Miltsiekte: Boere by Wildtuin moet roer om besmetting te voorkom

aasvoel
Aasvoëls wat aan ‘n karkas van ‘n dier wat van miltsiekte gevrek het vreet, kan die spore van Bacillus anthracis maklik na vee- en wildplase langs die Krugerwildtuin se grens versprei. (Bron: Pixabay)
‘n Uitbreking van miltsiekte in die Krugerwildtuin is rede tot kommer vir boere wat met vee en of wild langs die Wildtuin boer.
“Boere moenie wag totdat hulle vee of wild begin vrek nie, hulle moet onmiddellik begin om hulle diere in te ent,” se dr Gerrit Scheepers van Phalaborwa Dierekliniek.
Jaarlikse inenting teen Bacillus anthracis word deur die wet (Wet 35 van 1984) vereis en alle vee moet vanaf die ouderdom van vier maande met lewendige entstof ingeënt word.
Anders as korridorsiekte, het miltsiekte nie ‘n klassieke seisoenale tendens nie, dit breek onverwags uit. Daar is ook nie waarskuwingsimptome van die bedreiging nie, want die diere vrek binne 72 uur na besmetting. Al teken is dooie diere, dikwels naby watergate. Bloed by die dier se bek en anus, asook ‘n geswelde kop en nek, kan ‘n aanduiding wees dat die dier van miltsiekte gevrek het.
Dit is belangrik om daarop te let dat die bakterie slegs deur direkte aanraking met die liggaamsvloeistof van ‘n besmette dier oorgedra word. Daarom is dit totaal taboe is om ‘n karkas met miltsiekte oop te sny – miljoene spore van Bacillus anthracis versprei en kan tot 250 jaar in die grond voortbestaan.
- Brommer wat op die liggaamsvloeistof van diere wat van miltiekte gevrek het, kan die spore van Bacillus anthracis ver versprei. (Bron: Pixabay)
- Buffels is kwesbaar vir miltsiekte en omdat hulle in groot troppe ‘n ruk lank op dieselfde plek wei en saam by ‘n watergat gaan suip, versprei hulle die spore van Bacillus anthracis. (Bron: Pixabay)
Flink optrede
Gerrit se eerste ervaring van miltsietke was in 1993/’94 toe ‘n massiewe uitbreking op Letaba Ranch langs die Wildtuin voorgekom het. Net soos met die korridorsiekte-uitbreking vroeer vanjaar, het Gerrit se vinnige optrede toe vrugte afgewerp.
“Toe die siekte in 1993/’94 op die privaateiendom langs die Wildtuin uitbreek, het ek besef daar moet blitsig opgetree word. Ek het al die boere laat weet om onmiddellik hulle vee in te ent.”
Hy het self ingespring en veral kosbare wild soos buffels, koedoes, swartwitpense en bastergemsbokke vanuit ‘n helikopter te pyl. “Ons het tydelike bomas opgerig en so 20, 30 buffels op ‘n keer in die boma gejaag sodat hulle gepyl kan word. Die geënte buffels is uitgejaag tot op ‘n afgeleë plek voor die volgende trop gepyl is.
“Toe is ander waardevolle wild en ander vatbare populasies tot by Manyeleti en Andover Natuurreservaat geteiken. Binne twee weke was die uitbreking onder beheer.”
Volgens Gerrit het vinnige optrede, sy vaardighede en sy opleidingsagtergrond gehelp dat hy die uitbreking reg gelees het en opgetree het. “Ons het daardie jare goeie opleiding gekry en dit wat ‘n mens in die veld waarneem, lui ‘n klokkie sodat jy sinvol na die oorsaak, verloop en uitkoms kan kyk en ‘n oplossing vind.”
Veral buffels en koedoes het toe, soos nou, deurgeloop en hy het homself afgevra waarom. Buffels loop in groot troppe wat lank op ‘n weiveld en by ‘n watergat vertoef. Koedoes weer het ‘n manier om stadig en versigtig aan te stap na ‘n watergat terwyl hulle aan boomblare knibbel. Na hulle water gedrink het, vertoef hulle nog ‘n ruk by die watergat.”
Omdat besmette diere wat kom water drink dikwels by die watergate vrek, is die risiko groot dat ander diere daar besmet kan raak. Die Bacillus anthracis-spore word veral deur brommers en aasvoëls wat op die karkas van die besmette dier voed versprei. Hoewel jakkalse, hiënas en wildehonde nie vir die siekte vatbaar is nie, kan hulle ook die spore versprei.
Dis waar die risiko vir boere op vee- en wildplase naby die Wildtuin waaksaam moet wees, want aasvoëls en brommers vlieg waar hulle wil…

Hoewel roofdiere soos hiënas, jakkalse en wildehonde nie vatbaar is vir miltsiekte nie, kan hulle spore van Bacillus anthracis versprei. (Bron: Pixabay)
Geen risiko vir toeriste in die Wildtuin
SANParke het op 25 September in ‘n mediaverklaring bevestig het dat gelokaliseerde voorvalle van miltsiekte in die Wildtuin voorkom. “Die voorvalle is normaal en stem ooreen met die siekte se natuurlike siklus in die Wildtuin en hou min risiko vir besoekers in,” lui die verklaring.
Miltsiekte is endemies in die gebied en sporadiese gevalle word jaarliks veral in die noordelike dele van die Wildtuin aangemeld. Gelokaliseerde uitbrekings kom soms in die winter voor, soos die uitbreking in die Nwanetsigebied in 2015. Vanjaar se uitbreking het veral koedoes en buffels geraak, wat ook tipies is en nie die voortbestaan van hierdie spesies of die Wildtuin se biodiversiteit bedreig nie.
SANParke het besoekers verseker dat daar nie ‘n risiko van respiratoriese besmetting is nie en dat toeriste-aktiwiteite in die Wildtuin veilig is. Besoekers mag in elk geval nie hulle voertuie verlaat buiten op spesifieke plekke nie en die opgeleide gidse en personeel weet hoe om die situasie te hanteer.
Toeriste word nietemin gemaan om nie dooie diere te nader of aan te raak nie, maar dit is ook deel van die Wildtuin se standaard regulasies.

Koedoes is baie vatbaar vir miltsiekte weens hulle manier om aan blare te peusel soos wat hulle aanstap water toe. (Bron: Pixabay)
Bronverwysings
Anthrax Cases Reported in Kruger National Park – No Cause for Concern for Visitors (Mediaverklaring Verw 9/2/2 – KNP 25 September 2025. Uitgereik deur Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad (SANParks).
Basson, L, Hassim, A., Dekker, A. Gilbert, A., Beyer, W., Rossouw, J., Van Heerden, H. (2018) Blowflies as vectors of Bacillus anthracis in the Kruger National Park Koedoe
https://doi.org/10.4102/koedoe.v60i1.1468
https://scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0075-64582018000100009

