in

NAMPO 2019 is gereed vir landboutoekoms

This post is also available in: English

“Platform vir jou landboutoekoms,” is ‘n akkurate opsomming van wat besoekers te wagte kan wees van die NAMPO Oesdag – wat gewild is by beide produsente en ʼn groot aantal lede van die publiek wat ‘n hartsverbintenis met landbou het.

En gewild is dit beslis, want met ʼn rekord-bywoning van digby 83 000 besoekers verlede jaar, is Graan SA gereed om die 53ste Oesdag van 14 tot 17 Mei buite Bothaville in die Vrystaat aan te bied. “NAMPO is ons tentoonstellingsplatform waar produsente in aanraking kom met die jongste tegnologie. Die Oesdag is ʼn lekker droomplek waar ‘n pa en seun saam kan droom oor ʼn mooi bees of voertuig terwyl daar iets te sien is vir elkeen in die gesin,” het Jannie de Villiers, Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder gesê.

Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die Oesdagkomitee, is NAMPO ‘n topklas-skou wat vanjaar spog met 775 uitstallers, waarvan 50 internasionale uitstallers is. Georganiseerde groepe uitstallers uit die VSA, Verenigde Koninkryk, Frankryk, Brasilië, Kanada, Argentinië en Italië asook individuele uitstallers van Denemarke, China en Turkye is teenwoordig. “Die feit dat ons 60 nuwe uitstallers kan akkommodeer toon dat die Oesdag ʼn dinamiese skou is wat steeds groei en in pas bly met die jongste ontwikkelings in landbou,” het Danie bygevoeg.

Om druk op die verkeer en die invloei van voertuie te verlig, is ’n tweede ingang aan die noordekant van die terrein opgerig. Dié nuwe toevoeging, Noordhek (Hek 4), is by die Santam-saal geleë tussen die ledelokaal en die bestaande Noordhek (Hek 3). Die inwaartse vloei van besoekers behoort seepglad te verloop ná draaihekke met vaste skandeerders by alle ingange geïnstalleer is. Dit vervang die vorige handskandeerders, wat toegang vergemaklik en lang rye uitskakel.

Kaartjies kan vooraf gekoop word by www.ticketpros.co.za teen R90 per dag vir Dinsdag en Vrydag en R100 per dag vir Woensdag en Donderdag. Die kaartjies is R20 goedkoper indien dit aanlyn gekoop word. NAMPO-kaartjies is aan ‘n datum gekoppel en is net vir ‘n spesifieke dag geldig.

Graan SA ontvang oudergewoonte sy lede met trots op NAMPO Park. Die gholfkarretjieritte en stomende cappuccino en warm sjokolade, bedien deur die John Deere Financial-baristas, het al ‘n instelling geword. Verversings word deur die dag in die ledelokaal aangebied, met ʼn koel lafenis op die ledestoep voor die son begin water trek. Lede word herinner dat hul gratis kaartjies vanjaar uitsluitlik via die Joyn-app beskikbaar is. Skakels en instruksies vir Android- en Apple-slimfone is op Graan SA se webwerf beskikbaar. Teken dan in met jou selfoonnommer en kry toegang tot al Graan SA se kommunikasie, dienste en voordele op een platform.

By die ledelokaal sal produsente weer toegang hê tot lewendige Safex-inligting en die Graan SA-ekonome sal op hul pos wees om met navrae te help. ʼn “Saad tot saad”-uitstalling by die Graan SA/NAMPO Belewenissentrum in die ledelokaalingang, beeld die graanpad uit en hoe die organisasie in die graanwaardeketting ʼn bydrae lewer om volhoubare produksie te bevorder.

Bron: Graan SA

What do you think?

2 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 2

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Baanbrekersvergadering tussen landboustrukture en Fidelity ADT gee landelike veiligheid ‘n hupstoot

Trekkerverkope daal met 17% in 2019