Is motorversekering die moeite werd?
Dis ‘n luuksheid wat ek nie kan bekostig nie, dit sal nooit met my gebeur nie, ek glo nie in versekering nie en dit is net te duur. Dit is sommige van die redes wat mense opnoem oor hoekom hulle nie hulle voertuie verseker nie. Die redes mag geldig wees, maar op die langtermyn gaan dit duurder uitwerk, waarsku die Automobiel Assosiasie (AA).
Tussen 65% en 70% van die geskatte 12 miljoen voertuie op Suid-Afrikaanse paaie is nie verseker nie. En hierdie persentasie groei jaarliks. As jy betrokke is in ‘n ongeluk het jy net ‘n 3 uit 10 kans dat dit met iemand is wat wel verseker is en wat dan ook die skade kan dra.
“As kostes ‘n probleem is moet motoriste verskeie opsies navors om hulself ten minste ‘n bietjie dekking te gee,” raai die AA aan.
Die AA sȇ daar is verskeie faktore rondom versekering om in ag te neem:
- Moenie net jou besluit op prys baseer nie.
- As jy jou maandelikse premie verminder, oorweeg dit om af te gradeer na derdeparty brand en diefstal of slegs derdeparty om jou te dek in die geval waar jy ‘n eis teen jou kry.
- Verstaan jou bybetaling.
- Wees eerlik met jou versekeraar – gee alle feite deur wanneer jy ‘n polis oopmaak.
- As jy jou motor verseker – dek ook die inhoud van die motor.
- Vergelyk kwotasies van verskillende versekeraars. Doen navorsing en maak ‘n ingeligte besluit voor jy op ‘n spesifieke versekeraar besluit.
- Verstaan dat jy indirek betaal vir alle terugbetalingsvoordele.
- Verdeel die risiko. As jy getroud is sorg dat jy en jou vennoot twee verskillende polisse het. Dit laat elke persoon toe om sy eie versekeringsgeskiedenis op te bou, sodat die een se eise nie die ander een beїnvloed nie.
- Maak seker jy verstaan al die voordele van jou polis.
“Daar is meer redes dat jou motor verseker moet wees as dat hy nie verseker moet wees nie,” sȇ die AA. Daarom is dit maar beter om wel jou motor te verseker.
Bron: AA