Nedbank bemagtig 20 jong agripreneurs in samewerking met ‘n toonaangewende ontwikkelingsprogram
Nedbank se ontwikkelingsafdeling vir ondernemings en verskaffers is trots op hul bydrae van R6,5 miljoen ten opsigte van 20 jong Suid-Afrikaners se deelname aan Enterprising Africa Regional Network (EARN) se ontwikkelingsprogram vir agripreneurs, met die eerste groep wat in September 2023 begin het.
Die program spog met ‘n omvattende 360°-kurrikulum wat geskep is om jong Afrikane toe te rus met die nodige tegniese en sakevernuf om hul eie winsgewende, volhoubare en groei-georiënteerde kommersiële landboubesighede te ontwikkel.
Die eerste 3 maande van die program staan bekend as die Aktiveerfase, wat begin met ‘n omvattende assesserings- en kandidaatkeuringsproses, gevolg deur intensiewe vaardigheidsontwikkeling wat aan praktiese besigheidservaring en insig in die tegniese aard van landboubesigheid gewy is. Dit behels ook opleiding in beleggingsgereedheid en die skep van ‘n aanvanklike ontwikkelingsplan wat ‘n beoordeling van die grond waarop hulle gevestig sal word, asook die toetsing van die grond en water insluit.
Tydens die oorblywende 9 maande van die program – die Versnelfase – voltooi leerlinge ‘n groeisiklus van een seisoen waar hulle deur middel van indiensopleiding praktiese ondervinding in kommersiële produksie opdoen. Hulle baat ook by praktiese ervaring ten opsigte van die plaasbedrywighede, infrastruktuur en fasiliteite wat nodig is om groei-georiënteerde landboubesighede te bedryf en kry toegang tot deurlopende afrigting en mentorskap om hulle geesdrif verder op te wek.
Kobang Maluleka, Besturende Direkteur by African Greeneurs (Edms) Bpk, die landbou- en opleidingsfiliaal van EARN, sê die organisasie se doelwit is om ‘n bemagtigende omgewing vir Afrika-entrepreneurs te skep om winsgewende en volhoubare besighede te begin wat streeksgewys asook nasionaal en internasionaal kan meeding. ‘Ons Agripreneurontwikkelingsprogram het ten doel om die noodsaaklikheid van voedselsekerheid, indiensneming, werkskepping en groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie aan te spreek. Hoewel die progam in geheel noukeurig saamgestel is om landboukampioene te skep, is daar 2 aspekte wat die program uniek maak. Die eerste is ons noukeurige kandidaatassesserings- en keuringsproses. Ons glo sterk daaraan om die toekoms van landbou en landboubesighede te bemagtig, en dit begin met die identifisering van individue met die potensiaal om werklik ‘n impak in die veld te maak.
‘Die tweede aspek is die uittreestrategie om ons leerders ‘n ekstra hupstoot te gee. Dié strategie behels na-opleiding grondplasing, wat toesien dat leerlinge op hul eie grond gevestig word wanneer hulle die program voltooi en met befondsers, verskaffers, afrigters en mentors verbind word. Hulle kry ook toegang tot verwerkingsinfrastruktuur, markte en logistiek, asook ander onskatbare ondersteuning,’ sê Maluleka.
Nedbank se Senior Bestuurder vir Ondernemingsontwikkeling, Nirmala Reddy, sê dat Nedbank aktief geleenthede soek en nastreef om gemeenskappe te ondersteun, entrepreneurs te ontwikkel, werkskepping te bevorder en by te dra tot die algehele ontwikkeling van ‘n volhoubare en robuuste sosiale struktuur in Suid-Afrika. ‘Hierdie noemenswaardige inisiatief is een van hierdie geleenthede, en Nedbank is trots om saam met African Greeneurs te werk. Met die gebruik van moderne landboumetodes, infrastruktuur en die nuutste tegnologie, help hierdie omvattende program agripreneurs om opbrengste van hoë gehalte te produseer om inkomste te genereer, werkskepping te aktiveer en by te dra tot die verbetering van hul gemeenskappe. Ons is so trots om te kan sê dat ons jong leerlinge reeds topgehalte landbouprodukte vir vele van Suid-Afrika se voorste kleinhandelaars produseer.’
Maluleka voeg by dat die program slim landbou en innovasie gebruik om jongmense na landbou te lok, terwyl dit ook produktiwiteit, doeltreffendheid en volhoubaarheid verbeter. ‘Ons doelwit spreek van ondernemingsgees: Ons beoog om 10 agripreneurs per kwartaal op hul eie produktiewe grond te vestig, of ten minste 40 per jaar. Oor 5 jaar sal ons dus ‘n minimum van 200 gevestigde agripreneurs hê wat suksesvolle landboubesighede bedryf.
‘As hierdie agripreneurs gemiddeld 50 werksgeleenthede sou skep, sal daar met net 1 stroom oor 5 jaar minstens 10 200 gewaarborgde werksgeleenthede in alleenlik primêre landbou geskep word. As jy die aantal strome verdubbel, verdubbel die aantal werksgeleenthede ook. Dit is definitief iets om na te streef, en ons is verheug dat Nedbank ons help om dit te verwesenlik,’ sluit Maluleka af.