Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 29th January 2026

Nuwe bewarea verbind Klein- en Groot-Karoo

By 6 min read
1073 words

Karoo gateway 7

Die Karoo Gateway Bewarea is ‘n nuwe toevoeging tot bewaringsgebiede in die Wes-Kaap, en in besonder in die Klein-Karoo wat die Groot-Karoo by Klaarstroom ontmoet. Tom Barry van CapeNature vertel meer oor wat die bewarea vir die streek en bewaring beteken.

Klaarstroom is ‘n piepklein dorpie met ‘n hotelletjie en ‘n paar huise slap links van die N14 tussen Meiringspoort in die Swartberge en Beaufort-Wes.

Die bewarea lê in die Klaarstroomvallei tussen die Swartberge en die Witberge net noord van Klaarstroom en die Karoo Gateway Bewarea word juis so genoem omdat hierdie gebied letterlik die oorgang tussen die Klein-Karoo suid van die Swartberge en die Groot-Karoo noord van die Swartberge insluit.

Die bewarea bestaan uit sowat 18 000 hektaar wat deur sewe grondeienaars opsygesit is vir die bewaring van die besondere biodiversiteit wat hier uit vier biome bestaan, naamlik Fynbos, Sukkulente Karoo, Nama Karoo en Subtropiese Ruigtewoud, elk met hulle eie kenmerkende plantegroei wat duisende plantspesies beloop.

“Die gebied het baie hoë biodiversiteitswaarde,” sê Tom.

Wildspesies eie aan hierdie biome kom ook hier voor en sluit van die majestueuse koedoe tot die vlugvoetige klipspringer in. Daar is luiperds, jakkalse, rooikatte en ‘n menigte ander kleiner wildspesies, asook ‘n magdom voëlspesies wat eie is aan die landskap van berge, water, vlaktes en die verskillende plantbiome. Endemiese visspesies kom ook in die Grootrivier, wat deur Meiringspoort vloei, en die Aapsrivier voor.

Naas natuurlike veld soos genome, is daar natuurlik ook landbougrond waar met vee soos skape geboer word, asook gewasse soos uie, beet en wortels, wat hoofsaaklik vir saad gekweek word. Daar is selfs ‘n wildsplaas,  en ekotoerisme gaan beslis baat by die bestaan van die bewarea.

Hierdie luiperd is op die plaas De Aap op kamera vasgevang. Sodoende kan CapeNature inligting aan boere verskaf oor hoe om saam te werk met diere, waaronder luiperds, rooikatte en jakkalse, wat skade kan veroorsaak – eerder as om hulle voor die voet van kant te maak. (Bron: De Aap)

Bestuur van die bewarea

Die bestuur van die bewarea geskied op ‘n informele vlak. “In terme van die ooreenkoms met CapeNature besluit die bewarealede self hoe hulle die gebied wil bestuur binne die raamwerk van beste praktyk (best practice) en volhoubaarheid ”

Die beste praktyk-riglyne word verskaf vir die beheer  van indringerplante, brandbestuur, en diere wat skade vir boere veroorsaak.

Volgens Tom is een van die langtermynprojekte wat reeds aan die gang is om die magdom swartwattels op die grond biologies met insekte en swamme te beheer. “Ons het nie op die oomblik baie geld beskikbaar nie, maar gelukkig kos dit nie baie om die insekte en swamme los te laat sodat hulle hul werk kan begin nie,” sê Tom.

“Diere wat skade aan veekuddes veroorsaak sluit jakkalse, rooikatte en luiperds in  CapeNature en ander navorsings- en bewaringsinstanses soos Cape Leopard Trust verkies nie-dodelike metodes van bestuur van hierdie diere, eerder as die totale uitroei daarvan omdat dit weer ander probleme skep, maar ons wil nie te veel reëls voorskryf wat die boere afskrik nie.”

CapeNature sal ook leiding gee. “Stephen Moss en Shania Finsham is twee jong, entoesiastiese veldgidse wat by die Field Guides Association of SA (FGASA) registreer is. Hulle is aangestel om nou saam met die belanghebbendes te werk, om raad te gee en opleiding te doen oor die beste praktyke. Hulle gaan help om die proses aan die gang te kry en momentum te behou.”

Volgens Tom is die betrokke boere, wat boere Frans Steenkamp, Jurie Klue, Jannie Ellis, Giel en  Lydia Swiegers, Tiaan Louwrens, Attie van der Merwe insluit, almal lief vir die natuur en het reeds baie gedoen om bewaring op hulle grond te bevorder.

Die Aaprivier vloei deur die bewarea. (Bron: Karoo Gateway Bewarea)

Die groter prentjie

Die bewarea vorm deel van ‘n groter bewaringsgebied wat uiteindelik aaneenlopende korridors sal  vorm wat verskillende tans geïsoleerde gebiede in die uitgestrekte landskap aan mekaar sal verbind.

Volgens Tom beslaan bestaande  bewaringsgebiede in die landskap reeds die Swartberg Wêreld Erfenisgebied  van sowat 200 000 ha asook die Anysberg Wereld Erfenisgebied van sowat 80 000 ha, wat deur CapeNature bestuur word. Dan is daar ook die Karoo Nasionale Park van  75 000 ha by Beaufort-Wes.

“CapeNature en vennote SANParkes, WWF, EWT en Gouritz Cluster Biosphere Reservaat, is rolspelers in die gebied. Almal is daartoe verbind om alles in hulle vermoë te doen om by te dra dat altesaam 30% van Suid-Afrika teen 2030 in ‘n formele vorm van bewaring is.”

As deel van die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (CBD) werk lande saam om hierdie neiging te keer. Die jongste teikens, bekend as die “30 teen 30”-inisiatief, beoog om teen 2030 dertig persent van die aarde se land- en seeoppervlak onder bewaring te hê.

Die Karoo Gateway Bewarea vorm ‘n belangrike deel in die groter prentjie want die stuk grond vorm deel van die korridor vanaf die Swartberge tot by die Karoo Nasionale Park by Beaufort-Wes. Nog ‘n korridor sal Anysberg deur Laingsburg tot by die grens van die Noord-Kaap verbind. In hierdie stadium is die Sukkulente-Karoo bioom ‘n hoë prioriteit om meer grond onder bewaring te kry.

Volgens Tom het boere wat hulle grond by ‘n bewaringsgebied wil insluit, verskeie opsies.

Die aardwolf, wat in die bewarea voorkom, hou ’n groot voordeel in vir boere aangesien een van hulle tot 250 000 termiete op een slag kan opvreet. (Bron: Karoo Gateway Bewarea)

’n Natuurreservaat kan op privaat, gemeenskaps- of staatsgrond verklaar word as die area se biodiversiteit dit regverdig. Die grondgebruiker onderteken ’n formele ooreenkoms met die provinsiale LUR, gewoonlik vir 99 jaar of ewigdurend.  Hierdie opsie is ook ‘n wettige verklaring onder die Wet op Beskermde Gebiede.

Hierdie status bied die hoogste vlak van beskerming, met volle eienaarskap behou. Eiendomsbelastingvrystelling en inkomstebelastingaftrekkings is dikwels deel van die pakket.

‘n Beskermde Omgewing (Protected Environment) bied ’n meer buigsame opsie vir grondeienaars wat ander grondgebruike soos landbou of toerisme wil kombineer met bewaring.

Hierdie gebiede kan verskeie eiendomme insluit – privaat, gemeenskaplik of staatsbesit – en vereis die eienaar se toestemming. Die beskerming geld gewoonlik vir minstens 30 jaar en bied ’n mate van beskerming teen mynbou of prospektering.

Biodiversiteitsooreenkomste word in die Wes-Kaap deur CapeNature hanteer. Dit is bindende kontrakte tussen die eienaar en die provinsiale omgewingsagentskap, gewoonlik vir tien jaar.

’n Omgewingsbestuursplan is verpligtend en word jaarliks hersien. In die  geval van ‘n biodiversiteitsooreenkoms word die ooreenkoms op die titelakte geregistreer, wat langtermyn-beskerming verseker.

Kontakbesonderhede

Grondeienaars wat hulle grond formeel wil laat bewaar, kan Tom Barry kontak by tbarry@capenature.co.za en Melita Weideman by mweideman@capenature.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0