NAMPO 2025: Waar wêreldklas landbou met plaaslike vindingrykheid saamkom

495379931_1177408031093398_2380604042951161492_n
Foto-erkenning: GraanSA. Vanaf 13 tot 16 Mei 2025 het ’n rekordgetal van 87 191 besoekers en meer as 900 uitstallers die 57ste NAMPO-oesdag bygewoon.
NAMPO-park buite Bothaville het van 13 tot 16 Mei 2025 weer sy staal gewys. Met ’n rekordgetal van 87 191 besoekers en meer as 900 uitstallers het die 57ste NAMPO-oesdag nie net sy status as die grootste graangerigte landbouskou in Suider-Afrika bevestig nie, dit het ook gewys hoekom die bedryf die land bly bou.
Die beskrywende tema “Global Agriculture, Locally!” het presies vasgevang wat op die terrein gebeur het. Internasionale tegnologie en plaaslike vasbyt het hande gevat om praktiese oplossings vir Suid-Afrikaanse boere te bied.
Skeppende denke op elke hoek
Die private sektor het weer bewys dat skeppingskrag en probleemoplossing nie wag vir regeringsbeleid nie. Of dit nou nuwe presisietegnologie, elektriese voertuie of slim gewasbeskerming was, boere kon vir elke uitdaging ’n oplossing kry.
377 vliegtuie en 69 helikopters het by die skou geland, ’n duidelike teken dat grootskaalse sake op elke vlak gedoen is. Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO-komitee, was die stemming onder produsente positief ten spyte van nat oestydtoestande wat elders werk vertraag het.

Foto-erkenning: GraanSA
Die terrein het elke dag gewemel van plaaslike en internasionale besoekers om uit te vind watter nuwe, skeppende en slim tegnologie in die landboubedryf beskikbaar is.
Skoon, georganiseerd en gasvry
Om bykans 90 000 mense oor vier dae op een plek by mekaar te bring verg enorme logistieke uitdagings. Om dan ook daardie terrein skoon en netjies te hou moes ‘n enorme taak gewees het. Tog het die organiseerders hulleself uitstekend van hul taak gekwyt. Daar was geen teken van wanorde nie en die terrein was deurlopend opgeruim en netjies. Nêrens was daar oorvol asblikke, of rommel wat gestrooi is nie, en die kleedkamers was deurlopend skoon en netjies. Só ’n vlak van netheid versterk die professionaliteit waarvoor NAMPO bekend staan en skep ’n atmosfeer waar sake sonder belemmerings gedoen kan word.
Die ekonomie van NAMPO
Daar was uitstallers wat vroeg in die week reeds bevestig het dat hulle voorraad wat op uitstalling was reeds uitverkoop is, en na die skou na hulle nuwe eienaars vervoer sou word. Die uitstallers se duur toerusting is binne die eerste twee dae deur boere opgeraap.
Buiten die handel tydens die skou gedryf word, kring die ekonomiese invloed van NAMPO veel verder uit na die omliggende dorpe. Besoekers het slaapplek bespreek in gastehuise so ver as Parys wat 110 km van NAMPO-park geleë is. Verblyf in Bothaville, Viljoenskroon, Orkney, Potchefstroom en Klerksdorp was vol bespreek. Elke vulstasie, restaurant en gasteplaas in die omgewing het voordeel getrek. Dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO (Edms) Bpk, beklemtoon dat die gehalte van sake wat by die skou gedoen word, ʼn belangriker maatstaf as blote voetverkeer is.
Internasionale skakeling
Franse, Russiese, Poolse, Nieu-Seelandse, Nederlandse, Argentynse en Brasiliaanse besoekers het sakekaarte uitgeruil. Van die VSA tot Turkye het wêreldklas ondernemings hulle nuutste tegnologie na Suid-Afrika gebring. Dit is ’n perfekte pasmaat vir die tema. Graan SA se statistiek oor die lugverkeer onderstreep hoe NAMPO as internasionale sakeplatform funksioneer.

Foto: NAMPO het boere van alle ouderdomme die geleentheid gebied om die nuutste toerusting van naderby te bekyk en te bevoel.
Beleidsdialoog sonder politieke etikette
Die skou het hoëprofiel-besoekers ontvang, onder andere president Cyril Ramaphosa en adjunk-president Paul Mashatile. Ministers, provinsiale LUR’e en opposisieleiers het die geleentheid gebruik om oor infrastruktuur, landelike veiligheid en tegnologietoegang te praat. Mashatile het landbou weer as die ruggraat van die ekonomie beskryf en belowe dat ’n taakspan na landelike veiligheid sal kyk. Graan SA het nietemin beklemtoon dat NAMPO primêr ’n boer-gefokusde platform bly vir kennisdeling en tegnologie-evaluering.
Maatskappye wat die land bou
Vir meer as ’n eeu dra organisasies soos John Deere, Senwes, Omnia en talle ander by tot die plaaslike ekonomie. Party deelnemers aan vanjaar se skou ondersteun boere al sedert die laat 1800’s. Oorloë, droogtes, depressies en beleidswisselings het hulle nie gestuit nie. Hulle bly belê, werksgeleenthede skep en verseker dat daar kos op elke Suid-Afrikaner se tafel is. NAMPO 2025 het daardie nalatenskap beklemtoon en weer gewys dat landbou nie net gewasse kweek nie, maar ’n bevolking onderhou.
NAMPO 2025 het ondubbelsinnig gewys dat Suid-Afrikaanse landbou nie passief op omstandighede wag nie, maar self oplossings skep. Van skoon toilette tot skoner tegnologie, van internasionale samewerking tot plaaslike vakmanskap, die sektor het sy stabiliserende rol in die ekonomie bevestig. Dr Tobias Doyer, Graan SA se hoof-uitvoerende beampte, herinner ons dat die ware hartklop van NAMPO in gesprekke oor saad, masjinerie en infrastruktuur lê.
Graan SA en elke uitstaller kan gelukgewens word met ’n skou wat nie net ’n rekord opgestel het nie, maar ’n nuwe maatstaf stel vir doeltreffendheid, samewerking en volhoubare groei. As hierdie toneel in 2025 die rigsnoer is, kan die bedryf met selfvertroue uitsien na NAMPO 2026, reeds beplan vir 12 tot 15 Mei 2026.
Te midde van politieke spanning en beleidsonsekerheid kan die res van die land gerus kennis neem: Boere bou steeds aan Suid-Afrika, baksteen vir baksteen en mieliepit vir mieliepit.