KYNOPLUS – ‘n TREFFEND-BLOU vriend!

rp_Kynoch-KynoPlus.jpg
Hierdie oorsig het ten doel om die nut en gebruik van KynoPlus aan akkerbouers te verduidelik. Soos bekend, bestaan daar verskillende stikstofbronne om binne akkerboupraktyke te kan gebruik; hetsy tydens plant, as voor-planttoediening, kantbemesting, of bobemesting. Selfs kan gekies word tussen droë kunsmis (korrels) of vloeibare kunsmis. Die keuses en kombinasies is ruim.
Al vir baie lank is geredeneer oor die beste alleen-stikstofbron, hetsy kalksteenammoniumnitrat (KAN), ureum, of ammoniumsulfaat (AS), Die boustene van die korrelprodukte sluit dus in ammoniumnitraat (KAN), ammonium (AS), of die amide (ureum) vorm. By vloeibaar behels dit presies dieselfde boustene. Elkeen het unieke en vaste eienskappe.
Redes van stikstofbemesting is meestal herhalend en tipies van aard. Ongeag die gewas, word stikstof aan grond toegedien om gewasgroei te ondersteun tot so ‘n mate dat ‘n opbrengs (meestal volgens doelwitstelling) verkry kan word. Met ander woorde, ongeag of die gewas weiding, koring, mielies, sonneblom, grondboon, sojaboon, lusern of groente is, daar is altyd ‘n patroon van gebruik, naamlik grondvoorbereiding, vooraf kunsmistoediening indien toepaslik, plant met kunsmis, moontlike aanvullende bemesting, en dan uiteindelik, oes (uitgesluit onkruid-, pes- en plaagbeheer).
Weidinggewasse se volgorde en oes verskil effens van die ander gewasse deurdat dit meerjarig kan wees en verskillend bestuur en benut word. Permanente gewasse verskil ook van die eersgenoemde groep gewasse, deurdat dit gevestig word, en daarna onderhou word, met ‘n oes wat elke jaar (nadat gewas in drag gekom het), afgehaal kan word.
‘n Ou uitdrukking lui dat “alle paaie na Rome lei”. ‘n Werklikheid van alle stikstofbronne is dat hulle eindproduk almal dieselfde is. Sien die illustrasie van die stikstofsiklus (kringloop) in Figuur 1, hieronder.

In stap 1 van die stikstofsiklus (Figuur 1), word stikstof, vasgevang in plant- en dier-oorblyfsels, asook vanuit die atmosfeer tydens reën geassosieerd met weerlig, aan die grond toegevoeg. In stap 2 word organiese stikstof in die organiese residues in die grond deur mikro-organismes gemineraliseer na ammonium (NH4+). Tydens stap 3 (nitrifikasie) word ammonium deur nitrifiserende bakterieë omgeskakel na nitraat (NO3–).
In stap 4 word nitraat en ammonium deur plantwortels opgeneem om die proteïn wat in die gewasse gevind word, te produseer. In stap 5, kan sommige van die nitraat verlore gaan as gevolg van loging tesame met perkolasiewater. Dit sluit aan by grondwater wat in dieper grondlae, of elders, gevind word. In stap 6 kan sommige nitraat omgeskakel word deur denitrifiserende bakterieë na N2 en stikstofoksides (N2O en NO) wat vervlugtig na die atmosfeer. Die laaste stap voltooi dus die siklus.
In stap 7 kan ‘n deel van die ammonium omgeskakel word na ammoniak (NH3) om te vervlugtig na die atmosfeer (Havlin et al., 1999). Al bogenoemde stappe beskryf dus die konsep van toevoegings, veranderinge en verliese; die komponente van die stikstofsiklus (Figuur 2).

Met die siklus uitgebeeld en beskryf, is dit noodsaaklik om te verstaan dat alle stikstofbronne dieselfde pad loop; dit hang net af van die tipe stikstof, en waar dit in die stikstofsiklus inskakel na toediening. In terme van plantopname vind opname as beide ammonium en nitraat plaas.
Die meeste anorganiese stikstof (ammonium en nitraat) wat in die grond agterbly en nie deur plante opgeneem word nie, word uiteindelik na nitraat omgeskakel; nitraat is dus “Rome”, en die laaste plantopneembare vorm in die grond; en ook die meeste onderhewig aan loging.
Die vraag word dikwels gevra oor hoe lank ‘n stikstofproduk, vanaf toediening, neem totdat al die stikstof genitrifiseer is. Volgens navorsing in die VSA, is die ekwivalent van 100 kg N/ha as ureumkorrels in ‘n sanderige leemgrond ingemeng, met minimum water benat en gelaat om oor ‘n tydperk van vier weke te staan. Daar is gevind dat alle stikstof na vier weke na nitraat nitrifiseer het (Goos, 2011).
Die doel van voorafgaande illustrasies is om te wys dat verliese by enige stikstofdraer voorkom, ongeag. Verliese word veroorsaak, buiten tipe kunsmis en plasing, ook deur grondchemiese eienskappe, voorkoms van dou of water (reën of besproeiing) na plasing, asook hoeveelheid water, omgewings- en grondtemperatuur, wind, watereienskappe (in die geval van besproeiing), asook deurlugting.
In praktyke waar stikstof uitgestrooi word, of in bandtoediening bo-op die grondoppervlakte gelaat word, word die hoogste mate van vervlugtiging waargeneem. By sulke omstandighede waar ureum vir ‘n onbekende tyd op die grondoppervlak lê, begin grondvog of dou die korrels oplos; anders gestel, hidrolise begin plaasvind. Die proses van omskakelings begin en die pH in en rondom die “korrel” verhoog, en ammoniak word in die proses vrygestel.
Die hoogste mate van vervlugtiging vind by hoë pH-gronde plaas (>8,0 = 50% verlies van N). Selfs al is die grond uitgedroog, kan vervlugtiging plaasvind (Adams & Martin, 1984). In ‘n meer onlangse studie, word rapporteer dat meer as 45% van onbehandelde ureum wat toegedien is op kaal grond, of grond wat 50% met strooi bedek is, oor ‘n periode van 16 dae vervlugtig het (vanuit ‘n ekwivalente 100 kg N/ha onbehandelde ureum-toediening; Goos, 2011).
‘n Verdere risiko ten opsigte van alle stikstofdraers is die gevaar van saailingbrand indien te veel stikstof te naby aan saad geplaas word. Hierdie geld veral ten opsigte van onbehandelde (nie-gestabiliseerde) ureum. Dit is waarom daar in publikasies, soos die LNR-Instituut vir Graangewasse (Mielie Inligtingsgids – MIG), aanbeveel word dat ‘n veilige hoeveelheid stikstof in ‘n band 5 cm weg en 5 cm dieper as saad geplaas behoort te word. Alle oorskrydings hiervan verleen risiko aan die produsent.
Ureum bly egter ‘n gewilde keuse as stikstofbron om verskeie redes. Dit bied ekonomiese voordele in terme van vervaardiging, hantering, berging en vervoer. Die wêreldwye vervaardiging van ureum is hoog en dit is die dominante stikstofbron wat in die VSA gebruik word.
Ureumkorrels het ‘n laer geneigdheid om klonte te maak in vergelyking met kalksteenammoniumnitraat. In terme van berging bied ureum ook ‘n lae veiligheidsrisiko. Verder is ureum minder verwerend tydens hantering ten opsigte van toerusting.
Betekenisvolle besparings in hantering, berging, vervoer en toediening is dus moontlik vanweë die hoë stikstofinhoud van 46%. Kalksteenammoniumnitraat bevat 28% N en ammoniumsulfaat bevat 21% N. Ammoniumsulfaat is egter totaal onprakties om te gebruik as ‘n alleen stikstofbron vanweë die lae stikstofinhoud en die hoë swaelinhoud (24% S).
Ten tye van die saamstel van hierdie oorsig is die benaderde koste van een kilogram stikstof in 50 kg verpakkings by een van Kynoch se mengers R39,60/kg vir kalksteenammoniumnitraat, R37,36/kg vir ammoniumsulfaat korrels, R26,58/kg vir KynoPlus en R24,53/kg vir wit ureum.
Neem in ag dat internasionale en plaaslike kunsmispryse nie altyd volgens werklike “waarde” vasgestel word nie, maar deur vraag en aanbod, asook ander faktore. Die “treffend-blou” KynoPlus kos dus ongeveer 33% minder as kalksteenammoniumnitraat en 7,7% meer as wit Ureum. Nou hoekom is dit belangrik?
Wêreldwyd is al baie navorsing gedoen oor “stikstofstabiliseerders”. Hierdie “stabiliseerders” behels ‘n chemiese samestelling (kan ‘n natuurlike olie ook wees) waarmee wit ureumkorrels bedek word. In die meeste gevalle word ‘n kleurstof tesame met die middel gebruik om dan aan die ureum-eindproduk wat behandel is, ‘n kenmerkende kleur te verleen.
Hierdie behandeling kan ‘n urease-inhibeerder wees, ‘n nitrifikasie-inhibeerder, of moontlik ‘n kombinasie van die twee. In die geval van Kynoch is besluit om die KynoPlus-roete te volg; dus ‘n urease-inhibeerder. Hierdie behandeling verleen aan die oorspronklike wit korrels ‘n TREFFEND-BLOU kleur. KynoPlus aktief bied aan die gebruiker net voordele!
Resultate van ‘n proef in die VSA dui op groot voordele met KynoPlus. Die KynoPlus aktief is getoets teenoor onbehandelde ureum, asook ses ander ureums wat behandel is met stabiliseringsprodukte in die mark (Nutrisphere, Nzone, StayN, Nstay en OAC). Die resultate is herkonstureer (Figuur 3). Omdat die laaste groep se resultate so naby aan mekaar lê, met geen verskille tussen mekaar nie, word slegs een lyn in die herkonstruksie aangedui (Goos, 2011).

In hierdie studie is die ureumkorrels bo-op die grondoppvervlakte teen ‘n toedieningspeil van 100 kg N/ha gelaat. Slegs die Ureum wat met die Kynoplus aktief behandel is, het ammoniakvervlugtiging betekenisvol onderdruk.
Gedurende dieselfde ondersoek is die mate waartoe ‘n gestabiliseerderde ureum urease onderdruk, gemeet. Die aktiewe bestanddeel binne KynoPlus aktief beheer die urease ensiem, wat omskakeling na ammonium aanjaag. Die urease ensiem is algemeen in die natuur en word deur plante en mikro-organismes in die grond geproduseer, waar dit in die grond buite selle gevind word (is dus nie ‘n lewende organisme).
Die aktief het nie ‘n invloed op grondbakteriese populasies nie (EniChem, 1988) en herhaaldelike blootstelling aan die aktief beïnvloed nie mikrobiese populasies of samestellings nie (Xi et al., 2017). Ureum wat met die KynoPlus aktief gestabiliseer (behandel) is, het urease betekenisvol onderdruk, tot so min as 2 mg/kg. Die ander produkte het geen uitwerking op urease gehad, tot so hoog as 200 mg/kg, nie.
Met meer as 25 jaar se wêreldwye navorsing, met proewe wat uitgelê en uitgevoer is, is die KynoPlus aktief die mees nagevorste urease inhibeerder wat deur gebruikers wêreldwyd vertrou word. Dit bevat NBPT, wat goedgekeur is deur die Amerikaanse Assosiasie van Plantvoedingsbeheer (AAPFCO).

Dit is geregistreer en goedgekeur vir gebruik in 27 lande in die Europese Unie. Dit is die eerste keer in Brasilië gedurende 2004 verkoop en sederdien is miljoene ton ureum wêreldwyd daarmee behandel. Die voordele vir die produsent is dus verpak as ‘n TREFFEND-BLOU produk wat veilig is om te gebruik by veilige plasingsafstande vanaf saad (soos vir KAN), met verlaagde vervlugtiging. Dit is veiliger om te gebruik, is minder verwerend, het ‘n hoë stikstofinhoud van 46% en is net meer koste-doelteffend!
Figuur 4 (foto) wys die netjiese verpakking waarin KynoPlus aan die mark gelewer word. In Figuur 5 word ‘n TREFFEND-BLOU KynoPlus korrel op die grond nadat dit uitgestrooi is, getoon. In Figuur 6 is KynoPlus in ‘n werktuig op pad om toegedien te word.
Figuur 5: Die treffend-blou KynoPlus korrel op die grond nadat dit uitgestrooi is (foto erkenning J. Sparrow). Figuur 6: TREFFEND-BLOU KynoPlus oppad vir gebruik (foto erkenning J. Sparrow).
Bederf jouself, belê in TREFFEND-BLOU!
Kliek hier om die produk op Agri4all te sien
Verwysings
Adams & Martin, 1984. Liming effects on nitrogen use and efficiency. In: Nitrogen in crop production.
American Society of Agronomy, Madison, Wisconsin.
EniChem, 1988. Effect of NBPT on Soil Ecology, Memo on Registration of NBPT, EPA Submission.
Goos, 2011. Nitrogen fertilizer additives, which ones’ work?
North Central Extension-Industry Soil Fertility Conference. November 16-17, 2011. Vol. 27. Des Moines, IA.
Havlin, Beaton, Tisdale & Nelson, 1999. Soil fertility and fertilizers. 6th edition. Prentice Hall, New Jersey, VSA.
Schmidt, 1993. Kwantifisering van die stikstofbalans op die GlenShorrocks gewasekotoop. Universiteit van die Vrystaat.
Xi, Long, Huang & Yao. 2017. pH rather than nitrification and urease inhibitors determines the community of ammonia oxidizers in a vegetable soil. AMB Express, November, Volume 7, Issue 1, Pages 1-14.