Categories: Artikels, WildPublished On: 10th February 2025

NUUS Broeisukses van bedreigde witmalgas ‘n spanpoging

By 6 min read
1267 words

zanri 1

Zanri Strydom hou ‘n witmalgas vas tydens haar navorsing op Voëleiland in 2018. (Bron: Verskaf)

Twintig jaar nadat die witmalgasse Voëleiland by Lambertsbaai verlaat het, floreer die voëlbevolking vandag.  Voëleiland val onder die bestuur van Wes-Kaapse natuurbewaringsinstansie CapeNature.

In 2005/’06 het die malgasse die eiland verlaat weens aanlandse predasie deur Kaapse pelsrobbe. “Die robbe het by die malgaskolonie ingestorm  en party doodgemaak. Toe raak almal bang en vlieg weg,” vertel dr Zanri Strydom, wat hier navorsing gedoen het.

Vandag kom daar sowat 45 000 witmalgasse op die eiland voor en dit is ‘n pluimpie in die hoed van die bewaringspan wat hulle waaksaamheid nie vir ‘n oomblik verslap nie ten einde die voortbestaan van die kolonie te verseker.

Voëleiland

Die eiland van bykans drie hektaar groot is sowat 100 meter van die strand af waar die Weskusdorpie Lambertsbaai geleë is. Dit is die enigste van ses witmalgasbroeiplekke in Suider-Afrika wat vir die publiek toeganklik is.

Die witmalgasse broei ook op Malgaseiland  by Saldanhabaai en Voëleiland by Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) in die Oos-Kaap, en langs die Namibiese kus op Mercury-, Ichaboe- en Possessioneiland.

Voëleiland bied uitstekende broeitoestande, want daar is genoeg ruimte, toegang tot genoeg kos, en, met ‘n uitstekende bewaringspan met ‘n waterdigte plan wat die eiers, kuikens en volwasse malgasse teen predasie beskerm sodat hulle nie weer padgee nie.

Witmalgas-broeipare bly etlike seisoene saam. Hulle het ‘n lang broeiseisoen, want die eerste eiers word in Oktober gelê en die laaste kuikens broei eers in Mei die volgende jaar uit.

Die witmalgaskolonie op Voeleiland by Lambertsbaai aan die Kaapse Weskus het tans 45 000 malgasse, die meeste nog nadat die kolonie in 2005/’06 tot niet is weens predasie deur Kaapse pelsrobbe. (Bron: CapeNature)

Die wyfie lê elke jaar net een eier, in dieselfde nes. Albei die ouers maak beurte om tussen 42 en 46 dae lank op die nes te sit voordat die piepklein kuiken van sowat 70 g uitbroei. Op  95 tot 105 dae is die kuiken gereed om die oseaan aan te durf om self te gaan wei hoofsaaklik op ansjovis en sardyne.

Zanri, wat in 2018 haar meestersgraad in Natuurbewaring by die George-kampus van Nelson Mandela Universiteit gedoen het, het drie maande tydens die broeiseisoen, wat einde September begin, op Voëleiland deurgebring. Die doel was om die predasie van die swartrugmeeue op die  eiers van die witmalgasse te moniteer.

Sy het vyftig neste op die rand van die kolonie en nog vyftig nader aan die kern l van die kolonie gemerk en gemoniteer. Daar is bevind dat predasie meer dikwels op die rand van die kolonie plaasvind as dieper in die nesmaakgebied. Dit kan wees omdat die neste meer toeganklik is maar nie uitsluitlik geplunder word nie omdat die in die middel ook deurloop.

Die swartrugmeeue steel meestal vroegoggend en laatmiddag die eiers wanneer die ouers vlieg om te self te gaan kos soek. Die opportunistiese meeue steel selfs die eiers onder die malgasse uit.

In 2019 het sy weer vanaf middel-Februarie drie maande op die eiland deurgebring, die keer om vas te stel watter invloed die predasie van die Kaapse pelsrobbe wat ook op die eiland boer, op die witmalgaskuikens in die water het.

Die navorsing het bevind dat Kaapse pelsrobbe meestal bedags tussen 12:00 en 15:00 die malgaskuikens onderskep wanneer die kuikens probeer vlieg en in die water beland.

‘n Witmalgaskuiken in die nes op Voëleiland. Die ouers lê net een eier en albei help broei. (Bron: Verskaf)

Robbe

Die afgelope agtien jaar maak die bewaringspan ook seker die Kaapse pelsrobbe bly weg van die malgasse af. Zanri meen dit is die belangrikste rede vir die sukses, want al woon die pelsrobbe permanent op die eiland saam met die malgasse, hulle bedreigde prooi, hou die span hulle op hulle plek.

Die span  tel al die kuikens, ook die wat die robbe ten prooi val. Die inligting dra by tot beter begrip van die bevolkingsdinamiek en hoe bestuurstrategieë by veranderende omstandighede moet aanpas. As die span nie voorsorg tref nie, kan die robbe die voëls se gebied oorneem, en dan gaan die malgasse weer padgee soos hulle in 2005/’06 gemaak het.

As dit maar al was waaraan die robbe hulle skuldig gemaak het. “As ‘n rob deur die broeigebied beweeg, heers chaos,” vertel Zanri. “Hulle vernietig die neste dat jy net eiers en kuikens sien trek en byt soms nie net een nie, maar meer as een malgas dood, al vreet hulle net een op.”

‘n Imaginêre skeidslyn skei die robbe se gebied op die westelike deel van die eiland van die malgasse se gebied.  “As ‘n rob die lyn oorsteek, klap die moniteerders net hulle hande en die rob keer terug na sy eie gebied,” verduidelik Zanri.

Lokvoëls

Nadat die hele kolonie in 2005/’06 ineengestort het, het CapeNature se bestuur ‘n slim plan bedink om hulle terug te lok. ‘n Plaaslike kunstenaar is versoek om witmalgasmodelle of lokvoëls (decoys) te maak wat die voëls mettertyd terug gelok het om te kom ondersoek instel. Stadigaan is hulle gerusgestel en het weer begin nes bou.

Zanri het deurentyd nou saamgewerk met Yves Chesselet, die bewaarder, en die drie moniteerders in die span. “Die meeste van die data oor alledaagse predasie sedert 2006 is deur Yves en sy navorsingspan versamel en hierdie hoofstukke van my tesis sou nie sonder hulle insette moontlik gewees het nie.”

Haar navorsing het bevestig dat die bestuursplan wat Yves en sy span in plek het, tot sukses lei. “Die sleutel tot sukses is volgehoue monitering.” sê Zanri,

Gedurende Januarie vanjaar het die bevolkingstal 45 000 bereik. “Dit beteken nie dat al die witmalgasse Voëleiland as broeiplek gebruik nie,” verduidelik Zanri. “Maar omdat die omstandighede doeltreffend en volhoubaar bestuur word, kan dit wees dat witmalgasse van ander eilande, soos Malgaseiland by Saldanhabaai, en vanaf Namibië waar kos skaars is, ook hier kom vertoef en moontlik binnekort hier kan begin broei.”

Spanwerk

Yves en sy span, die bewakers van die witmalgasse, wat in Lambertsbaai woon, is voltyds aan diens.

Die malgasbevolking word elke dag dopgehou tydens patrollies om die buitewyke van die broeigebied waartydens hulle op die uitkyk is vir enige tekens van iets wat ‘n bedreiging vir die voëls kan inhou. Dit sluit waarneming van dooie malgasse, meeue wat eiers steel, robbe wat die jong voëls vang, muishonde wat die eiland van die land se kant af betree en wat ook ‘n bedreiging vir die volwasse voëls, hulle kuikens en eiers kan inhou.

Die span is ook bedag op enige onwettige betreding deur mense; hulle hou die weer dop en hou boek van swaar reën, groot deinings en hittegolwe wat die ekosisteem kan bedreig en tree voorkomend op, indien moontlik.

‘n Swartrugmeeu stap weg met ‘n malgaseier wat uit ‘n nes gesteel is. (Bron: Verskaf)

Menslike teenwoordigheid

CapeNature se hoofuitvoerende beampte, Dr Ashley Naidoo, is baie in sy skik met die sukses van die bewaringspoging. “Voëleiland se sukses is ‘n waardevolle voorbeeld van die doeltreffendheid van praktiese bewaring deur persoonlik teenwoordig te wees. Ons sien telkens dat positiewe bewaringsuitkomste dikwels volgehoue toewyding oor jare heen nodig het.

“Deur middel van deurlopende monitering, proaktiewe bestuur van bedreigings soos robbe en meeue en toewyding tot die bewaring van die eiland se unieke ekosisteem, kan die eiland met trots beskou word as die witmalgaskolonie in Suider-Afrika is wat die beste bestuur word.”

Hy meen die suksesvolle bestuur van Voëleiland wys wat in ander bewaringspoging moontlik is en wat deur volgehoue toewyding en bestuurstegnieke vermag kan word. Die vooruitstrewende eiland is ‘n voorbeeld van wat moontlik is vir die bewaring van die witmalgas en die welstand van die Suider-Afrikaanse kusekosisteme.

Kontakbesonderhede

Kontak Petro van Rhyn van CapeNature by of 071-231-7576.

Kontak dr Zanri Strydom by zanri.nature@gmail.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0