Kyk na ons grond
In Suid-Afrika se saaigebiede kom ‘n wye verskeidenheid van grondsoorte voor, elk met sy eie besondere eienskappe. Dit bemoeilik standaardvoorskrifte vir grondbewerking veral weens wisselende reënneerslae en wisselende hoeveelhede vog in die grond.
Verskillende tipes grond
Die kleur-, diepte- en kleiverskille van grond veroorsaak ’n verskil in opbrengspotensiaal. Daarom is dit noodsaaklik dat opeenvolgende grondlae volgens grondeienskappe soos kleur, tekstuur, struktuur, gevlektheid en diepte beskryf word.
Al die eienskappe kan herlei word tot grondeienskappe soos deurdringbaarheid, voghouvermoë en vrugbaarheid, wat op hulle beurt weer ‘n weerspieëling is van die grondpotensiaal en opbrengsvermoë.
Oor die jare is waardes aan dié hoedanighede geheg. Indien dit saam met heersende klimaattoestande ontleed word en langtermyn gemiddelde oesopbrengste in ag geneem word, kan afleidings en aanbevelings vir grondbewerking gedoen word.
In sekere gebiede soos die Vrystaat kan die verdeling nog verder verfyn word deur nog ‘n groep in te bring van onder 10% klei-inhoud.
Beskrywing van grondprofiele
1. Longlands
Longlandsgronde het die kenmerkende wit, sanderige, uitgewaste ondergrond – net soos die Kroonstad- en Wasbankgrond. Die keerlaag bestaan egter uit sagte ouklip en is meer deurlaatbaar vir water. Longlands is relatief vlak en die gronddiepte van 50cm tot op die keerlaag, soos op die foto, is redelik algemeen. Hoewel dit ‘n grond is wat onderhewig is aan versuiping en verdroging, is dit die beste van die drie ‘E-laag’-grondsoorte. Indien die grond dieper as 80cm is, kan dit oorweeg word vir mielieverbouing. Dit is egter gewoonlik meer geskik vir aangeplante weidings.
2. Avalon
Avalongrond met sy kenmerkende geel ondergrond wat oorgaan in ‘n sagte ouklip-keerlaag, het ‘n besonder goeie voghouvermoë en is by uitstek geskik vir mielieproduksie. Grondsuurheid is op baie van die grond ‘n beperkende faktor, omdat dit wortelontwikkeling belemmer en die plant dan nie die goeie voghouvermoë van die grond kan benut nie. Avalongrond met ‘n kleipersentasie van minder as 20% in die bogrond word normaalweg nie benut vir sonneblom-, bone- en graansorghumverbouing nie. Die foto toon ‘n gronddiepte van 90 tot 100 cm en dit het ’n goeie opbrengspotensiaal. Vlak Avalongrond kan neig om te versuip en goeie hidrologiese beplanning is noodsaaklik.
3. Hutton
Huttongrond verteenwoordig die tipiese rooi grond van die Hoëveld waar die bo- en ondergrond rooi is. Huttongrond dreineer baie goed en versuiptoestande kom byna nooit voor nie. Die grond het nie ‘n keerlaag soos Avalongrond nie, dus is die waterhouvermoë daarvan nie so goed soos die van Avalon nie. Huttongrond is egter in die algemeen baie diep grond en daarom hoë-potensiaalgrond. Die grond is geskik vir alle kontantgewasse soos mielies, bone, graansorghum, sonneblom en aartappels. Vanweë die goeie dreineringsvermoë is dit by uitstek geskik vir besproeiing. Rooigrond onder 20% klei het dikwels suur- en kalktoedienings nodig om die bo- en ondergrond se pH te herstel. Die foto toon ‘n tipiese Hutton met ‘n gronddiepte van oor die 120 cm.
4. Arcadia
Ongeveer driekwart van ons swartturfgrond is Arcadia-grond. Die bogrond bestaan uit die bekende swartturf met sy kenmerkende hoë klei-eienskappe. Die laag onder die bogrond bestaan uit gruis (verweerde ysterklip). Die gronddiepte op die foto is 75 cm, maar Arcadia is in die Hoëveld selde dieper as 45 cm.Die kleipersentasie van die bogrond is maklik oor die 50% en het kenmerkende swel- en krimpeienskappe.
Die hoë klei-inhoud veroorsaak verskeie probleme, soos stadige opname van water, moeilike bewerking, swakker werking van chemiese onkruiddoders en hoë vogterughouding. Aan die ander kant het die grond voordele soos hoë vrugbaarheid en ‘n hoë pH.
Die grond is gewoonlik nie diep nie en daarom het dit ‘n swak wateropgaringsvermoë. Die potensiaal van die grond is dus ook aan die lae kant (± 2,5 ton per ha).
Die gewasse wat op die grond verbou kan word is graansorghum, mielies en sonneblom.
Eienskappe van grondprofiel | Klei % | Tipiese grondvorms in hierdie groepe |
Bruin en vaal ligte sandgrond | Onder 15% | Longlands, Wasbank |
Rooi, bruin en vaal ligte sanderige grond wat op normale ploegdiepte nie veel swaarder word as in die bogrond nie. | 15 – 20% | Avalon, Hutton, Longlands Westleigh, Wasbank |
Rooi, bruin en vaal medium leemgrond wat op ploegdiepte geneig is om effens swaarder te word as in die bogrond. | 20 – 30% | Hutton, Avalon, Clovelly |
Swaar rooi kleigrond wat swaarder word op ploegdiepte en swaarder kleigrond met geel klei in die ondergrond. | 30 – 45% | Hutton, Pinedene |
Vaal gebroke kleigrond met potklei in die ondergrond. | 30 – 45% | Bonheim, Swartland, Valsrivier |
Swaar turfgrond | Meer as 45% | Arcadia, Rensburg |
Dit is uit die verskillende profiele duidelik dat ’n ander tipe bewerking vir elke grondsoort nodig kan wees om optimum opbrengs te verkry. Veral die diepte van bewerking kan ’n deurslaggewende rol speel.
![]() |
Longlands |
![]() |
Avalon |
![]() |
Hutton |
![]() |
Arcadia |