Meer oor die Handleiding vir Veediefstalvoorkoming

DSC_0493
Die Handleiding vir Veediefstalvoorkoming is die boer se een-stopgids vir die voorkoming en hantering van veediefstal. Dit dek alle aspekte van veediefstal en die bekamping daarvan.
Die RPO (Rooivleisprodusente-organisasie) het die volledige veehandleiding beskikbaar op hulle webwerf by www.rpo.co.za.
Hier is so ‘n kort kykie:
Hoofstuk 1
Dit handel oor die merk van vee. Die toename in veediefstal kan in baie gevalle toegeskryf word aan die feit dat vee nie behoorlik gemerk is nie. Voerkrale, boere, spekulante, afslaers, abattoirs en kopers op veilings kan wetend of onwetend ontvangers van gesteelde vee wees. Hulle oortree dan die wet en kan swaar beboet of vervolg word. Die identifikasie van diere, wetlike implikasies en regulasies word omskryf, terwyl dit ook ‘n merkgids vir warmbrand, vriesbrand en tatoeëring bevat.
Hoofstuk 2
Hierdie hoofstuk handel oor die bemarking van diere. Dit is ‘n boerderyproses wat met bepaalde besluite gepaard gaan. Faktore soos die diere se ouderdom, gewig, geslag, vrugbaarheid en nog baie ander speel ‘n rol. Die hoofrede is ekonomies: die diere word vir finansiële gewin verkoop. Die finansiële sy van bemarking sluit die gebruik van die kwitansieboek, tjekboek, elektroniese finansiële oorplasings, die BTW-faktuur en verwante aspekte in. Daarmee is die meeste vee-eienaars pligsgetrou, maar hulle besef nie dat hulle moontlik ander wetgewing oortree wat nie verband hou met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie. Wetgewing wat die bemarking van vee reguleer, beskerm die eienaar en alle rolspelers in die rooivleiswaardeketting aan wie die vee gelewer word. Hiervoor is die Wet op Veediefstal, Wet 57 van 1959 en die Wet op die Identifikasie van Diere, Wet 6 van 2002 gepromulgeer. Albei is steeds van krag. Die wette hanteer twee spesifieke aspekte van die bemarking van vee, naamlik die koop en verkoop asook die vervoer van vee, wat in Hoofstuk 2 bespreek word.
Hoofstuk 3
Hier word bekyk wat gebeur wanneer veediefstal plaasvind. Wanneer vee-eienaars slagoffers van veediefstal word, kan hulle ‘n aktiewe rol in die voorkoming van verdere diefstalle speel deur die plaaslike SAPD en die Veediefstaleenheid gedurende die ondersoek te ondersteun. Baie veediefstalsake word nie bevredigend opgelos nie weens onvoldoende getuienis en bewyse of onvolledige verklarings. Dit gebeur ook dikwels dat gesteelde vee nie positief uitgeken kan word nie en die betrokke eienaar nie eienaarskap kan bewys nie. Spesifieke aspekte wat in hierdie hoofstuk omskryf word, is die bewaring van die misdaadtoneel en bewyse, die aanmelding van veediefstalsake, die gebruik van DNS-tegnologie, die klaer se verklaring, addisionele klagtes van dieremishandeling, die Slagoffershandves, en wat om te doen as ‘n ondersoek onbevredigend uitgevoer is.
Hoofstuk 4
Dit handel oor die Strafregstelsel. Strafprosesreg is ‘n samestelling van reels en prosedures wat die hele proses van misdaadvervolging reguleer. Dit reël onder meer inhegtenisname, borg, die verhoor, vonnis en appèl. Die vernaamste bron van die Suid-Afrikaanse strafprosesreg is die Strafproseswet, Wet 51 van 1977. Die Grondwet vervat ook belangrike beginsels van die strafproses, veral in die Handves van Menseregte. Die Handves van Menseregte verskans byvoorbeeld elke beskuldigde persoon se reg tot ‘n regverdige verhoor. In hoofstuk 4 word die stappe in die Strafregstelsel bekyk, asook die regte van slagoffers, prosedures vir ‘n hofverskyning, uitstel van die hofsaak, vergoeding, die werking van Paroolrade en meganismes vir klagtes.
Hoofstuk 5
Hier word ander toepaslike wetgewing van naderby bekyk. Die Wet op Identifikasie van Diere en die Wet op Veediefstal is die twee wette wat algemeen met veediefstal geassosieer word. Daar is ander wette wat ook oortree word wanneer vee gesteel word, soos die Omheiningswet, Wet 31 van 1963 en die Wet op Oortreding, Wet 6 van 1959. Boere moet kennis dra van die inhoud van hierdie wetgewing en die addisionele oortredings ingevolge hierdie wette wat by die klagstaat van die veedief gevoeg kan word. Die Skutwet, die Wet op Oortreding, die Omheiningswet, die Dierebeskermingswet, die Wet op die Aanpassing van Boetes, en die onwettige jag met honde word ook omskryf.
Hoofstuk 6
Die voorkoming van veediefstal word in hierdie hoofstuk behandel, dus is dit die belangrikste hoofstuk. Veediefstal kan op verskillende maniere bekamp word. Vee-eienaars kan self sorg dat die diefstalrisiko op hulle eiendom verminder word. Die veediefstalvoorkomingsforums en inligtingsentrums verdien ook die ondersteuning van elke vee-eienaar. Die hoofstuk bevat onder meer veiligheidswenke, besonderhede oor die werking van die Veediefstalvoorkomingsforums, Veediefstalinligtingsentrums en kontakbesonderhede.