Matie-navorsers maak plan om heuningbedrog in SA vas te vat

Honeycomb
Voedselwetenskaplikes en navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Rome La Sapienza het ‘n vinnige en gebruikersvriendelike metode ontwikkel wat Suid-Afrikaanse heuningprodusente en -verspreiders kan gebruik om te toets of die produkte wat hulle verkoop die ware Jakob is.
Die metode is spesifiek vir die Suid-Afrikaanse mark ontwikkel. Dit behels die gebruik van naby-infrarooi (NIR) spektroskopiese tegnologie. Die navorsing word in ‘n nuwe artikel in die internasionale vaktydskrif Food Control bespreek. Die navorsers sê die toetse kan maklik op ‘n plaas of in ‘n fabriek gedoen word, omdat draagbare of mobiele NIR-toestelle beskikbaar is.
Die navorsing is gedoen deur dr Anina Guelpa, as deel van haar vroeëre nadoktorale studies in die US se Departement Voedselwetenskap en die Sentrale Analitiese Fasiliteit (SAF) se CT-Skandeerderfasiliteit. Sy is daarin bygestaan deur haar studieleier, NIR-spektroskopiekenner prof Marena Manley van die US Departement Voedselwetenskap, US-navorsers dr Anton du Plessis en dr Ruhan Slabbert, en dr Federico Marini van die Universiteit van Rome La Sapienza in Italië.
Volgens die Suid-Afrikaanse Byeboerindustrie word tot 1500 ton heuning jaarliks plaaslik geproduseer. Dit voldoen egter nie in verbruikersaanvraag nie, en daarom word ongeveer dieselfde hoeveelheid jaarliks ook ingevoer – dikwels teen ‘n heelwat laer prys as waarteen plaaslike heuning verkoop word.
Omdat heuning ‘n voedselsoort is waarvoor ‘n premie betaal word, is dit ongelukkig dikwels die teiken van onderduimse praktyke. Goedkoop suikerstroop word byvoorbeeld soms bygevoeg by heuning, terwyl in ander gevalle hoë gehalte heuning vermeng word met laer kwaliteit heuning. Soms word produkte ook wederregterlik geëtiketteer asof dit van Suid-Afrika kom, maar in werklikheid is die heuning ingevoer of met buitelandse produkte verdun.
“Nie net word die verbruiker sodoende mislei nie, maar dit beteken ook toenemend dat plaaslike produsente nie meer kan meeding teen die lae pryse waarteen hierdie vervalste produkte verkoop word nie,” verduidelik prof Manley.
Volgens haar was daar ‘n behoefte aan ‘n vinnige, maklike, goedkoop klassifikasiemetode wat nie die monsters wat getoets word in die proses vernietig nie. Sodoende kan moontlike bedrog in die Suid-Afrikaanse heuningbedryf makliker vasgevat word.
Daar is reeds metodes beskikbaar waarmee heuning getoets kan word, soos stabiele koolstofisotoop ratio massaspektrmetrie (SCIRA) of termiese analisering. Hierdie metodes is egter duur, tydrowend en in die meeste gevalle word die produk wat getoets word vernietig.
Die navorsingspan het daarom op naby-infrarooi (NIR) spektroskopie besluit omdat die tegniek reeds voorheen in internasionale studies gebruik is om te bepaal van watter soort blomme sekere heuning gemaak word, asook die geografiese en botaniese oorsprong daarvan.
Deur ‘n wiskundige vergelyking te ontwikkel vanaf die beskikbare spektrale inligting van ‘n monster kon dr Guelpa bepaal of die heuning deur Suid-Afrikaanse bye gemaak is of nie. Danksy die tegniek kan mens ook vasstel of enige suiker (soos glukose of fruktose) of enige nie-Suid-Afrikaanse heuning dalk daarby gevoeg is. Die metode tel dit selfs op wanneer net ‘n klein bietjie suiker bygevoeg is.
“Alle eg Suid-Afrikaanse heuning deel sekere spesifieke spektroskopiese karaktereienskappe, ongeag van die streek waarvandaan dit kom of die soort blom wat die bye as bron gebruik het,” verduidelik prof Manley. “Hierdie streeksgebonde spektroskopiese eienskappe help ons om tussen ingevoerde of vervalste produkte te onderskei.”
Sy reken die tegniek sal weldra ook gebruik kan word om tussen verskillende soorte Suid-Afrikaanse heuningsoorte te kan onderskei, soos byvoorbeeld fynbosheuning of bloekomheuning.
Die NIR-tegniek is vinnig en maklik om te gebruik danksy die beskikbaarheid van handtoetstoestelle. Omdat die monster wat getoets word geensins vernietig word in die proses nie, kan dit geberg word sou verdere ondersoeke nodig wees.
Verwysing: Guelpa, A. et al (2017). Verification of authenticity and fraud detection in South African honey using NIR spectroscopy, Food Control, 1388-1396
Uitgereik deur Engela Duvenage, namens die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch