Categories: NewsPublished On: 23rd August 2016

Nuus vanaf die RPO:

By 3 min read
563 words

skaap

Die Nasionale Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) se Nasionale Konferesie en Kongres het pas op Parys in die Vrystaat plaasgevind. Hieronder is van die sake wat aan die lig gekom het.

Suid-Afrika se vee moet nou getel word

Die kongres het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye versoek om ‘n veesensus te doen volgens die metodes soos vervat in ‘n studie wat deur die Universiteit van die Vrystaat gedoen is.

Die inleier, Walter van Niekerk van die Universiteit van die Vrystaat, het gesê die laaste formele veesensus is in die 1990’s gedoen en sedertdien is daar slegs van skattings gebruik gemaak. Akkurate en betroubare veestatistieke is noodsaaklik om beplanning rondom die natuurlike hulpbron te doen. Verder word dit benodig vir beleidsbepaling; nasionale en internasionale hulpverlening; dieregesondheid en kuddebestuur; sowel as die bestuur van ‘n siekte-uitbreking.

Volgens Walter kan hulpverlening aan die ontwikkelende en opkomende sektor nie sonder veestatistieke plaasvind nie, terwyl die omvang van die informele sektore ook baie meer akkuraat gedoen sal kan word. Met betroubare veestatistieke sal struktuurveranderinge gekwantifiseer kan word, die impak van grondhervormingsinisiatiewe op veegetalle sal gemeet kan word, terwyl dit ook ‘n rol kan speel by predasiebestuur en veediefstalvoorkomingsaksies.

Dit is die verantwoordelikheid van die nasionale en provinsiale departemente van landbou met die hulp van Statistiek Suid-Afrika om ‘n veesensus te doen, maar ander departemente kan ook betrek word. Die berekende koste van so ‘n projek is R48 miljoen, het Walter gesê.

Skaap-waardeketting kan werk

“Die skaap-waardeketting word gekenmerk deur ‘n ouderwetse verhandelingsomgewing met ‘n nuwerwetse verbruiker, maar dit is moontlik om ‘n waardeketting te bou wat werk,” het Alex Cilliers van GWK tydens die RPO se konferensie gesê.

Hy het gesê daar is verskeie faktore wat daartoe bydra dat die skaap-waardeketting  breekbaar is. Die eerste is voorsiening. Die land se dalende nasionale kudde lei tot wisselvallige voorsiening. Verder is die boerderypraktyke in die skaapbedryf nie net verouderd nie, dit is ook hoofsaaklik ekstensiewe praktyke. Bemarking is spekulatief van aard, daar bestaan wantroue teenoor die ander rolspelers in die ketting en bemarking is op eie behoeftes en praktyke gebaseer en nie op die mark nie.

Voorsiening is die tweede faktor wat probleme veroorsaak. Daar is nie net ‘n oorkapasiteit van abattoirs nie, swak regulering en polisiëring van gehalte en gradering is ook algemeen. Die hoë koste van vervoer en kommissie maak mededinging duur. Die verspreiding van skaapvleis word deur die groothandel gedoen, waar hoogs spekulatief gekoop word soos wat die geleenthede voorkom. Die grootste drywer van pryswisselvalligheid is die feit dat pryse afgedruk word om marges in ‘n stadige mark te maak. Die kleinhandel benodig konstante voorsiening, konstante kwaliteit en minimale pryswisselvalligheid.

Kleinhandel-vleisverkope deur kettinggroepe soos Woolworths, P&P en Checkers bly groei, maar verbruikers maak deurentyd keuses en soek waarde vir geld en/of oorsprong. Tans maak skaap en lam slegs sowat 13% van die volume vleisverkope in die land uit, het Alex gesê.

Die moderne verbruikers is mense wat nie vleis wil sny of verpak nie; hulle is onkundig oor klassifikasie en snitte; het nie meer grootmaat vrieskaste nie, soek waarde vir geld en kwaliteit, wil weet waar vleis vandaan kom (oorsprong), hou van konstante aanbieding en maak deurlopend keuses.

Die skaap-waardeketting kan die volgende aan die verbruiker bied:

  • Ekstensiewe natuurlike praktyke.
  • Oorsprong.
  • Voorkeur ten opsigte van smaak.
  • ‘n Gesogte produk.
  • ‘n Goeie groen agtergrond.
  • Tradisie.
  • Daar is potensiaal vir beter praktyke.

 

Bron: RPO Kongres Bulletin

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0