'n Oplossing moet vinnig gevind word of…
“Grondhervorming is die vernaamste drywer van die politiek in Suid-Afrika,” reken Aggrey Mahanjana van die Afrikaboerevereniging van Suid-Afrika, AFASA. Sy organisasie het minister Gugile Nkwinti se 50/50-voorstel verwerp en glo hulle het ‘n werkbare plan om vir die regering aan te bied.
Mnr Mahanjana was een van die paneellede by die Agri Megaweek 2014 se Agri Megagroep-grondhervormingsdebat op Bredasdorp.
Op die vooraand van die Wes-Kaap Grondhervormingsberaad wat gister deur Alan Winde, minister van Ekonomiese Geleenthede in die provinsie, in Stellenbosch byeengeroep is, het hy aan die Bredasdorp-gehoor gesê dat grondhervorming ‘n risiko is wat hanteer moet word. “As ons dit nie wil hanteer en oplos nie, sal ons ekonomiese geleenthede mis en gapings laat wat die Sjinese sonder skroom sal vul.”
Sowel paneellede as lede van die publiek het tot die gevolgtrekking gekom dat die landbousektor bymekaar moet kom om ’n werkbare oplossing te vind, andersins kan landbou ’n beleid in die gesig staar wat nadelig vir die sektor en voedselsekerheid in Suid-Afrika sal wees.
Rabelani Dagadi, ‘n ontwikkelingsekonoom van Wits, sê hy glo nie dat die beleid wat Nkwinti voorgestel het dat 50% van landbougrond aan die plaaswerkers oorhandig moet word, ooit sal werklikheid word nie. Hy ondersteun grondhervorming, maar nie die wegneem van wit boere se grond nie. “Suid-Afrika benodig ‘n landbourewolusie, maar mense het nodig om te weet dat die boer nie die vyand is nie; hy is die verskaffer van ons kos,” het mnr Dagadi gesê.
Terwyl besprekings oor grondhervorming in Suid-Afrika gewoonlik vir warm debatte sorg en die humeure laat opvlam, het die bespreking verbasend kalm geëindig met paneellede en lede van die publiek wat saamgestem het oor ‘n behoefte aan verwikkelinge in die proses.
Dr John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het daarop gewys dat ’n sekere groep plase in Suid-Afrika ‘n kumulatiewe waarde van R180-miljard het, terwyl die totale skuld op hierdie grond sowat R100-miljard is. “Effektief besit die banke 60% van die landbougrond in Suid-Afrika,” het Dr Purchase gesê.
Dr Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg het beweer dat die meeste landbourolspelers dit eens is dat grondhervorming moet plaasvind. “Ons moet hierdie konsensus gebruik om in te koop in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP),” het hy gesê. Dr. Croucamp het verder beweer dat die beskerming wat die boere nodig het, vervat is in die NDP en dat dit net effens verander moet word vir die verskillende kommoditeite.