Maak veewerk maklik: Bespaar tyd en geld met Algar se toerusting

DSC_0760reg
Xander Pieterse van ProAgri is beïndruk met die ratse voermenger wat Jonathan Toxopeus, verkoopsverteenwoordiger van Algar, by NAMPO Kaap vertoon het.
Boere wat vee moet hanteer en diere wat hanteer moet word is ewe lief vir Algar se veehanteringstoerusting. Algar se toerusting is van die hoogste gehalte, is stewig, word van sterk staal gemaak, en is slim ontwerp om tyd, geld en moeite te bespaar en om diere veilig en met die minste moontlike spanning te hanteer. Wat kan mens of dier meer vra?
“Een van die groot voordele van Algar se toerusting is dat dit arbeid bespaar,” sê Jonathan Toxopeus, verkoopsverteenwoordiger van Algar. Jy het nie ‘n groot skare werkers nodig wat diere net verbouereerd maak nie.
Algar se gewildheid is weer bewys deur die talle tevrede boere wat hulle uitstalling by NAMPO Kaap besoek het. Jonatan sê: “Dit was lekker om weer in die Kaap te skou en met ons boere te gesels.”
Algar se reeks produkte wat hulle by NAMPO Kaap uitgestal het:
Skaapstelsel
Algar se skaapstelsel is een van hulle gewildste produkte. “Die invoerfuik se binnehek skuif saam met die drukhek. Dit haal die dooiekol in die hoek uit vir die skaap om in die drukgang te gaan. Die drukgang kan vanaf 500 mm na 200 mm verstel en dit keer dat kleiner diere in die gang omdraai. Die tweerigting-klashek maak klas vinnig en maklik,” voeg Jonathan by.
Beesstelsel
Die besstelsel werk baie dieselfde maar kan van 750 na 350 mm vernou, afhangende van die boer se behoefte. Die kalwers kan dan nie omdraai nie.
JayLor voermenger
Die volvoermenger word aangedryf deur ‘n Honda-petrolenjin wat elektries of met die hand aangesit kan word.
Die eenheid kan tussen 500 kg en 1 000 kg meng, afhangende van die materiaal wat gemeng word. Die hoekige vorm van die mengers in die drom sorg vir vinnige, deeglike vermenging terwyl die vereiste veselstruktuur behoue bly.
Die volvoermenger het ՚n maklike en eenvoudige uitlaat, wat met die hand gereguleer, oop en toe gemaak kan word.
Hy het ook nuldraaibeweegbaarheid en die vermoë om in klein voerruimtes te werk en te beweeg.
Skaap-hibriedekrat

Die krat werk met lugdruk vanaf ‘n klein kompressor wat aan jou bakkie se battery of elektriese kragpunt koppel. Hy kan op ‘n weegskaal gesit word en het ook ‘n sensor wat die hekkie toemaak sodra die skaap binne is.
Skaapkantelaar
Die verskuifbare skaapkantelaar maak dit maklik om skape te hanteer en onderwerp die skaap aan die minste moontlike spanning. Die opgang kan verskuif word sodat die skaap van enige kant af kan oploop. Dan word die skaap vasgeknyp en heeltemal onderstebo gekantel. Nou het die boer volle beheer oor die skaap. Slegs een persoon word benodig om met die kantelaar te werk en die dier hoef nie op ՚n presiese plek te staan nie – daar waar jy hom vasknyp, daar kan hy omdop.
Dit maak die proses makliker om jou skaap se kloue te knip, dragtigheidondersoeke te doen of hom te mikskeer. As die boer klaar is, word die skaap teruggedraai en op sy pote neergesit sodat hy rustig en kalm aan die ander kant van die kantelaar af en by die hekkie uit kan stap.
Bees nek- en lyfklamp

Bereik ՚n bees se pote, maag, rug, voorkwart, nek, boud, spene en stert met gemak.
Die toerusting word in verskeie reekse gemaak en is versink. Die swaardiens reeks word uit vierkantpyp van 50 x 50 en 3 mm wande gebou, wat jou ‘n leeftyd sal hou. Hierdie hoëdiensreeks word aanbeveel vir voerkrale en intensiewe boerderye.
Die toerusting kan ook volledig bestel word met vanghek vooraan en skuifhek agter met KI-toegangshekke opsie. Jy kan ook kies of jy jou beheerhefbomelinks of regs van die klamp wil hê. Hierdie lyfklamp stel die hanteerder in staat om enige deel van die bees se lyf sonder versperring te bereik, want hy het elf toegangshekke van die sykante af.
Daar is selfs ՚n middelbalk wat verwyder kan word om op net die regte plek ՚n brandmerk aan te bring.
Kyk hier na Algar se video van NAMPO Kaap: https://www.youtube.com/watch?v=UYEbymj40s4
Vir meer inligting oor Algar se toerusting, kontak hulle by (+27)82-324-6256 of stuur ՚n e-pos na algar@algar.co.za.