Nog reën vir Februarie en Maart verwag

vdk dam oorloop
Die Vanderkloofdam loop tans oor na lekker reën wat daar geval het.
Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS), Santam Landbou
Die huidige La Nina-verskynsel het nou volwassenheid bereik maar sal by La Nina vlakke bly tot April 2021.
Langer termynvooruitsigte vir die Somerreënvalgebied is nog positief vir verdere reën in veral die tweede deel van Februarie en Maart. Korttermynvoorspellings toon verdere reën in die laaste week van Januarie oor die sentrale tot oostelike dele.
Huidige toestande
Baie swaar reënnneerslae het begin voorkom oor die sentrale tot westelike dele van die land en Namibië sedert die tweede deel van Desember 2020. Vloedtoestande het voorgekom in gebiede en distrikte soos Hoopstad en Wesselsbron in die Vrystaat, Augrabies in die Noord-Kaap, gedeeltes van Gauteng, die suidelike dele van Namibië en die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap.
Daaglikse reënvaltotale van tot meer as 100 mm het in van hierdie gebiede voorgekom wat baie waterafloop en versadigde gronde veroorsaak het. Te nat gronde en te min sonskyn het begin om ernstige skade aan te rig aan gewasse in die Noordwes-Vrystaat in distrikte soos Bothaville, Wesselsbron, Viljoenskroon en Hoopstad en aangrensende distrike in Noordwes Provinsie soos Wolmaranstad en Bloemhof. Waterskade en min hitte-eenhede kom ook voor in die Oos-Vrystaat in Bethlehem, Warden, Frankfort en Heilbron.
Ernstige droogteskade het begin ontwikkel in gedeeltes van Mpumalanga waar veral die vroeë somergraanaanplantings tans in die sensitiewe reproduktiewe stadium is. Permanente skade het alreeds voorgekom op mielies en sojabone maar reën tussen 11 en 13 Januarie 2021 het gehelp om toestande te stabiliseer.
Ernstige droogtetoestande heers steeds in die weidingsgebiede van die Oos-Kaap soos Jansenville, Steytlerville en Willowmore. Die droogte duur ook voort in die suidelike dele van die Noord-Kaap in distrikte soos Vanwyksvlei, Loeriesfontein, Williston en aangrensende distrike aangesien hierdie dele oorgeslaan het met die reën wat in die eerste week van Januarie voorgekom het in die meer noordelike dele van die Noord-Kaap en waar swaar neerslae voorgekom het.
Weidingstoestande het aansienlik verbeter in groot gedeeltes van die Noord-Kaap en veral in die Kalahari maar meer opvolgreën en tyd is nodig vir volledige herstel. Ondergrondse wateraanvulling het nog nie voorgekom nie.
Watervlakke van bykans alle opgaardamme in die Somerreënvalgebied is gunstig en is die meeste damme naby aan vol behalwe vir kleiner damme in byvoorbeeld Limpopo soos die Tzaneendam met 16,5% en Middel Letabadam met minder as 1%. Die Vaaldam se watervlak het vinnig verhoog tot ongeveer 65% sedert die begin van Januarie 2021 nadat dit nog op ongeveer 35% was in Desember 2020. Die vlak van sekere damme in die Oos-Kaap bly steeds krities laag met die Kougadam op 9,5% en die Bridle Driftdam met 32,7% wat die hoofbronne van water vir die Nelson Mandela Metropool is. Damvlakke in die Laeveld is ook laag en beperk die besproeiing van vrugte en ander gewasse. In die Wes-Kaap is die meeste damvlakke redelik gunstig maar watervlakke sak vinnig as gevolg van die baie warm toestande wat tans ervaar word.
Die watervlak van die Karibadam in Zambië is baie laag op 20,44%. Die Katzedam in Lesotho het gestyg van 26% in Desember tot 46% in die eerste week van Januarie 2021.
ENSO en Indiese Oseaan
ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)
See-oppervlaktemperature in die Nino-gebiede bly op La Nina-vlakke sedert die middel van Augustus 2020. Die gemiddelde afwykings van see-oppervlaktemperature van die belangrike Nino3.4-gebied is nou op 1.1°C koeler as normaal nadat ‘n piek van 1.7°C koeler as normaal bereik is in November 2020. Voorspellings toon dat die La Nina in Desember 2020 volwassenheid bereik het en nie verder gaan versterk nie. Dit sal egter op La Nina-vlakke bly tot ongeveer April/Mei 2021.
Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat die maatstaf is van die koppeling tussen see-oppervlaktemperature in die Nino-gebiede en die oorliggende weersisteme, het versterk na meer intens La Nina-neigend. Die SOI het tans ‘n indekswaarde van +19.42 op ‘n skaal van +30 (baie sterk La Nina) en -30 (baie sterk El Nino). Dit is die hoogste SOI waarde sedert Desember 2011.
Indiese Oseaan
Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks is reeds vir ‘n paar weke in ‘n neutrale fase en is tans presies op die langtermyngemiddeld. Die suidwestelike Indiese Oseaan (oos van die Suidkus van Suidelike Afrika) is steeds ongeveer 2°C koeler as normaal maar daar het verwarming plaasgevind in die gebied rondom Madagaskar waar dit tans tussen 0.5°C en 1°C warmer as normaal is. Ongeveer 60% tot 70% van die totale Indiese Oseaan was aan die begin van 2021 koeler as normaal maar die grootste deel van die Stille en Atlantiese Oseane in die Noordelike Halfrond is warmer as normaal wat ‘n rekord aantal siklone veroorsaak het.
Reënval- en klimaatsvooruitsigte
Somerreënvalgebied
Reënval
Matige tot sterk La Nina-gebeurtenisse in die geskiedenis is gewoonlik geassosieer met bogemiddelde reënval vanaf Desember tot April. Die 2020/21 La Nina volg ook hierdie patroon. Met die verwarming van die Indiese Oseaan rondom Madagaskar in die laaste maand verhoog dit die kanse vir tropiese siklone en intense laagdrukstelsels wat dalk reënval kan beïnvloed maar waarskynlik slegs vir kort periodes.
Korttermynvoorspellings toon ‘n kort droër periode vanaf ongeveer 16 tot 21 Januarie waarna verdere reën kan voorkom in die laaste week van Januarie oor die sentrale tot oostelike dele van die land.
Langer termyn voorspellings bly egter positief vir verdere reën vanaf die tweede deel van Februarie sowel as in Maart en April maar dit sal grootliks afhang of daar siklone gaan ontwikkel.
Temperatuur
Gemiddelde tot bogemiddelde dagtemperature kan verwag word vir die laaste deel van Januarie en eerste deel van Februarie oor die westelike dele van die land. Bogemiddelde minimumtemperature word verwag as gevolg van die baie vog in die laer gedeeltes van die atmosfeer wat energie uitstraling beperk.
Winterreënvalgebied
As gevolg van baie sterk somerreënvalstelsels wat ontwikkel, is somerreënval steeds moontlik veral oor die sentrale tot suidelike en suidoostelike dele van die Winterreënvalgebied in Februarie en Maart. Daar is ‘n baie groot waarskylikheid vir die later as normale aanvang van die normale winterreënval.
Kort- tot mediumtermynvoorspellings dui baie hoë temperature aan met ‘n moontlikheid van ligte reën in die eerste week van Februarie oor die Suid-Kaap.
Namibië
Droër toestande word ook verwag vir die tweede deel van Januarie oor die suidelike en suidwestelike dele maar swaar reën vanaf die laaste week van Januarie oor die sentrale tot noordoostelike dele.
Die voorkoms van verdere swaar neerslae en moontlike vloede bly steeds groot vir die volgende maande.
Gevolgtrekking
Oorstromings en waterversadigde toestande is tans besig om skade aan die somergraanoes aan te rig in veral die Vrystaat en aanliggende gedeeltes. Droogteskade kom voor in gedeeltes van Mpumalanga. Die meeste van die droogte-geteisterde gebiede van die Noord-Kaap het reën ontvang behalwe suidelike dele.
La Nina het volwassenheid bereik maar sal by La Nina-vlakke bly tot ten minste April 2020.
Korttermynvoorspellings toon ‘n droë periode vanaf ongeveer 16 tot 21 Januarie met verdere reën in die laaste week van Januarie oor die sentrale tot oostelike dele. Die vloedrisiko bly steeds groot in die volgende maande.
Vrywaring:
Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.