Marktoegang-ellende vererger met Namibië, Botswana-verbod op SA groente

fruit-and-vegetable-marketing
(Image source: pexels.com by Maria Orlova)
Agri SA het aan die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, geskryf om haar dringende ingryping te versoek nadat Botswana en Namibië eensydig opgetree het en keer dat ‘n aantal Suid-Afrikaanse landboukommoditeite hul grense binnekom.
Met werksgeleenthede en inkomste op die spel, moet die regering onmiddellik reageer op hierdie ongeregverdigde optrede wat in stryd is met die Suider-Afrikaanse Doeaneunie-ooreenkoms. Die verbod sluit tans onder meer tamaties, aartappels, beet, kool en gekleurde soetrissies in. Die optrede van Botswana en Namibië is veral ekstreem omdat dit nie spruit uit enige oortreding deur Suid-Afrikaanse boere nie.
Hierdie lande beskerm hulle eie plaaslike produksie én voort te gaan om hul produkte na Suid-Afrika uit te voer. Hierdie is nie ‘n korttermyn-maatreël nie. Die regering van Botswana beplan om die verbod oor twee jaar te hersien, en het reeds aangedui dat hierdie hersiening waarskynlik die lys van beskermde produkte sal uitbrei en nie verminder nie.
Die Suid-Afrikaanse regering moet onmiddellik optree om hierdie skadelike tendens te stuit en om te keer. Indien die regering nie die ommekeer van hierdie eensydige verbod kan verseker nie, doen Agri SA ‘n beroep op die regering om wederkerige maatreëls in werking te stel en verdere stappe te wat nodig is om plaaslike boere te beskerm. Dit sluit in die moontlike
staking van betalings aan hierdie lande uit die Gemeenskaplike Inkomstepoel (die fonds wat bestaan uit alle doeane, aksyns en bykomende belastings wat in die Gemeenskaplike Doeane-gebied ingesamel word) totdat die grense heropen word vir Suid-Afrikaanse kommoditeite.
Ongelukkig, ten spyte van die bedreiging wat die verbod vir die Suid-Afrikaanse ekonomie inhou, het die Landbouhandelsforum geen reaksie gehad op sy versoeke vir ‘n afspraak by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) nie.
Dit is diep kommerwekkend gegewe die implikasies van die ongeregverdigde verbod.
Suid-Afrikaanse boere staar reeds geweldige mededingende uitdagings in die gesig omdat die nasionale minimum loon van R23,90 die arbeidskoste in Namibië en Botswana teen onderskeidelik R12,23 en R5,05 oorskry. Die bykomende ontberinge wat die verbod op SuidAfrikaanse boere plaas, skend die letter en die gees van die Suider-Afrikaanse Doeane-unieooreenkomste.
Agri SA het ook bewus geword van beweerde pogings om Suid-Afrikaanse boere aan te moedig om bedrywighede na hierdie buurlande te verskuif, en as hierdie verbod ‘n voorloper van die agenda is, moet Suid-Afrika optree om plaaslike bedrywighede en werksgeleenthede te beskerm.
Suid-Afrika was tot op hede nog traag om op te tree deur te eis dat SADU-lidlande aan die ooreenkoms voldoen. Dit is ten spyte daarvan dat die Tuta Absoluta-plaag deur produkte uit Botswana aan Suid-Afrika oorgedra is. Die feit dat Suid-Afrika se akkommoderende benadering tot ooreenkoms begroet is met ‘n skadelike verbod, vereis daadwerklike optrede
deur die Suid-Afrikaanse regering.
Dit is noodsaaklik dat DALRRD as ‘n saak van dringendheid met die Landbouhandelsforum vergader en dat dit gepaste stappe doen voordat die landbousektor onherstelbare skade ly.
Bron: Agri SA