Categories: WheelsPublished On: 5th October 2015

MAN se trokke en busse hoort op die plaas

By 3 min read

Presies 100 jaar gelede, op 21 Junie 1915, is die Lastwagenwerke MAN-Saurer-vragmotorfabriek in die bedryfsregister van Neurenberg geskryf om kort daarna met produksie in die bekende Duitse stad te begin.

Hierdie bekende en gewilde trok- en busnaam wat vandag onder die Volkswagen-sambreel val, gee dus rede vir die 34 000 MAN-werknemers wêreldwyd om fees te vier.

Suid-Afrikaanse boere het ook rede om in die feesvieringe te deel, want sedert die maatskappy in die vroeë 1960’s hier wiel aan wal gesit het, is daar seker gemaak dat die boerderygemeenskap die MAN-ervaring beleef. Hulle 21 takke langs al die belangrike roetes en in groot sentra verseker dat ’n boer se belangrike produkte nooit te laat by hulle bestemming aankom nie.

MAN Truck & Bus en Volkswagen Truck Busses is ernstig oor die landbou en het vanjaar ’n reuse span by Nampo gehad om met die boere skouers te skuur.

Vir die boere met verreikende planne het MAN takke langs al die belangrike roetes in Sub-Sahara Afrika tot so hoog op as Suid-Sudan.

MAN- en Volkswagen-trokke word ook deur Volkswagen International in Suider-Afrika bemark. “Daar is goeie sinergie tussen die twee handelsmerke en hulle sal mekaar eerder aanvul voordat ons mededingende produkte in die mark sit,” sê Geoff du Plessis, besturende direkteur van MAN en Volkswagen se kommersiële voertuie.
MAN soek ’n oplossing vir elke vervoeruitdaging, hetsy dit perso-neel, publiek of goedere is “en daarom kom ons Nampo toe omdat dit vir ons oor die boeremark gaan en om ons stewige aandeel in die landbou te koester”, het hy tydens Nampo gesê.

Arshad Hassim, finansiële direkteur, Neels Holtzhausen, streeksverkoopsbestuurder in Bloemfontein, en Geoff du Plessis, besturende direkteur van MAN is dit al drie eens dat ’n MAN-trok veeldoelig genoeg is om aan klein en groot boere se behoeftes te voorsien.

Baie boere kan getuig dat die MAN-trok so taai soos ’n ratel is en die bewyse is daar: “Ons kry byna geen waarborgeise op MAN-/Volkswagen-trokke nie. Dit is nie ingewikkelde voertuie nie, maklik om te onderhou en altyd gereed om Afrika te trotseer,” sê Neels Holtzhausen, streeksverkoops-bestuurder in Bloemfontein.

Terwyl die MAN-trokke onder Duitse vakmanskap deurgeloop het, word die Volkswagen-trokke in Brasilië ontwikkel, wat ’n landbouland is en beroemd is vir die moeilike landboutoestande wat daar heers.

“Ons verskaf die onderstel en bak aan die kliënt. Hy kan dit dan ver-ander om produkte, beeste of skape aan te ry. Ons trokbakke kan ook met hyskrane toegerus word om dinge soos wildskratte en massasakke op te laai.

“In die plaasgemeenskap werk ’n trok nie 24 uur nie en daarom is dit belangrik dat ’n trok veeldoelig op die plaas aangewend kan word,” sê Geoff. Elke trok in die VW 17-250-reeks het ’n slaapkajuit vir die gevalle wanneer die bestuurder in die tou voor die mark of silo moet rus, of wanneer beurtbestuurders beeste oor lang afstande vervoer.
“Op die MAN-trok het ons het ’n baie mededingende waarborg van vier jaar/600 000 km, asook ’n bykomende buffer-tot-buffer waarborg van drie jaar/450 000 km teen ’n baie gunstige prys,” sê Neels.

MAN se busse is gebou vir Afrika-grondpaaie en sal gemaklik sy weg tussen die werkers se woonplek en die lande kan vind.

Net soos MAN-trokke, gaan MAN-busse in die afsienbare toekoms ’n bekende gesig op groot plase wees, omdat die wetgewing in ’n rigting mik om plaaswerkers onder dakbeskutting te vervoer. “In ons reeks is ’n lekker grootte bus vir boere wat werkers van die huis na die werksplek moet vervoer. Die busse is lekker stewig en duursaam en kan hulleself op grondpaaie handhaaf,” sê Geoff.

MAN se busse besit meer as 45% van die Suid-Afrikaanse markaandeel, waarvan 500 elke jaar by hulle aanleg in Olifantsfontein die lig sien.

Vir meer inligting, besoek MAN se webwerf by www.mantruckandbus.co.za, of skakel MAN Bloemfontein Truck & Bus 051-503-2500051-503-2500

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0