Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 18th May 2026

Nuwe droëland wit Pioneer-kultivar: P28022WPW

634 words

pioneer 1

Prestasie en die strewe na voortdurende verbetering is deel van die mens se natuur. Jaarliks word atletiek- en swemrekords verbeter. Die Springbokke is twee keer agtereenvolgens wêreldkampioene, en Suid-Afrika dra ook tans die wêreldkrieket-vyfdagkroon.

Ook op die gebied van wetenskap en tegnologie streef die mensdom voortdurend vorentoe, wat soms die vraag laat ontstaan: “Waar trek ons die streep? Waar eindig alles?”

Dit is hier waar Pioneer, met visie, innovasie, samewerking en etiek, nie net die eindstreep in die oog het nie, maar volgehoue, doelgerigte genetiese ontwikkeling nastreef ter wille van voedselsekerheid – ’n dryfkrag wat die lewensgehalte van produsente, verbruikers en die ganse mensdom verbeter.

Teen hierdie agtergrond wil ek graag ’n nuwe wit droëlandkultivar voorstel. P28022WPW – ’n produk wat nie aan ’n eindstreep gekoppel kan word nie, maar die potensiaal toon vir volhoubaarheid, aanpasbaarheid, top-opbrengste en finansiële sukses.

Kultivarkeuse is ’n belangrike besluit wat berus op verskeie kultivareienskappe soos opbrengspotensiaal, meerkoppigheid, produktiewe spruite, staanvermoë, kophoogte asook siekteverdraagsaamheid. Aanpasbaarheid by wisselvallige temperatuur- en reënvaltoestande is van groot belang. Uitermatige grondverskille en selfs populasie-aanbevelings is noodsaaklike oorwegings wanneer ’n nuwe genetiese platform op die proef gestel word.

Meerjarige evaluasie van P28022WPW toon dat hierdie nuwe genetiese platform wel aan hierdie vereistes voldoen. Dit is met opwinding dat die produk, toegerus met PowerCore™-tegnologie, by die Pioneer-witkultivarpakket vir die westelike produksiegebied gevoeg word. PowerCore™-tegnologie bied beskerming vir die plant teen mieliestronkboorder en pas ook perfek in ’n stelsel waar Roundup gebruik word.

Figuur 1: P28022WPW gelykgestel aan nul in terme van kg/ha-verskil relatief tot ander kultivars.

Die swart lyn in Figuur 1 hierbo verteenwoordig P28022WPW, gelykgestel aan nul in terme van kg/ha-verskil relatief tot ander kultivars.

Die meerjarige data in die westelike produksiegebied toon dat P28022WPW ’n nuwe produk is wat die opbrengsplafon verskuif. Dit oortref P2565WPW met ’n gemiddelde van 438 kg/ha oor 32 lokaliteite. P28022WPW oortref P2885WPW oortuigend met 898 kg/ha oor 52 lokaliteite. Hierdie prestasie is ’n bewys van die goeie genetiese vordering wat met die teelprogram vir wit kultivars in die westelike produksiegebied bereik is.

Die mate waarin P28022WPW gedugte mededingende kultivars uitstof, onderstreep hierdie feit. P28022WPW oortref Opposisie A en B onderskeidelik met 229 kg/ha (37 lokaliteite) en 287 kg/ha (38 lokaliteite). Om topverkoperprodukte C en D te oortref met onderskeidelik 871 kg/ha (56 lokaliteite) en 446 kg/ha (55 lokaliteite), is merkwaardig. Uitstekende graankwaliteit en goeie staanvermoë is eienskappe wat P28022WPW onderskei.

P2565WPW, P2885WPW – en nou P28022WPW – is dus drie Pioneer-witkultivars wat as stalmaats in die weste aangewend kan word. Dit verseker aanpasbaarheid, stabiliteit en risikoverspreiding in een pakket – noodsaaklik in ’n reeds onvoorspelbare klimaatomgewing en bied gemoedsrus aan die produsent.

Die meerkoppigheidsindeks is 1,72. Koppe is naastenby ewe groot en ontwikkel relatief gelyk. P28022WPW is ’n mielie wat nie regtig spruit nie. Dit is genetika met ’n sterk uitdrukking van meerkoppigheid wat hoofsaaklik op die hoofstam gedra word. Uitstekende graankwaliteit asook staanvermoë is waargeneem.

Vroeë saailinggroei is sterk en vinnig. Die gevolg is ’n uniforme opkoms van saailinge wat die beste aanslag vir opbrengs as fondament verskaf.

Plante is nagenoeg 2,1 m lank, met koppe wat ongeveer 51% van die plantlengte gedra word. Met koppe wat op 1,09 m gedra word, is hierdie produk maklik stroopbaar.

Plantpopulasies van 25 000 tot 32 000 plante per hektaar, afhangend van die produksiepotensiaal en toestande, is geskikte aanbevelings. Die genetika presteer goed op alle grondtipes. Enige ry-konfigurasie (0,9, 1,5 en 0,76 m) is aanvaarbaar.

P28022WPW is gevolglik ’n kultivar wat antwoorde bied om risiko te beperk. Dit lewer uitstekende mededinging in terme van opbrengs. Dit is veral die stabiliteit, aanpasbaarheid en kompensasievermoë van die genetiese platform wat dit ’n gunstige aanbeveling maak. Gesien teen die agtergrond van uitstekende agronomiese eienskappe, behoort P28022WPW deel te vorm van enige witmielie-kultivarpakket wat in die westelike produksiegebied vir droëlandverbouing gebruik word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0