Lindie-Alet van Staden: “Ons lag in dieselfde taal”
Lindie-Alet van Staden is pas aangewys as die Wes-Kaap se algehele wenner van die provinsie se Prestige Agriwerker van die Jaar 2024.
L’Omarins
Die 34-jarige Lindie-Alet is die bestuurder van die tuin en olyfboord op L’Omarins Landgoed in Franschhoek in die Kaapse Wynlande.
Sy het in Oktober 2022 met ‘n ompad van die pos op L’Omarins te hore gekom en aansoek gedoen. “Ek kyk nie vir ‘n oomblik terug nie – ek het hier soveel geleenthede vir groei en ‘n goeie span en kollegas wat my ondersteun.”
Haar take sluit “alles wat groen is” in: Instandhouding en ontwikkeling van L’Omarins se tuine, olyfproduksie vir tafelolywe en olie, die byeboerdery, kompos- en afvalbestuur, groentetuin en vrugteboorde op die landgoed en by die proelokale, die snyblomtuin. Ook omgewingsake, koördinering van instandhouding en herstelwerk, begrotingbestuur, personeelopleiding en -bestuur.
Boerdery is in my bloed
Sy het verskeie uitdagings oorkom, maar haar sprankelende persoonlikheid, deursettingsvermoë en toewyding maak haar ‘n wenner.
Lindie-Alet is gebore en getoë op Brits in Noordwes Provinsie, waar sy skoolgegaan het tot sy BTech Hortologie Cum laude aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het.
“My pa Willem en oupa Piet was albei boere, landbou is in my bloed. Na matriek het ek dit vlugtig oorweeg om siviele ingenieurswese te gaan studeer maar besluit om eerder ‘n beroep te beoefen waar ek kan teruggee, waar ek met plante kan werk en in die natuur kan wees en dinge mooimaak eerder as om heeltyd omring te wees deur ‘n beton-oerwoud.”
Haar pa, wat in Julie 2020 kort na haar ma Sandra in Desember 2018 oorlede is, was altyd haar landbou-mentor. “Vandag nog vra ek vir myself hoe hy iets sou gedoen het in ‘n landbousituasie. “Mens kon vir ure lank vir hom luister en by hom leer. Hy het ook geglo om saam die span te werk en self sy hande vuil gemaak.
“Hy was ‘n groot man met ‘n mooi hart – hy het altyd gegee en nooit iets terugverwag nie. Hy kon nie anders as om ‘n goeie boer te wees nie, want hy het by Oupa Piet geleer.”
By hulle het sy ook geleer dat dit nie saak maak wie jy is en wat jy doen nie – almal moet gelyk hanteer word. Hulle het geglo dat respek, naas groente, die grootste gebaar is om aan jou naaste te gee.
Uitdagings
Sy moes al ‘n paar uitdagings oorkom. “My ouers kon nie vir tersiêre opleiding betaal nie en ek het eers ‘n paar jaar gewerk voor ek vir ‘n studielening by Atterbury Trust aansoek gedoen het. Dis juis waar my gunsteling aanhaling vandaan kom: Jou eerste wiele is nie ‘n spoggerige kar, jou eerste wiel is ‘n kruiwa. Dit beteken vir my dat ‘n mens jou van onder af moet opwerk.”
In 2017 is sy met veelvuldige sklerose, ‘n chroniese ontsteking van die senuweestelsel wat nie tans geneesbaar is nie, maar met medikasie verlig kan word. “Ek is aangeraai om ‘n kantoorwerk te kry, maar het besluit om myself nog meer te druk en nog meer aan te pak! Ek wil nie hê ‘n kroniese siektetoestand moet my lewe beheer nie – ek hardloop as ek moet loop, staan as ek moet sit. En glimlag as alles binne bietjie baie voel.”
Mandjies vol liefde
As kind het sy graag saam met haar pa in die groentetuin gewerk. Vandag nog is ertjies haar gunsteling en sy plant dit steeds in herinnering aan hom in haar eie groentetuin op L’Omarins.
“Ek het ‘n obsessie met groentesaad en koop saad as ek ‘n ekstra geldjie het – ek het al ‘n hele saadbank! Ek wil net alles plant, veral tamaties en skorsies. En pers wortels en swart radyse!
“Dit is vir my lekker om ‘n mandjie vreemde groentesoorte en kruie saam te neem as ons gaan kuier om as ‘n gebaar van dank te gee. En natuurlik ‘n paar vars eiers van my veervoete af. As jy die dag gelukkig is, is daar blou Easter Egger-eiers in jou mandjie.”
By die werk is sy en haar voorman Thulani Situma op die plaas besig om boomlusern vir ekstra byevoeding te plant. By haar huis op die plaas het sy nuwe besproeiing aangelê vir haar tamaties en twaalf verskillende soorte aartappels geplant. En sy is besig om ‘n kweekhuisie op te rig om die plantseisoen te verleng.
Ons lag almal in dieselfde taal
Die natuur inspireer haar. “Maak nie saak hoe rof jou dag is as jou kantoor die mooi natuur is nie. En om te sien hoe ‘n mens se harde werk deur die seisoen in iets mooi verander; om ‘n vaal stukkie tuin te bewerk en te omskep in iets groen en lewendig. Om te sien hoe die kleinste saadjie in ‘n enorme plant ontwikkel.”
Sy werk baie hard om ‘n voorbeeld te stel. “Ek moet myself net soms herinner om te stop en asem te haal! Ek probeer alles wat negatief is omdraai tot iets positief. Ek is lojaal teenoor en passievol oor my werk en die mense wat saam met my werk. Ek maak tuin, boer met olywe vir eet en olie en bye by die werk, én in my eie tuin. Elke jaar met my verjaarsdag vat ek ‘n dag verlof om saadjies te saai.”
Mense, elk met ‘n eie persoonlikheid, taal en ouderdom inspireer haar ook: “Om hulle te leer ken en te besef dit maak nie saak hoeveel ons van mekaar verskil nie: Ons lag in dieselfde taal. Daar is niks mooier as ‘n glimlag nie – in ‘n glimlag sien mens ander mense regtig raak, veral as jou oë saam glimlag.”
Sê nie nee vir uitdagings nie
“Ek sê nie maklik nee nie en pak altyd ekstra uitdagings aan!” verklaar sy onomwonde.
Sinvolle kommunikasie is die grootste uitdaging by die werk. “Taalverskille maak dit soms moeilik om ‘n boodskap oor te dra, maar ons almal glimlag in dieselfde taal en ons help graag die mense wat bietjie sukkel met ‘n glimlag. Dit help dat ek die wêreld se geduld het!”
Dit is ook belangrik om direk te kommunikeer. “Ek dink as jy van aangesig tot aangesig is, word ‘n saak baie vinniger opgelos. Mens lees soms te veel in ‘n boodskap of e-pos.”
Sy hanteer konflik so: “Ek glo aan diep asem haal, ‘n draai in die natuur loop en eers wanneer jy rustig is ‘n gesprek met die betrokke persoon aanknoop. Ons is geneig om te maklik ons lont te laat vlamvat. As jy eers stil raak en dink wat jou eintlik ontstel het, het jy lankal vergeet.”
Sy komplementeer graag haar spanlede wanneer hulle ‘n taak goed afgehandel het.
“Dis net menslik om goed te voel as iemand vir jou sê jou harde werk word raakgesien.”
Dit frustreer haar dat werkgewers soms nie die waarde van hulle personeel besef nie, of wanneer mense nie eienaarskap aanvaar nie.
Respek
Sy glo alle mense moet met respek behandel word. “Ek glo in groet, in opregte belangstelling in mense se lewens. Die oomblik as jy belangstel en sien waardeur hulle moet gaan kan jy soveel meer waarde tot hulle lewens toevoeg.”
Haar medewerkers se diversiteit inspireer haar. “Dis lekker om te hoor watter pad hulle gestap het om tot hier te kom. Dat hulle saam met my druk om ‘n projek af te handel as is dit hoe warm of al reën ons nat. Dat my span uit hulle pad gaan vir my en my op hulle hand dra. En hulle sêgoed laat my lekker lag!”
Sy het lankal besef boekekennis weeg nie so baie soos ervaring nie. “As jy wil weet of iets werk of kommentaar oor iets wil lewer, moenie aanneem dat jy weet voordat jy dit self doen het nie. Nie voordat jy self vuil geword het en onder ‘n 40 °C-grade son gebak het nie.”
Die vier seisoene wat elke dag in die Wes-Kaap inhou, veral hier aan die voet van die Hottentots-Hollandsberge, is beslis ook ‘n uitdaging. “As dit reën het ons darem ‘n lekker skuur waar ons plantmateriaal vestig vir oorplanting.”
Aanhou kruiwa stoot
Haar toekomsdrome sluit in om eendag haar eie plaas te hê waar sy genoeg ruimte het om pampoene te plant! “Ek wil nie baie geld hê nie, ek wil net hoop in mense wakker maak dat iets so eenvoudig soos ‘n pampoen vir jou geluk kan bring.”
En om die doel te bereik? “Aanhou hard werk, aanhou kruiwa stoot en aanhou hardloop. Jy waardeer die oes soveel meer as jy self die saadjie gesaai het.”
“Ons werkers is nie gesigloos nie”
Die jaarlikse Prestige Agriwerker-kompetisie gee erkenning aan die noodsaaklike rol wat plaaswerkers in die groeiende ekonomie en voedselsekerheid in die Wes-Kaap speel. Die deelnemers word deur hulle landbou-ondernemings in 15 streke ingeskryf en ding mee in 11 kategorieë.
“Ons werkers is nie gesigloos nie,” het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme tydens die glansgeleentheid by Rheebokskloof Wynlandgoed in die Paarl gesê.