Melkboer boer klimaatslim en bespaar geld

suiwel 1
deur Tisha Steyn
Dit help nie om teen die natuur te stry nie. Die wyse boer werk saam met die natuur en die klimaat om sukses te bereik.
So ՚n wyse boer, is Henry Meyer, ՚n vyfdegeslag melkboer van die familieplaas, Pleasant View, by Ruitersbos aan die voet van die Robinsonpas. Die pas kronkel van Oudtshoorn, die hoofdorp van die Klein-Karoo, oor die Langeberg na die prentjiemooi Mosselbaai aan die Indiese Oseaan.
Henry is die afgelope klompie jare besig om oor te skakel na klimaatslim suiwelboerdery – nie omdat die pas afgelope COP26-klimaatsberaad in Glasgow die ganse wêreld in daardie rigting du nie, maar omdat dit vir hom geldelik sin uitmaak.
Die plaas is 275 ha groot en buiten 70 ha besproeiingsgrond, is daar ook 110 ha droëland. Die reënval is 680 mm per jaar. Hy kan bietjie water uit ՚n bergstroom pomp wat tot in 2015 “soort van” standhoudend was. “Sedert 1996 het die reënvalpatroon begin verander van ՚n winter- na ՚n somerreënvalstreek wat gepaardgaan met vloede,” sê Henry.
Hy maak staat op reënwater vir veesuipings, maar selfs na die afgelope tyd se goeie reëns, is sy damme nog nie vol nie. “As dit goed reën in die Klein-Karoo, voed dit die ganse berg, maar dit het nog nie genoeg gereën om die watertafel aan te vul nie.”
Henry boer die afgelope 26 jaar melkbeeste en melk tans tussen 200 en 250 jerseys wat op aangeplante kikoejoe- en lusernweiding loop. Hy boer ook met dubbeldoel Döhne-Merino’s, “’n stokperdjie wat handuit geruk het”.
Die gewasse wat hy plant, word hoofsaaklik as veevoer gebruik. In die somer word gewasse soos mielies en sorghum vir kuilvoer gebruik, terwyl hy in die winter kleingraan vir kuilvoer plant. “Ons het vanjaar die eerste keer kanola as wisselbougewas geplant. Kanola het die voordeel dat dit met ՚n smalblaar-onkuiddoder gespuit kan word wat nie op grasgewasse soos hawer of gars gebruik kan word nie,” verduidelik hy.

Insetkoste
“In die ou dae het die boere die grond meer aggressief bewerk en dit uitgeput. Diegene wat voortgaan met roofbou – wat beteken dat meer voedingstowwe uit die grond gehaal word as wat teruggesit word – se grond gaan te klein raak, want hulle opbrengs krimp. Die insetkoste is net te hoog. Suiwelboere spot dikwels: Melk kom in ՚n kunsmissakkie hier aan, en gaan in ՚n tenkwa weg.”
Die onlangse prysstyging van kuns-mis plaas veral druk op kleiner boere. “Die hoër pryse knou die kleiner boere af en dit sal my dalk ook noop om uiteindelik die bedryf te verlaat. Omdat ek nie ՚n onderneming van skaal het nie, kan ek nie ՚n beter melk- of kunsmisprys vir myself beding nie.”
Dit noop hom om weg te beweeg van die gebruik van kunsmis, maar dit is moeilik. “Ek kan nie eintlik sonder kunsmis klaarkom nie, want in die weidingstreke is ons daarvan afhanklik. Die hergroei van weidings moet so vinnig moontlik gestimuleer word en dit doen jy met kunsmis. Weiding werk in 30-dag siklusse in die somer en 40-dag siklusse in die winter. Omdat die natuurlike voedingstowwe te stadig werk, moet ons hergroei met veral stikstoftoediening aanhelp.”

Ruitersbos naby Mosselbaai loop.
Verskil tussen groot en klein suiwelboere
Groter melkboere wat meer as 1 200 koeie melk, word nie so erg geraak nie. “Melkkopers het ՚n volume-premie: hoe meer jy lewer, hoe beter is die prys wat jy kry. Dis vir hulle meer lonend om 5 000 liter per dag te laai as om 2 000 liter by ՚n kleiner suiwelboer te laai, want dit kos ewe veel. ՚n Mens is uitgelewer aan die melkkopers, want hulle weet jy het ՚n bederfbare produk wat jy nie kan terughou as die prys nie na jou smaak is nie.”
Die melkkopers is ook in ՚n dilemma, want hulle moet op internasionale markte met boere meeding wat deur hulle regerings gesubsidieer word. “Dit is hoekom ՚n mens gereeld van storting van suiwelprodukte hoor.”
Henry meen die uitskakeling van kleiner melkboere sal nie die bedryf bevoordeel nie. “As ՚n groot produsent skielik weens omstandighede nie melk kan lewer nie, beïnvloed dit nie net werksgeleenthede nie, maar uiteindelik ook voedselsekerheid.
“Volgende jaar gaan ՚n maak-of-breek jaar vir kleiner melkboere wees. Dit is jammer, want die kleiner boere skep werksgeleenthede op die platteland. Die ou wat volstruise grootmaak en vyftig koeie melk, gee minstens twee mense werk. En hy kan sy kinders deur die universiteit sit met die melkgeld …”

Beurtkrag
Beurtkrag maak suiwelboerdery nog duurder. “Wat ek bespaar omdat ek nie na die goeie reëns water hoef te pomp nie, spandeer ek op diesel vir die kragopwekker tydens melktyd soggens en saans – nie net om te melk nie, maar ook om die melk in die tenks af te koel. Dit kos tussen R500 en R600 per dag ekstra.”
Alternatiewe vir kunsmis
Volgens Henry stem al meer goeie melkboere saam dat hulle na grondgesondheid moet omsien. “Na al die jare se oormatige kunsmistoediening lê daar ՚n klomp voedingstowwe in die grond wat nog nie ontsluit is nie.”
Ekstra kunsmis help ook nie. “Wanneer dit die slag lekker reën, besluit boere sonder vooruitbeplanning of -begroting om meer sorghum, hawer of raaigras te plant. Hulle jaag koöperasie toe en laai sommer twintig sakkies kunsmis, wat hulle op die land loop uitgooi.”
Omdat hy sy sente soos enige intelligente boer omdraai, het Henry afgesien van die oorgeesdriftigheid as ՚n reënbui uitgesak het. “As gevolg van geldnood het ek self opgehou om daardie ding te doen, want al gooi ՚n mens twintig sakkies kunsmis, is dit steeds te min, en eintlik is hulle besig met roofbou. Met roofbou haal jy meer voedingstowwe uit die grond as wat jy terugsit. Al teenvoeter is om meer kunsmis te gee. Die enigste alternatief is om wisselbougewasse te plant wat voedingstowwe soos stikstof terugsit in die grond.”

Nadele van te veel kunsmis
Hy sê dit het dalk in die ou dae so gewerk dat mens maar kunsmis gegooi het en wanneer die grond uitgeput raak, nuwe lande gemaak het. “Daardie ouens se plase gaan te klein raak. Te veel kunsmis in die grond put dit so uit dat die plaas se grootte nie meer die boer gaan help nie!”
Wanneer dit baie reën, loog veral stikstof en kalium maklik uit. Koolstof hou die voedingstowwe vas en is een van die boustene van groei.
“Die minste wat ek kan doen, is om die suurgehalte (pH) deur kalk reg te stel. Ek gooi gereeld NPK — stikstof, fosfaat en kalium — veral op die dele met goeie grond. Die aanvulling van spoor-elemente bly egter agterweë — hier in die berg het ons net genoeg yster, maar nie genoeg van die ander spoor-elemente nie.”
Minimumbewerking
Henry beoefen lankal minimumbewerking, want dit kos minder om nie al die grond om te dolwe nie. Hy weet dat minder bewerking die koolstofinhoud verbeter. “Ek dink herlewingslandbou word ՚n bietjie te hoog aangeskryf, maar om die waarheid te sê, ek, waarskynlik soos die meeste ander boere, weet nie wat die begrip werklik behels nie.”

Dekgewasse
Hy sê hy is gedwing om te gaan kyk na minimumbewerking en goed soos dekgewasse, wat in Amerika gebruik word. “Omdat ek probeer kontant boer, het ek een jaar nog ՚n klompie saad oorgehad en daarvan op die mielielande uitgegooi. Dit het nogal gewerk, en later het ek dit met opset begin doen!
“My toevallige per ongeluk-gebruik van dekgewasse het my laat besef dat die plante in die mengsel mekaar ondersteun. Peulplante verleen stikstof, terwyl die grasse skaduwee op die oppervlak gooi en wortelmassa onder die grond verskaf. Die weiding was ook meer gebalanseerd en het meer kos oor ՚n langer tydperk verskaf omdat die gewasse nie almal op dieselfde tyd gereed is om bewei te word nie.”

mekaar en verskaf meer kos oor ՚n langer tydperk.
Mis en miswater
As nog ՚n teenvoeter vir die gebruik van kunsmis, ondersoek Henry die moontlikheid om mis meermale per jaar bymekaar te stoot en met ՚n misstrooier oor die weiding te strooi. “Aanvanklik het ek dit op ՚n hoop gestoot en laat lê, maar ek vermoed na vier jaar was die voedingstowwe uitgewas. Nou beplan ek om dit so drie maal per jaar veral op lande onder besproeiing te doen om meer organiese materiaal in die grond te kry.”
Hy beplan ook om miswater wat na misdamme gelei word, meer doeltreffend aan te wend. “Dis duur om sement te gooi waar die koeie staan sodat die mis na damme gevoer kan word om saam met besproeiing uitgepomp te word om meer stikstof op die landerye te kry, maar ons moet na hierdie goed begin kyk.”
Verwysing:
Henry Meyer, Pleasant View, Ruiterbos, Mosselbaai. Kontak hom by 072-372-1277 of pleasantview@vodamail.co.za