging van hoofstuk 2 die steun van twee derdes van die parlement vereis. Daarom die belangrikheid om die Onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat te stop.
Vrystaat Landbou is gekant teen onteiening sonder vergoeding. Die organisasie beskou die instelling van onteiening sonder vergoeding as ‘n politieke- en verkiesingsinstrument en nie as ‘n billike en regverdige meganisme om eiendomsreg vir alle Suid-Afrikaners te verbreed en te versterk nie. Uit die regering se geskiedkundige hantering blyk dit dat voorheen benadeelde individue nie grond sal besit nie, maar die regering sal slegs sy eie grondbesit vermeerder.
Tans besit die staat 5 300 plase in Suid-Afrika. VL is van mening dat die nuwe klousule, onder andere waarin die omstandighede waarin grondonteiening sonder vergoeding geregverdig kan word “in die openbare belang”, heeltemal verwyder word van die Wetsontwerp op Onteiening sowel as enige verwysing na nul vergoeding, aangesien dit uiteindelik nie op die lang termyn in die beste belang van die land sal wees nie.
VL se aanlyn-petisie, wat lede van die publiek meer agtergrond inligting gee en die VL-aksieplan om sekere onaanvaarbare bepalings van die huidige wetsontwerp te opponeer, kan gevind word op https://vrystaatlandbou.co.za/stop-onteiening/. Skriftelike voorleggings kan nou gedoen word tot 28 Februarie 2021, waarna VL sy lede sal lei om deel te neem aan die openbare verhore wat daarop volg.
Bron: Vrystaat Landbou