Categories: NuusPublished On: 23rd January 2023

Matriekuitslae plaas landbouonderwys onder vergrootglas

By 1 min read
274 words

books-g580a8d7f6_1920

(Bron: Pixabay by Gerhard)

“Dit is ons jeug wat landbou in Suid-Afrika moet laat voortleef. Dit is die generasie wat Suid-Afrika in die nabye toekoms van voedsel moet voorsien,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Matriekuitslae wat vandeesweek bekend gemaak is, plaas weer die kollig op die jeug wie mettertyd aan die stuur van Suid-Afrika sal staan. Die huidige werkloosheidsyfer is nie ʼn troos dat matrieks van werk verseker is nie en ekonome beklemtoon gedurig die belangrikheid van entrepreneurskap en selfvoorsiening.

Landbou maak deel uit van die KABV-skoolkurrikulum. “Landbou word reeds vanaf graad 8 by ons aangebied met landboubestuurspraktyk, landboutegnologie en landbouwetenskap tot op graad 12-vlak,” sê dr. Frik Steenkamp, skoolhoof van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp wat self ʼn BAgric-graad het, asook ʼn BSc-honneurs in agronomie. “Leerders kry uitstekende praktiese blootstelling. Hulle doen graanhanteringskursusse, Simmentaler- en Dorperbeoordelingskursusse, kyk hoe sybokhaarboere skeer, bou hekke en selfs ʼn perdekar. Die leerders neem aan verskeie jeugskoue deel en Wesvalia bied self ook binnekort ʼn jeugskou aan.”

Noordwes spog met die Suid-Afrikaanse konynkampioen (Sannieshof) en sybokkampioen (Wesvalia). Steenkamp noem ook dat hoewel landbou op skoolvlak tans baie lewendig is, daar ʼn groot tekort is aan onderwysers wat spesifiek in landbou opgelei is.

Volgens statistiek wat die departement van onderwys vandag uitgereik het, was daar verlede jaar 125 353 matrieks wat landbouwetenskap as vak geneem het en is dit een van die 10 gewildste vakke onder SA-leerders.

Van Zyl beklemtoon die belangrikheid wat boere speel: “Landbou leef. Landbou sal altyd leef, en dit is in ons boere se hande om hierdie kosbare erfenis aan ons kinders oor te dra.”

Van Zyl sal vanaand tydens ʼn spoggeleentheid ʼn trofee wat deur TLU SA geborg word aan die beste BCVO-landboustudent oorhandig.

Bron: TLU SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0