Lewende hawe keer terug na NAMPO ALFA 2026

nampo alfa
Veeboere, telers, landbouers en rolspelers in die landboubedryf kan uitsien na die terugkeer van lewende hawe by NAMPO ALFA 2026, wat op 2 en 3 Oktober 2026 op NAMPO Park aangebied word.
Dié aankondiging is belangrik vir telers en uitstallers, aangesien die voorbereiding van skoudiere maande se voorbereiding verg. NAMPO ALFA sal die eerste geleentheid in 2026 wat aankondig dat lewendehawe by die geleentheid uitgestal sal word. Produsente, telers en landbouers kan dus uitsien om diere by hierdie geleentheid te sien en deelneem aan die verskillende projekte wat by NAMPO ALFA aangebied word.
NAMPO ALFA, Suid-Afrika se voorste platform vir lewende hawe, jag, buitelewe en landbouvaardighede, het die afgelope paar jaar, soos talle ander landbougeleenthede, onder die impak van Covid-19 en bek-en-klouseer-uitbrekings gebuk gegaan. Die uitstalling van gespletehoefdiere by landbougeleenthede is gevolglik ernstig beperk.
Die organiseerders van NAMPO ALFA 2026 is egter verheug om aan te kondig dat daar beplan word om weer lewende hawe by vanjaar se geleentheid te akkommodeer, onderhewig aan toepaslike biosekuriteitsmaatreëls en die protokol wat vir die geleentheid sal geld.
Volgens dr. Danie Odendaal, wat in 2018 die eerste biosekuriteitsprotokol vir lewendehawegeleenthede opgestel het, maak verbeterde toegang tot entstof en die vordering met inentings dit moontlik om verantwoordelik vorentoe te beweeg.
“Die beginsel bly dat slegs diere wat aan die toepaslike gesondheids- en biosekuriteitsvereistes voldoen, by die geleentheid toegelaat sal word. Die doel is om deelname moontlik te maak, maar steeds die veiligheid van diere en die groter bedryf voorop te stel,” sê Odendaal.
Dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, benadruk dat die besluit met groot verantwoordelikheid geneem word.
“Die veiligheid van diere, uitstallers en besoekers bly vir ons ’n prioriteit. NAMPO ALFA is ’n belangrike platform vir die lewendehawebedryf, maar dit moet op ’n verantwoordelike wyse aangebied word. Daarom sal normale biosekuriteitsmaatreëls steeds streng toegepas word, en verdere besonderhede oor die protokol sal met deelnemers gedeel word namate dit gefinaliseer word,” sê Strydom.
Volgens Lizette Vermaak, mede-organiseerder van die veeprogram by NAMPO ALFA, beteken die aankondiging dat genootskappe en telers nou met groter sekerheid kan begin beplan.
“Hierdie aankondiging gee telers die geleentheid om hul diere betyds voor te berei en gee genootskappe die geleentheid om hul uitstalruimtes ten volle te benut. Dit is ’n belangrike stap vir die lewendehawebedryf en vir almal wat daarna uitsien om weer diere by NAMPO ALFA te sien,” sê Vermaak.
Albert Loubser voeg by dat besoekers kan uitsien na ’n omvattende lewendehaweprogram wat verskeie hoogtepunte insluit.
Die program sal onder meer die Old Mutual Nasionale Interras Kampioenskappe, die Nasionale Interras Vereniging se program, die Voermol Mega-os, asook die lewendehawe-afdeling van die Farm Skills Nasionale Landbouskoleprogram insluit. Daar word ook beplan vir ’n opwindende kleinvee- en grootveeprogram, rasbekendstellings aan boere en beoordelaars, asook ’n kudde-evaluering deur Pikkie Uys.
Benewens die lewendehaweprogram sal NAMPO ALFA 2026 ook ’n wyer gesins- en landbouprogram aanbied, waaronder ’n Afrikaanse musiekfees, Afrikaans @ NAMPO ALFA, kampgeleenthede vir besoekers, en Landbouweekblad se “Vir die Boer”-program. Die Sondag ná NAMPO ALFA word daar ook ’n biddag en gospelfees op die terrein beplan.
Die volledige program en verdere besonderhede sal binnekort op www.nampoalfa.com beskikbaar wees.
Uitgereik deur: Graan SA & ALFA