LEMKEN wys weer bewese tegnologie by NAMPO 2025

IMG_4044
Die LEMKEN Thulit is onkruid se tier. Hierdie implement het talle boere se aandag getrek tydens NAMPO.
By LEMKEN hoef niks regtig bekendgestel te word nie … die naam is al lank sinoniem met gehalte, betroubaarheid en beproefde landboutoerusting wat sy staal wys in Suid-Afrikaanse lande. Tog het LEMKEN by NAMPO 2025 weer gewys hoekom hulle boere se vertroue jaar ná jaar wen.
Met ’n indrukwekkende vertoning van hulle kernprodukte en vernuwende oplossings vir moderne boerdery, het die blou toerusting nie net geglim onder die son nie, maar ook gesprekke aangevuur oor doeltreffendheid, tegnologie en volhoubaarheid op die plaas.
Karel Munnik, besturende direkteur van LEMKEN Suid-Afrika, vertel met trots: “LEMKEN SA het in Januarie 2012 ontstaan, so hierdie is ons veertiende jaar by NAMPO – ‘n mylpaal waarop ons baie trots is.”
As ’n dogtersmaatskappy van die internasionaal bekende LEMKEN in Duitsland, staan LEMKEN SA al meer as ’n dekade sterk in diens van Suid-Afrikaanse boere, met tegnologie en toerusting wat werklik ’n verskil maak op die land.
Tydens NAMPO het LEMKEN boere behoorlik na hulle standplaas gelok met ’n reeks nuwe en opwindende produkte. Van hulle bekende toerusting is opgegradeer, soos die gewilde Karat 9 wat nou plek maak vir die verbeterde Karat 10, met nog meer doeltreffendheid en nog beter werkverrigting in gedagte.
Nog ’n splinternuwe toevoeging tot die LEMKEN-stal is die Thulit, ’n implement wat groot belangstelling gelok het op die skou.
Boonop is LEMKEN se Müthing-deklaagbewerker (mulcher) weer gewys – ‘n geskikte werktuig vir boere wat hulle grondgesondheid en stoppelbestuur ernstig opneem.
’n Ander groot trekpleister was die presisieplanters van Equalizer, wat ná LEMKEN se oorkoop van die Suid-Afrikaanse maatskappy nou deel vorm van hulle indrukwekkende produkreeks.
Karat 10 – Neem grondbewerking na die volgende vlak
Die LEMKEN Karat 9 is al vir jare ’n staatmaker op die plase van Suid-Afrika – ‘n implement wat met sy robuustheid en werkverrigting min bekendstelling nodig het. By NAMPO vanjaar het LEMKEN gewys hoe hulle voortbou op die suksesresep met die bekendstelling van die Karat 10, ’n beitelploeg wat met verskeie tegnologiese en praktiese verbeterings spog.
Karel verduidelik: “Die mees opvallende verandering is aan die agterste gedeelte van die implement, waar die dieptebeheer op die rollers nou meer akkuraat en doeltreffend is. Boonop is die Karat 10 toegerus met stervormige skottels wat die grond agter die tande egalig en netjies uitvlak.”
Aan die voorkant van die implement is die raamwerk herontwerp om maklike oopvou en vinnige aanpassings moontlik te maak, wat die Karat 10 nog meer gebruikersvriendelik maak. Nog ’n moderne toevoeging is die SeedHub 500, ‘n opsionele eenheid wat boere op die Karat 10 kan byvoeg.
Wat onderskei die Karat 10 en die Karat 12?
Die Karat 12 spog met vier rye balke en ’n tandspasiëring van 23,5 cm, wat geskik is vir meer intensiewe grondbewerking. Die Karat 10 het daarteenoor drie rye balke in ’n simmetriese uitleg, met ’n tandspasiëring van 31 cm – wat dit meer geskik maak vir medium tot growwe bewerkings en hoër werkspoed.
Nog ’n noemenswaardige verbetering is die opsionele snyskottels aan die voorkant van die Karat 10 – ’n kenmerk wat nie beskikbaar was op die Karat 9 nie. Hierdie opsie verhoog die implement se veelsydigheid en bied beter indringing in stoppelreste of harde grond.
Met hierdie opgraderings wys LEMKEN duidelik dat hulle luister na boere se behoeftes – en oplossings bied wat werklik sinvol is in die praktyk.
Bekendstelling van die nuwe LEMKEN Thulit – presisie-onkruidbeheer vir die moderne boer
Christo Prinsloo van LEMKEN SA sê hulle is besonder trots om vanjaar die LEMKEN Thulit aan boere by NAMPO bekend te stel — ’n vernuwende toevoeging tot LEMKEN se stal van implemente. Die Thulit is ’n meganiese onkruidbeheer-implement wat ontwerp is vir presiese, doeltreffende werking sonder die gebruik van chemikalieë.
Volgens Christo is een van die belangrikste kenmerke van die Thulit die hidrouliese bank aan die voorkant van die implement, wat drukverstellings vanuit die trekkerkajuit moontlik maak — van so laag as 100 gram tot 5 000 gram. Dit stel die gebruiker in staat om die aggressiwiteit van die werktuig aan te pas volgens die spesifieke gewas- en grondtoestand, wat sorg vir akkurate en doeltreffende onkruidbeheer.
“Die werkspoed van die Thulit hang af van die gewashoogte en wissel tussen 4 en 6 km per uur. Alle verstellings, insluitend die raamhoogte in werksposisie, kan gerieflik vanuit die kajuit beheer word, wat tyd en moeite op die land bespaar,” verduidelik Christo.
Die werkshoek en posisie van die harktande bepaal hoe aggressief die werking is – of dit nou vorentoe, regop of agtertoe geplaas word. Hierdie aanpassings gee boere die buigsaamheid om hulle onkruidbeheerstrategie presies aan te pas vir verskillende gewas- of grondtoestande.
Christo vertel: “Die Thulit is beskikbaar in werkswydtes van 6 m, 9 m en 12 m, en die beweegbare raam maak dit moontlik vir die implement om grondkontoere akkuraat te volg, wat lei tot konstante werksdiepte en beter resultate. Hierdie aanpasbare raamwerk dra ook by tot verhoogde stabiliteit en doeltreffendheid.”
Nog ’n praktiese kenmerk van die Thulit is die “V-folding“-raamontwerp wat help tydens draaiwerk op die wenakker. Die vlerke trek op om skade aan die implement te voorkom wanneer daar gedraai word – ‘n slim oplossing vir maklike hantering op kleiner of oneweredige landerye.
“Die Thulit is geskik vir verskeie gewasse en kan met groot sukses gebruik word in koring, mielies, pampoene en selfs in spesialisgewasse soos uie, waar akkurate meganiese onkruidbeheer van kardinale belang is,” meen Christo.
Lees meer oor die Thulit hier.
Müthing deklaagbewerkers (mulchers) – doeltreffende stoppelbestuur vir intensiewe produksie
Nog ‘n opwindende toevoeging tot LEMKEN se produkreeks is die Müthing-deklaagbewerkers, wat sedert einde 2023 deur LEMKEN ingevoer word. Hierdie toerusting, wat ook in Duitsland vervaardig word, is van die hoogste gehalte en bied boere in verskeie sektore ‘n betroubare oplossing vir stoppel- en restebestuur.
Volgens Karel sluit die beskikbare reeks wingerdmodelle, boordmodelle, kantsnyers en modelle vir groter landboutoepassings in — insluitend mielies, katoen en koring. “Ons het gereageer op die toenemende aanvraag van klante, veral van besproeiingsboere wat gereeld met groot volumes reste werk na oeste,” sê hy.
Die gebruik van ‘n deklaagbewerker soos die Müthing help om plantreste fyn te kerf. “Vir boere wat twee oeste per jaar plant, is daar dikwels net ’n klein venster tussen die twee seisoene. Hierdie deklaagbewerkers help hulle om vinniger en meer doeltreffend te werk – en elke minuut tel,” voeg Karel by.
Die Müthing-reeks bring presies daardie balans tussen robuustheid en presisie waarop LEMKEN trots is, en bied ‘n waardevolle hulpmiddel vir die moderne, intensiewe boerderye.
- LEMKEN se Müthing-deklaagbewerkers is boere se keuse vir doeltreffende, flink stoppelbestuur.
Rubin 12 – ‘n ou bekende staatmaker
Wanneer dit by robuuste grondbewerking kom, is die LEMKEN Rubin 12 ’n ou bekende op wie boere kan staatmaak. Christo verduidelik: Een van die uitstaande eienskappe van die Rubin 12 is die lang trekstaaf (draw bar), wat draaie op die wenakker aansienlik makliker maak. Die implement is verder toegerus met ‘n dubbelry-skottelkonfigurasie in ’n simmetriese uitleg, met groot skottels van 736 mm in deursnee. Elke skottel is gemonteer op ’n individuele wegbreekmeganisme wat tot 580 kg druk kan hanteer.”
Tussen die twee rye skottels is daar ’n harkmeganisme wat materiaal vinnig afwaarts dwing, sodat die tweede ry skottels dit makliker kan sny en versprei. Hierna kom die gelykmaakspane (levelling paddles), wat help om die grondoppervlak egalig en netjies voor te berei vir die volgende stap.
“Heel agter is die Rubin 12 toegerus met ‘n dubbelroller, wat ’n kritieke rol speel in die vorming van ‘n perfekte saadbed. Hierdie roller verseker nie net egalige grondkonsolidasie nie, maar help ook om vog in die boonste grondlaag te bewaar – ’n belangrike faktor vir suksesvolle ontkieming. Die roller dien boonop as dieptebeheermeganisme, wat die algehele presisie van die implement verhoog,” voeg Christo by.
Vir ekstra gemak en hantering is die vervoerwiele agter die roller geplaas, wat nie net vervoer vergemaklik nie, maar ook draaiwerk op die wenakker ondersteun.
Die Rubin 12 is ’n bewys van LEMKEN se toewyding aan beproefde tegnologie wat boere help om met selfvertroue, akkuraatheid en spoed te werk.
Equalizer-presisieplanters is nou deel van die LEMKEN-stal
In 2022 het LEMKEN ’n strategiese stap geneem om hulle portefeulje in presisieplant uit te brei deur die oorkoop van die Suid-Afrikaanse plantervervaardiger, Equalizer. Hierdie skuif stel LEMKEN in staat om nou ’n omvattende reeks fynsaad- en presisieplanters aan te bied – alles onder een gevorderde, internasionale handelsnaam.
Volgens die span is die doel om Equalizer se plantertegnologie wêreldwyd beskikbaar te stel deur LEMKEN se gevestigde globale netwerk. Dit is deel van die maatskappy se visie om hulle markaandeel in presisieplanting te vergroot en meer geïntegreerde oplossings vir boere regoor die wêreld te bied.
LEMKEN SA bly ’n maatskappy wat boer-gedrewe vernuwing hoog ag. “Ons luister na die behoeftes van die boer en poog om ons toerusting daarvolgens aan te pas, ontwerp en vervaardig,” sê Karel. Die insluiting van Equalizer is nog ’n voorbeeld van hoe LEMKEN aktief reageer op die eise van die mark en oplossings bied wat op die grondvlak sin maak.
’n Toekoms saam met die boer
By LEMKEN is die boer die spil waarom alles draai. Karel beklemtoon dat die maatskappy se toewyding verder strek as net tegnologie en toerusting: “Ons strewe daarna om optimale funksionaliteit vir elke implement op die plaas te bied – met kostebesparing, verhoogde doeltreffendheid en beter werkverrigting as kernfokus. Ons wil werklik ’n verskil maak vir die boer.”
LEMKEN se toekomsvisie is duidelik: Om naby aan die boer te leef, sterk verhoudings met klante te bou, en produkte en dienste te lewer wat werklik waarde toevoeg. “Gehalte en diens is vir ons van uiterste belang – en as LEMKEN is ons hier om te bly,” sluit hy af.
Boere wat belangstel om meer uit te vind oor LEMKEN se implemente kan jy gerus hulle naaste LEMKEN-handelaar besoek, of besoek hulle webwerf vir meer inligting.



