Categories: NewsPublished On: 14th August 2017

Moontlike voorvalle van voëlgriep nou ook in die Wes-Kaap

By 2 min read
421 words
chicken

withoender

Die Wes-Kaap se Departement van Landbou ondersoek moontlike voorvalle van die hoogs aansteeklike H5N8 Avian influenza of voëlgriep by twee volstruisplase in die Heidelberg-omgewing. Avian influenza is ‘n beheerde siekte ingevolge die Wet op Dieresiektes, 35 van 1984.

Ondersoeke op die plase is aan die gang en albei plase is onder kwarantyn geplaas. Kwarantynmaatreëls behels geen beweging van voëls na en van die geraakte plase  nie. Mense en voertuie moet streng higiënemaatreëls nakom.

Dertien uitbrake van voëlgriep het in SA plaasgevind vanaf Junie vanjaar in Mpumalanga en Gauteng. Die uitbrake is by sewe kommersiële hoenderplase, twee groepe kuikens, drie stelle wilde voëls en een groep binnelandse ganse gevind.

Voëlgriep is ‘n virale respiratoriese siekte van voëls wat vermoedelik deur wilde trekvoëls oorgedra word. In Suidelike Afrika het die virus die pluimveebedryf ook in Zimbabwe geraak waar duisende kommersiële voëls daaraan dood is.

Hierdie virus hou geen gevaar vir mense in nie. Volstruis- en hoendervleis wat in die winkels te koop is, is veilig vir menslike gebruik.

Voëlgriep word hoofsaaklik versprei deur direkte kontak tussen gesonde en besmette voëls, of deur indirekte kontak met besmette toerusting of ander materiale. Daar is tans geen voorkomende entstof of behandeling vir H5N8 nie.

Algemene aanbevelings:

  • Dit is baie belangrik om dooie of siek voëls (wilde voëls en pluimvee) te rapporteer aan plaaslike owerhede. Inligting oor staatsveartse kan hier gekry word.
  • Boere- en pluimveeprodusente moet hulle biosekuriteitsmaatreëls aanpas om moontlike virusoordraging van wilde voëls te voorkom.
  • Dit is belangrik om pluimvee en ander diere weg te hou van wilde voëls.
  • Kommersiële pluimveebedrywighede en agterplaas pluimvee-eienaars moet die blootstelling aan die virus vermy deur nie besmette klere, skoene, voertuie of toerusting te gebruik nie.

As gevolg van die Avian infuenza H5N8-uitbraak moet die kopers of verkopers van meer as vyf lewende hoenders vir enige doeleindes anders as slagting by ‘n geregistreerde abattoir, die volgende reëls nakom:

  • Die verkopers van lewende hoenders, insluitende die kommersiële boer en die handelaars wat die hoenders koop en verkoop moet registreer by die Pluimvee Siektebestuursagentskap (PDMA).
  • Slegs geregistreerde kopers en verkopers mag handel daarmee.
  • Boere mag slegs lewende hoenders verkoop wat gesertifiseer is as gesond deur ‘n veearts of dieregesondeheidstegnikus.
  • Handelaars mag net gesonde hoenders verkoop en moet rekord daarvan hou.
  • Verkopers en kopers wat by die PDMA geregistreer is moet ‘n dokument teken om te bewys hulle voldoen aan die nodige beheermaatreëls.

Bron: Wes-Kaap regering

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0