Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 10th May 2023

Nuwe bloutong-entstof verwelkom

By 3 min read
552 words

bloutong 1

Tisha Steyn

‘n Nuwe entstof teen bloutong is pas bekendgestel om in die dringende behoefte daaraan te voorsien. Die bekendstelling word met ope arms verwelkom na verlede week se verklaring deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) dat die gebrek aan entstof wat deur die staat verskaf word die veebedryf in ‘n krisis dompel.

Design Biologix, ‘n diere-entstof vervaardiger van Pretoria, het pas die plaaslik relevante bloutong-entstof genaamd BLU-VAX aangekondig.

Die maatskappy bedien al die afgelope 29 jaar die veebedryf met entstowwe en ondersteunende produkte wat vir plaaslike toestande geld. “In 2017 het ons ‘n projek begin waar war ons epidemiologiese studies gedoen het van die algemene serotipes vir Orbivirus wat bloutong by skape in Suid-Afrika veroorsaak,” het Karen Nel, hoof uitvoerende beampte van Design Biologix Woensdagoggend  in ‘n mediaverklaring gesê.

Die entstof is geformuleer vir die aktiewe immunisering van gesonde skape teen bloutong. “Soos met enige nuwe produk is noukeurige voorbereiding noodsaaklik voor ‘n bekendstelling. Die produk sal beskikbaar wees om voor die volgende somerreënvalseisoen in te ent.”

Noodregistrasie

Design Biologix het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling bedank vir ondersteuning van die noodregistrasieproses om hulle in staat te stel om aan die dieregesondheidsektor van diens te wees en ‘n beduidende rol te speel in die beheer van bloutong, wat ‘n verwoestende, maar voorkombare siekte is. Nel het ook almal in die bedryf wat betrokke was in die ontwikkeling van die entstof bedank.

Weens die noodregistrasieproses was die evaluering van die entstof nie so omvattend as wat normaalweg met produkontwikkeling in Design Biologix gedoen sou word nie. “Ons het ons egter daartoe verbind om voort te gaan met entstof-evaluering na registrasie sowel as epidemiologiese studies om voortdurend die omvang van die siekte in Suid-Afrika te evalueer.”

Rooivleis in gedrang

“Kommersiële  en  opkomende  produsente  ly ernstige  verliese  weens  bloutong-uitbrekings wat tot 50% vrektes onder kuddes veroorsaak, terwyl Afrika perdesiekte maai onder perde en donkies wat ‘n ondersteunende rol in die produksieproses van rooivleis speel,” het James Faber, voorsitter van die RPO gesê.

Die  RPO waarsku al geruime tyd dat ‘n tekort aan die voorsiening van sekere entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese produkte (OBP) geproduseer word, ernstige afmetings kan aanneem.

Wol in gedrang

Die krisis is bevestig deur Leon de Beer, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging. “Die wolbedryf word beslis geraak en uitbrake van bloutong word reeds aangemeld. Genadiglik kom ons nou aan einde van reenseisoen in somerreengebiede en hopelik sal die insekte wat die siekte oordra ook gou minder raak.” Die meeste wol (98%) word uitgevoer en buiten die waardevolle buitelandse valuta wat dit verdien, sit die uitvoere kos op baie mense se tafel. 

Volgens Leon is daar tans 8 000 kommersiële wolboere in die land, waarvan 3 000 NWKV-lede is en wat 75% van die nasionale wolskeersel verteenwoordig. Daar is 40 000 kommunale boere, waarvan 30 000 lid is van die NWKV. ”Bloutong hou dus ‘n geweldige groot bedreiging in vir die wolbedryf, om nie een te praat van die rooivleisbedryf nie.”

Nuwe entstof verwelkom

“Die bedryf is baie opgewonde oor die registrasie en sien uit na die bekendstelling en beskikbaarheid van die BLU-VAX!” sê Marzanne Roetz van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF).

Die NAHF, wat namens  die  vee- en  diere bedrywe by verskeie  geleenthede die behoefte aan entstowwe uitgespel het, het ook oplossings voorgestel. Een daarvan was dat meer as een diensverskaffer entstowwe produseer sodat risiko’s aangespreek en mededingendheid verseker word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0