Boerbokram reik na die sterre met prys van R2,3-miljoen

boerbokram
Vir William Smit, besturende direkteur van VEA Stud Breeders, is Next Level nie net ’n boerbokram nie, dis ’n droom wat vlerke gekry het. Hierdie uitsonderlike ram, wat onlangs vir ’n rekordbedrag van R2,3-miljoen aangekoop is, is die nuutste trots van ’n stoet wat met oorgawe en toewyding geteel word.
Next Level, geteel deur die welbekende Lukas en Abraham Burger van Griekwastad, is pas bekroon as agttand-wêreldkampioen tydens die SA Boerbok Wêreldskou in Bloemfontein – ’n prestasie wat sy naam reeds in die boerbokgeskiedenis inskryf. Die ooreenkoms tussen VEA Stud Breeders en die Burgers is privaat gesluit vroeër in die jaar, maar die impak van dié transaksie eggo wyd.
“Hierdie ram is ’n een-in-’n-leeftyd tipe dier,” sê William met oortuiging. “Volgens die stoetteelstandaarde is hy so naby aan perfek as wat ’n mens kan kry – sy kop, sy kleur, sy raamwerk, alles is net reg.” William straal wanneer hy oor Next Level praat.
Prentjiebok met presisie geteel
“Next Level se kleur is uitsonderlik, die kopstruktuur lank en breed, sy horingformasie 100% korrek. Sy nek dra sy kop met trots, wat vir ons ’n swaar, dominante tipe gee. Sy beenwerk is sterk en proporsioneel – ideaal vir spiermassa en vleisproduksie,” verduidelik William.
“Sy nageslag is ewe indrukwekkend,” voeg William by. “Jy kan hom op enige ooi gebruik en die uitkoms is keer op keer buitengewoon. Een van sy dogters het selfs tweede plek behaal in die Wêreldskou!”
Droomkudde
Next Level se toekoms lê in ’n spesiale teelprojek met sorgvuldig uitgesoekte ooie. “Enige dogter van Formule One sal ook deel wees van hierdie uitverkore groep. Ons wil die beste van die beste teel ; swaar, vinnig-groeiende diere met stoetteelstandaard-korrektheid en uitstekende karkaseienskappe.”
Wat bring Next Level wat ander nie kan nie? “Hy voeg ’n tipe by wat uniek is. Sy kleur, sy raamwerk, sy genetiese impak – dit is ongeëwenaar.”

Volgens William Smit van VEA Stud Breeders, voldoen Next Level aan al die rasstandaarde. (Bron: Verskaf)
Formule One – ‘n stamboeklegende
Hoewel Next Level nou die kroon dra, bly Formule One ’n sentrale figuur in VEA Stud Breeders se storie. “Hy het ons op die kaart gesit,” sê William. “Sy bydrae tot ons stoet, sy uniekheid, sy persoonlikheid – Formule One is ’n klas van sy eie.”
Die Formule One-lammers word binnekort bemark, maar baie van die ooie sal in die kudde bly om met Next Level geteel te word. “Dit is ’n kragtige kombinasie,” sê William. “Ons sal slegs rammetjies aanhou as hulle Formule One oortref, en dit sê baie.”
Genetika vir die toekoms
Next Level is verseker, maar die genetiese erfenis word ook deur gevriesde semen bewaar. “Ons sal strooitjies produseer, soos met Formule One, maar dit sal eers later te koop wees,” verduidelik William. “Dié ramme herdefinieer die bedryf; hulle is nasionale bates.”
William het groot respek vir die Burger-stoet, wat al menige legendes opgelewer het. Maar, sê hy met oortuiging, “Next Level is in ’n klas van sy eie. Daar is niks soortgelyks in Suid-Afrika nie en dalk nêrens in die wêreld vir die volgende dekades nie”.
’n Visie vir wêreldklas-boerbokke
VEA Stud Breeders het ’n duidelike visie: om die wêreld se swaarste, snelgroeiendste boerbokke met die hoogste genetiese en fenotipiese standaarde te teel. “Met ramme soos Formule One en Next Level, is daardie droom binne bereik.”

Lob-ear-bokke vorm ook deel van VEA Stud Breeders se sakeplan. (Bron: Verskaf)
Meer as net boerbokke
Hoewel boerbokke die hart van VEA Stud Breeders vorm, is die onderneming veel meer, soos die inheemse veldbok Cape Lob-ears. Daar word met sowat 80 van dié ooitjies met hulle uitsonderlike kleure en velpatrone op ‘n afsonderlike deel van die plaas geboer.
Onder die Goats Window-handelsmerk het hulle ook die Fortune 500-projek. Top wild soos buffels, springbokke en koningswildebeeste word geteel met dieselfde standaard van genetiese uitnemendheid. “Ons wil die beste jagbulle teel en die mooiste vroulike diere in die mark aanbied,” sê William.
Springbokke met lang horings en koningswildebeeste van hoogstaande gehalte is volgende op die lys. “Die mark is gereed, en ons wil voor wees,” sê hy met vuur in sy stem.
’n Toekoms van krag, toewyding en prestasie
Vir William Smit en sy span by VEA Stud Breeders asook by Goats Window is dit nie net ’n boerdery nie; dit is ’n roeping. Elke dier, elke teelprojek, elke besluit word met oorgawe geneem. “Dit is ons droom om ’n wêreldklas-kudde op te bou – en met ramme soos Next Level en Formule One, is ons regtig op die volgende vlak.”
Kontakbesonderhede
Kontak William Smit by VEA Stud Breeders by 082-374-8811 vir meer inligting.