Categories: NuusPublished On: 23rd June 2023

‘n Blinknuwe 4×4 dubbelkajuit-bakkie en oorsese reis wink TLU SA Jongboer van die Jaar 2023 – Inskrywings sluit 23 Junie

By 2 min read

AdobeStock_265944043-scaled

Daar is nog net drie dae oor vir jong boere om in te skryf vir TLU SA se Jongboer van die Jaar 2023-kompetisie.

“Die Jongboerkompetisie word jaarliks beskou as een van die hoogtepunte van die kalender in TLU SA se werksaamhede,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA.

“Ons is baie ingenome en opgewonde oor die groot pryse wat vanjaar op die spel is. Buiten die gebruiklike oorsese reis, sal die wenner ook ’n dubbelkajuit 4×4-bakkie vir gebruik tydens die volgende jaar, ontvang. Die eerste drie plekke ontvang ook bykomende kontantpryse.

“Ons bedank graag ons borge, Hatfield Motor Groep, Santam Versekering, Introlab en Manitou vir die ruim pryse.”

Beoordelaars fokus op finansiële-, operasionele-, infrastruktuur-, produksie-, arbeid-, en risikobestuur, instandhoudingsprogramme, die gebruik van meganisasie en tegnologie en gemeenskapsbetrokkenheid wanneer hulle die wenner aanwys. Die suksesvolle wenboer moet ook dinamies kan kommunikeer en as ‘n ambassadeur vir TLU SA en die jongboere optree.

“Ons wil graag beklemtoon dat dit geensins gaan oor die grootte van die boerdery of die geskiedenis van die boerdery nie, maar wel oor wat die kandidaat se bydrae in die boerdery is en die kwaliteit van kundigheid wat die paneel tydens die amptelike besoeke ervaar,” sê Van Zyl. “Dit is vir die beoordelaars baie belangrik om so objektief soos wat dit menslik moontlik is, te wees tydens die beoordelingsproses.”

HOE BEOORDELING WERK:

Die paneellede het elkeen ’n lys van die onderskeie punte wat beoordeel word en enigeen van hulle kan vrae stel soos hulle dit nodig ag. Die beoordelaars bespreek hulle indrukke van die deelnemers onder geen omstandighede tydens die besoeke nie, en eers heel aan die einde nadat al die besoeke afgehandel is, word die beoordelaars se uitkomste vir die eerste keer met mekaar vergelyk.

Oor die jare het ons gevind dat die beoordelaars grootliks met mekaar saamstem oor wie die onderskeie wenners is. In die gevalle waar daar wel ’n verskil was, het die beoordelaars dan die geleentheid om te motiveer hoekom hulle ’n bepaalde kandidaat bo ’n ander stel.  Dit bring dan ’n redelik intensiewe gesprek na vore tot daar wel konsensus bereik word.

Dit is na die oordeel van die beoordelaars die mees objektiewe metode wat gebruik kan word om elke kandidaat te evalueer vir die bydrae wat gelewer word in die boerdery.

“Ons wil ons jonger boere aanmoedig om in te skryf, want dit is ook ‘n uitstekende manier vir jongboere om te leer en aan te pas,” sê hy. “Dit het al in die verlede gebeur dat ’n kandidaat na drie keer se inskrywing wel as die wenner gekies word.”

Kontak die hoofkantoor by info@tlu.co.za of 012-804-8031 om in te skryf.  

Bron: TLU SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0