Categories: NuusPublished On: 26th January 2022

Nog reën is op pad in Februariemaand

By 7 min read
1377 words

weer 2

Foto: Pixabay

Deur Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

La Nina het ‘n piek bereik maar sal steeds reënvaltoestande beïnvloed tot ongeveer Mei met verwagte gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf die tweede deel van Februarie (Somerreënvalgebied).

Huidige toestande

Baie nat toestande het begin voorkom vanaf Desember asook gedurende die eerste deel van Januarie oor groot dele van die Somerreënvalgebied. Baie gedeeltes het omtrent die jaarlikse totale reënval of selfs meer ontvang in hierdie twee maande.

Ook van belang is dat die reën dikwels as swaar neerslae van 100mm of meer per reënvalgebeurtenis voorgekom het wat vloede en versadigde grondtoestande veroorsaak het. Lokale vloede het wydverspreid voorgekom in gebiede soos byvoorbeeld Hoopstad en Bultfontein in die Noordwes Vrystaat, in die Oos-Kaap naby Oos-Londen, in die Noord-Kaap by Augrabies, heelwat gebiede in Limpopo en selfs in die baie droë gedeeltes van die Noord-Kaap. Vloede het ook in heelwat gedeeltes van KZN voorgekom.

Die grootste deel van die droogtegeteisterde Noord-Kaap het goeie neerslae gekry maar opvolgreën is steeds nodig voor die winter sodat voldoende herstel van weidings kan plaasvind aangesien die mees produktiewe periode vir veldproduksie in die laatsomer en herfs is.

Gedeeltes van die Oos-Kaap is steeds baie droog soos naby Cradock sowel as in die Jansenville en Steylerville omgewing. Selfs dele van die Langkloof naby Uniondale is steeds droog met kleiner opgaardamme wat baie lae vlakke het.

Byna al die opgaardamme in die Somerreënvalgebied het baie hoë watervlakke as gevolg van die swaar reën. Slegs enkele damme in die Oos-Kaap het steeds lae vlakke alhoewel daar ‘n verbetering voorgekom het. Die Kougadam het slegs 17% water maar is ‘n verbetering van die 5% ‘n paar weke gelede.

Die watervlak van die Karibadam is op 20,7% teenoor 21% verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 100% is en die Mohale dam op 64%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 67% van vol volume en het gestyg as gevolg van die reënval vanaf 21 tot 23 Januarie vanaf slegs 50% ‘n week tevore.

ENSO en Indiese Oseaan

ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

See oppervlaktemperature in die Nino gebiede se afkoeling het nou ‘n piek bereik wat aandui dat die La Nina volwassenheid bereik het. La Nina toestande sal steeds heers tot voor die winter wanneer dit sal terugkeer na neutrale toestande. ENSO is gewoonlik in ‘n neutrale fase vanaf ongeveer April tot Junie voordat veranderings kan plaasvind voor die aanvang van die Suidelike Halfrond se somer.

Huidige voorspellings vir die 2022/23 seisoen is baie onseker met voorspellings wat varieer tussen La Nina of El Nino ontwikkeling. Die huidige scenario toon ‘n ongeveer 50% waarskynlikheid vir neutrale toestande wat kan voortduur na die winter en ‘n 20% tot 30% waarskynlikheid vir elk van La Nina en El Nino om te ontwikkel, respektiewelik. Groter sekerheid sal eers begin vorm aanneem vanaf ongeveer Julie 2022 van wat verwag kan word vir die volgende somer.

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) as indikator van die invloed van see-oppervlaktoestande op oorliggende weerstelsels in die Nino-gebiede het vir die eerste keer sedert Julie 2021 teruggekeer na meer neutrale indekswaardes. Op ‘n skaal van -30 (sterk El Nino) tot +30 (sterk La Nina) is die 30-dae lopende SOI tans op +1.6 in vergelying met einde Desember 2021 toe dit op +13 was.

Indiese Oseaan

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) bly in ‘n neutrale fase alhoewel daar ‘n bietjie verwarming plaasgevind het in die westelike Indiese Oseaan noord van Madagaskar. Hierdie verwarming is tans verantwoordelik vir die ontwikkeling van tropiese storms wat die reënvalpatrone oor Suidelike Afrika op die korttermyn kan versteur.

Die eerste tropiese storm (nie sterk genoeg om as ‘n sikloon geklassifeer te kan word nie), genaamd “Ana” het in die laaste week van Januarie ontwikkel. Dit het oor Mosambiek inbeweeg met windsnelhede van tussen 70km/h en 80km/h en swaar reën veroorsaak voordat dit verswak het en die noordelike dele van Zimbabwe bereik het.

“Ana” is die eerste tropiese storm in die Indiese Oseaan hierdie seisoen soos aangedui met die eerste letter van die alfabet. Daar is jaarliks gewoonlik tussen 10 en 25 tropiese storms of siklone vanaf ongeveer Desember tot Maart in die Indiese Oseaan. Daar is aanduidings dat verdere tropiese storms kan ontwikkel in die eerste week of twee van Februarie.

Reënval- en klimaatsvooruitsigte

Somerreënvalgebied

Reënval

Alhoewel La Nina volwassenheid bereik het in die middel van Januarie 2022 sal dit steeds ‘n prominente rol speel om veral reënvaltoestande te bepaal in die periode tot voor die winter.

Die volgende word verwag vir die komende maande:

• ‘n Droër periode vanaf die laaste week van Januarie tot ongeveer die tweede deel van Februarie. Reën is wel moontlik in die eerste week van Februarie oor die sentrale tot oostelike dele wanneer die effek van die tropiese storm “Ana” verswak het.
• Reënvaltoestande behoort oor die algemeen weer heelwat te verbeter vanaf die tweede deel van Februarie, eers oor die oostelike dele en dan geleidelik uit te brei na die sentrale tot westelike dele tot in die middel van Maart.
• Vanaf die tweede deel van Maart kan droër toestande begin voorkom oor die oostelike dele met gemiddelde tot bogemiddelde reënval oor die sentrale tot westelike dele. Dit lyk ook asof daar gemiddelde tot bogemiddelde reën kan voorkom in die Noord-Kaap en steeds baie droë gedeeltes van die Oos-Kaap voor die winter.

Temperatuur

Temperature gaan gemiddeld tot selfs bogemiddeld wees tot die tweede deel van Februarie wanneer reënerige toestande gaan begin terugkeer wat temperature oor die algemeen laer gaan hou.

Die waarskynlikheid vir vroeë ryp is skraal en ernstige ryp word nie verwag voor die middel van Mei nie.

Winterreënvalgebied

Baie min reën word verwag oor die Suidwes-Kaap vir Februarie maar met somerreënvalstelsels wat oor die westelike dele van die land kan ontwikkel in die Maart tot April periode, kan somerreënval met donderstorms voorkom. Die begin van die werklike winterreënval seisoen as gevolg van koue fronte wat oor die suidelike Atlantiese Oseaan ontwikkel sal laat wees en word dit eers in Mei of selfs later verwag.

Meer reën is moontlik selfs in Februarie oor die Suidkaap en Tuinroete as gevolg van somerreënvalstelsels.

Temperatuur

Warm tot baie warm toestande word verwag vir ten minste die volgende ses weke, veral oor die sentrale tot westelike dele van die Weskaap.

Namibië

Baie min reën het oor die grootste deel van Namibiëvoorgekom tot ongeveer die middel van Januarie 2022. Tropiese vog vanaf sentraal en wes Afrika het hoofsaaklik oor Botswana suidwaarts na Suid-Afrika beweeg en oos van Namibië verbygegaan. Swaar neerslae het egter begin voorkom in die derde week van Januarie 2022 oor groot dele van Namibië en plek-plek het selfs vloedtoestande voorgekom.

Langertermyn vooruitsigte is steeds baie gunstig vir die periode tot voor die winter. Die impak van La Nina moet nog deurwerk en gemiddelde tot bogemiddelde reënval word steeds verwag in die komende maande. Op die korttermyn sal toestande weer begin verbeter oor die noordelike dele vanaf veral die tweede deel van Februarie en behoort uit te brei oor die sentrale tot suidelike dele in die Maart tot Mei periode.

Opsomming en samevatting

• La Nina het volwassenheid bereik in die middel van Januarie maar gaan steeds die weerstoestande oorheers tot in die laat herfs.

• ‘n Droër periode in die Somerreënvalgebied tot middel Februarie kan positief wees vir die herstel van grane.

• Vooruitsigte vir reën is steeds baie gunstig vir die Somerreënvalgebied vanaf die tweede deel van Februarie .

• Die suidwestelike dele van die Winterreënvalgebied kan droë en warm toestande verwag vir ten minste die hele Februarie maar meer reën is moontlik oor die Suidkaap in die periode voor die winter. ‘n Baie laat begin van die werklike winterreënval is moontlik.

Vrywaring: Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0