NAMPO 2025-hoogtepunt: Drotsky se nuwe produkte beïndruk boere

DSC_0589
Izak Wolfaardt, meganiese ingenieur by Drotsky, verduidelik die voordele van die M100-hamermeul. Links van hom pronk die P2000-menger.
Wanneer ‘n mens die naam Drotsky hoor, dink jy onmiddellik aan robuuste, betroubare verwerkingstoerusting wat al vir dekades op Suid-Afrikaanse plase hulle staal wys. By vanjaar se NAMPO het Drotsky se hamermeul-modelle en voermengers weer bewys: Drotsky se tegnologie is wel gewortel in tradisie, maar dit beweeg vorentoe saam met die boer.
“Dit is vir Drotsky baie lekker om hierdie jaar weer by NAMPO te wees. Dit is lekker om almal weer te sien, skouers te skuur en met ons gewaardeerde klante en boere te gesels,” vertel Izak Wolfaardt, meganiese ingenieur by Drotsky, met ’n breë glimlag.
Hy voeg by: “Op NAMPO vanjaar het ons ’n paar legendes, van ons ouer vlagskip-toerusting hier, en ook ’n paar nuwe produkte wat hulle debuut maak hier op NAMPO.”
Mix Pro MM1

Die Mix Pro MM1 wat ook vanjaar sy debuut by NAMPO gemaak het.
“Die eerste masjien wat vanjaar sy debuut by NAMPO maak, is die Mix Pro MM1, ‘n kompakte, enkelspaanmenger wat ontwerp is met praktiese doeleindes en Suid-Afrikaanse boere in gedagte. Hierdie robuuste eenheid meng doeltreffend, sonder om die boer bankrot te maak,” verduidelik Izak.
Die MM1 word gevoer met ’n awegaar en word aangedryf deur ’n kragtige 7,5 kW elektriese motor. Met ’n kapasiteit van een ton (twee kubieke meter) en ’n eenvoudige uitlaaimeganisme, is dit die geskikte oplossing vir kleiner voerprosesse. En soos altyd, is dié masjien vervaardig om te werk in Afrika se strawwe toestande – deur Drotsky se plaaslike span wat die boer se werklikhede eerstehands verstaan.
M8 Bottom-Drop

Hier pronk die nuwe Drotsky M8 Bottom-Drop.
Nog ’n opwindende nuwe toetreder tot Drotsky se uitstalling by NAMPO vanjaar was die M8 Bottom-Drop. “Hierdie model is deel van die bekende M-reeks hamermeulens, en wat die M8 uniek maak, is sy Bottom-Drop ontwerp – wat beteken jy kan dit stofvry voer met ’n awegaar, binne-in en uit. Dit maak werksvloei nie net netjieser nie, maar ook baie meer gesond en gerieflik – enige boer se droom!” deel Izak.
Wat hierdie model verder laat uitblink, is die toevoeging van twee magnetiese plate. Hierdie slim kenmerk help om enige staaldeeltjies wat per ongeluk in jou voer beland, doeltreffend vas te vang. Die voordeel? Jy spaar jou siwwe, hamers en ander onderdele, want daardie staal kom nie verder in die proses nie. Boonop kan jy seker wees daar is geen staaldeeltjies in jou vee se voer nie. Jy maak eenvoudig die plaat oop, en al die staal sit vas teen die magnete – eenvoudig en doeltreffend.
Stroper-hamermeul

Drotsky se stroper-hamermeul wat vanjaar tydens NAMPO aan boere gewys is .
Een van die ware legendes in Drotsky se stal, en steeds ’n staatmaker in uitdagende tye soos vanjaar, is die gewilde stroper-hamermeul. In ’n seisoen waar oeste onder druk is, bied hierdie slim masjien ’n praktiese oplossing: jy kan stroop én veevoer maak – alles in een beweging.
Izak verduidelik: “Die masjien is toegerus met ’n enkelry stroperkop wat direk aan die hamermeul gekoppel is. Dit beteken jy kan graan direk van die land af stroop en dadelik begin verwerk. Die uitlaaistelsel is volledig aanpasbaar – of jy nou in sakke, karretjies of massasakke wil werk, Drotsky pas dit aan volgens jou unieke behoeftes.
Wat hierdie model verder onderskei, is sy 3-in-1 funksionaliteit. Na afloop van die seisoen, wanneer die stroperwerk klaar is, vervang jy net die stroperkop met jou standaard hamermeul-komponente en gebruik die eenheid as ’n volwaardige tradisionele hamermeul vir die res van die jaar. Dis kostedoeltreffend, slim en gebou vir volhoubaarheid – net soos boere daarvan hou.”
M100 hamermeul
Nog ‘n reus in die Drotsky-stal wat al oor-en-oor sy plek bewys het op Suid-Afrikaanse plase, is die robuuste M100 hamermeul. Hierdie masjien funksioneer optimaal wanneer daar groot volumes verwerk moet word – hy sluk met gemak ’n hele rondebaal in, of selfs ’n big-pack-baal, afhangend van wat jou werksproses vereis.
“Die M100 is ook selfvoerend en maal teen so ’n tempo dat dit regtig nie prakties is om met massasakke te werk nie – ’n opbergbunker is geskik om die tempo by te hou. Boonop het jy die opsie om ’n bykomende vervoerband aan te bring, wat verdere outomatisering en gemak in werksvloei bring,” sê Izak.
P2000
Laaste, maar beslis nie die minste nie, is die P2000-menger – ’n beproefde eenheid wat nou met selfs meer duursaamheid spog. Hierdie model het ’n splinternuwe opgradering gekry: ‘n binnevoering van 3 mm vlekvrye staal 3CR12, wat die menger nog meer bestand maak teen slytasie en verwering – veral in intensiewe gebruikstoestande.
“Die P2000 is ’n kragtige en betroubare menger vir die boer wat groot volumes voer doeltreffend wil verwerk, met die gemoedsrus dat die toerusting gaan hou,” meen Izak.
Die opgradering wys weer Drotsky se verbintenis tot volhoubare boerdery-oplossings wat regtig werk – jaar na jaar.
Vir enige navrae het oor Drotsky se reeks produkte, besoek gerus hulle webtuiste by www.drotsky.co.za.