NMI (Northmec Implements) het grootskaalwerktuie vir grootskaalboere

20250513_111039
Die KELLY Diamond Harrow 40-grondbewerkingstelsel wat by Nortmec Implements se NAMPO-standplaas te siene was.
As jy van horison tot horison wil boer, het jy werktuie nodig wat die werk kan doen. By Northmec Implements (NMI) kan jy die grootskaal -werktuie kry wat jy nodig het om jou boerdery ՚n groot sukses te maak. Die span van NMI was tydens NAMPO 2025 byderhand om boere te help om die regte werktuie vir hulle boerderye te kies.
Daniel Dames, sakebestuurder by Northmec Implements, sê wanneer jy ernstig is oor hektare per dag, dan het NMI die masjien vir jou. Van die groot masjiene by hulle uitstalling tydens NAMPO was die KELLY-grondbewerkingstelsel, Geringhoff se Mais Star-mielieplukkerkop, TruFlex-fyngraantafel en Bunning Lowlander 180-strooier.
KELLY
NMI is trotse verspreiders van KELLY-grondbewerkingstelsels in Suid-Afrika en hulle verskaf masjiene wat van vier

Daniel Dames, sakebestuurder by Northmec Implements gesels oor die KELLY-grondbewerkingstelsels.
tot twaalf meter wyd werk,maar as ՚n boer nog wyer wil werk, kan hulle bewerkers van tot agttien meter invoer. “Die masjien kan opgestel word vir elke toepassing of grondtipe,” vertel Daniel.
KELLY-grondbewerkingstelsels staan bekend vir hulle verminderde insetkostes, onkruidbeheer, oesrestebestuur en saadbedvoorbereiding. Dit is jou alles-in-een masjien vir heeljaarbewerking. Die stelsel gebruik ՚n reeks skottels om veelsydige multivlakbewerkings uit te voer. Die KELLY is oorspronklik ontwerp vir oesreste na oes, maar word ook gebruik om ՚n saadbed gelyk maak, dekgewasse te inkorporeer en onkruid te verwyder. Met die KELLY-skottelrye kan jy ՚n wye reeds grondbewerkings uitvoer.
“Die groot voordeel wat hierdie werktuig vir jou bied, is dat hy jou eerste of tweede spruitsels uitsny as jy hom reg gebruik,” verduidelik Daniel.
Die masjien trek die bossies met wortel en al uit en gooi dit bo op die grond sodat die son dit doodbrand. Algaande sal ՚n mens die verskil op jou lande sien en volgens Daniel betaal die werktuig homself kort voor lank af.
Geringhoff
Nog werktuie vir grootskaalboerdery wat NMI invoer is die Geringhoff-reeks. NMI voer mielieplukkerkoppe van tot 24 rye in en koringtafels van tot 15 meter. Daniel vertel die hoofvoordeel wat die Geringhoff-mielieplukkerkoppejou bied is dat dit die tafel en die stroper sinkroniseer en verseker dat jou stroper te alle tye op kapasiteit bly en sodoende vermorsing verminder.

Geringhoff se TruFlex-kleingraantafel.
Die TrueFlex-fyngraantafels van tot 10 meter het drie seksies wat afsonderlik skarnier om te verseker dat jy al die sojabone op jou lande oes, selfs al is daar kontoere.

Geringhoff se Mais Star-mielieplukkerkop.
Die waggelkaste (wobble boxes) is in die middel van die tafel geplaas om die tafel gebalanseerd te hou.
Daar is ook vir hierdie tafels ՚n kanolastel beskikbaar sodat die Kaapse boere hulle kanolalande kan stroop.
“Volgens ons navorsing is die vermorsing op hierdie tafel ook baie minder as van die mededingers s’n, so hy sit meer geld in jou sak,” voeg Daniel by.
Bunning
NMI bied ook een van die beste strooiers op die mark, die Bunning Lowlander 180 wat van Engeland af ingevoer word. “Top Gear het ՚n paar jaar gelede ՚n motorkar in hierdie strooier gesit en hy het die hele motorkar opgesny. Dit wys dat hierdie strooier robuus is en baie lank gaan hou. Dit is ՚n strooier wat vir swaardiens gebou is,” vertel Daniel.
Die Bunning Lowlander 180 het ՚n drakrag van 18 ton en kan alle soorte mis en materiaal hanteer. Met sy twee vertikale awegaars is die strooier mooi gebalanseerd.
Indien jy op soek is na werktuie wat groot, taai take op jou plaas flink kan afhandel, kontak Northmec Implements. Hulle kundige personeel sal jou help om die regte werktuig vir die regte taak aan te skaf.
Besoek gerus NMI se webtuiste by www.northmecimp.co.za om met hulle in verbinding te tree.