Kubota lewer maksimum werk vir minimum diesel in wingerd

Kubota
Met soveel kopvryhoogte kan die operateur gemaklik regop sit en die B2420 sleep die 1 000-literkar sommer lag-lag.
Brandstofverbruik is een van die min insetkostes waarop ’n tafeldruifboer kan bespaar en dit is waarom die Beukes-broers van De Doorns op die uitkyk was vir kleiner trekkers wat in die wingerde dieselfde werk kan doen as groter trekkers, maar minder brandstof gebruik. Pieter Beukes het by al die trekkermanne in die omgewing aangeklop en gesê hulle moet kom wys wat hulle het.
Pieter sê hy het gedink Kubota se mense bring vir sy kinders ’n speelding vir die sandput toe hulle met die B2420 op sy plaas aankom, maar die trekkertjie se werkskrag het hom gou verstom.
Hy sê: “Ek klim toe sommer self agter die stuur, haak die grootste druiwewa en laai daardie wa boggelrug, want ek wil vir hulle wys die trekker is ’n lekker speelding vir my kinders en nie ’n werksding nie.”
Pieter sê hy het die vrag druiwe sonder enige probleme van onder op sy plaas by die rivier tot bo by sy skuur gesleep, en het net op die laaste bult voor die skuur nodig gehad om na ’n laer rat oor te skakel, ook om stadiger om die skuur te ry.
Die B2420 het toe op die plaas agtergebly om verder getoets te word. Pieter het ’n swaelbalk gehaak en sy werker wat die swael toegedien het was vol lof want “hy sit lekker regop, hy raak nie aan ’n tros druiwe nie en hy hoef nooit te mik as hy indraai by ’n ry nie”.
Pieter sê as jou trekkerdrywer van die trekker hou is jy al halfpad daar, dan moet die trekker net die werk kan doen.

Die manne van Kubota, Leonard en Deon Engelke, en Phillip Hanekom van KH Trekkerdienste by Jaco Lötter, plaasbestuurder.
Die volgende toets was die druiweblok vol sagte sand met ’n vol vrag druiwe. Halfpad het die dapper Kubota vasgesteek, maar die operateur het oorgeskakel na vierwieldryf en woerts-warts was hulle uit die moeilikheid.
Pieter sê dit is toe dat hy sy broer bel en sê: “Hier is ’n trekker teen ’n ‘kwadfiets’ se prys wat ongelooflik lekker werk.” Die B2420 is toe deur na De Modderdrift waar hy ook sy staal in die modder gewys het.
Twee dae later was die Beukes-broers ses klein Kubotas ryker en die dieselrekening, met besparings van derduisende rand per maand, vertel die res van die storie.
Dit was nie Pieter se eerste erva-ring van Kubota nie. Hy het vroeër ook van die groter modelle in die reeks, die M70-40, aangeskaf spesifiek vir spuitwerk in die wingerde en ook na deeglike vergelykings met ander fabrikate in dieselfde klas. Die dieselverbruik het gewissel van 10,2 tot 6,8 liter per uur met die ander fabrikate, teenoor Kubota se 4,4 liter per uur.
Pieter het uitgewerk dat hy per trekker R154 000 oor tien jaar sou spaar met brandstofverbruik, maar die trekkers se prys was bietjie hoog. Deon en Leonard Engelke van Kubota SA kon egter vir hom ’n goeie ooreenkoms voorstel om die aankoop die moeite werd te maak.
’n Kubota vir elke doel
Pieter se plaasbestuurder, Jaco Lötter, vertel dat hulle nou ’n Kubota vir elke doel op die plaas het. Die groter trekkers word gebruik om groter vragte aan te ry en ook om in die wingerde wat hoog op teen die berg geleë is te werk.
Dan is daar die L39-TLB (laai- en slootgraaf-trekkerkombinasie) wat sommer blitsig grond uithaal en oplaai vir enige opvullingswerk of optelwerk, en ’n RTV (rowweterreinvoertuig) vir kleiner take.
Die kleiner Kubota-trekkers word vir al die werk in die ander wingerde gebruik omdat hulle gerieflik onder en tussen die druiwe deur kan beweeg, skerp kan krink om van een ry na die volgende te beweeg en, soos oor en oor bewys, hard kan werk in ruil vir die minimum diesel.
Nóú gaan ons spuit!
Die volgende uitdaging was om die B2420 in te span om ook spuitwerk te doen, maar dit beteken daar moes ’n spuit gevind word wat doeltreffend deur ’n 17,9 kW-trekker gesleep en aangedryf kan word.
Na maande se huiswerk het Pieter-hulle op ’n spuit in die Martignani-reeks afgekom wat kon werk, maar daar moes ’n paar aanpassings gemaak word om die trekker en die spuit wat 17,7 kW benodig, doeltreffend saam te laat werk.
Met die ondersteuning van die plaaslike Kubota-span en mnr Martignani wat saam met sy hoofingenieur uit Italië kom kuier het, is die nodige aanpassings gedoen en die toetse het goed verloop.
Jaco sê: “Dit gaan oor tegnologie en krag wat op die regte plek aangewend word. Die spuitmaatskappy het gekyk na katrolwielgroottes om dieselfde windspoed uit die blasers agter die spuit te kry, maar teen laer trekkerkrag.”

Die druppels is netjies deur die kamera se flits vasgevang sodat ’n mens presies kan sien hoe lyk die spuitpatroon van die wingerdspuit wat deur die klein B2420 Kubota gesleep word. (Foto: Pieter Beukes)
Vanjaar gaan die klein Kubota-trekkers en twee van die nuwe spuite die spuitwerk op die plaas doen. Pieter sê die trekkers gaan voorwaar tot hulle volle kapasiteit beproef word, maar hy is vol vertroue dat hulle die werk sal kan doen.
Benewens die brandstofbesparing, gaan dit ook oor die bekamping van skade. In druiwetyd hang die trosse laer en met die groter trekkers begin die agterwiele teen die trosse slaan. Met die klein trekkers is daar geen meganiese skade nie.
SA boere kry spesiale Kubota-aandag
Deon Engelke van Kubota SA vertel dat ’n span ingenieurs van die Japan-nese maatskappy tans die land besoek om spesifiek met Suid-Afrikaanse boere oor hulle ervarings en voorstelle vir verbeterings te gesels.
Hy sê noudat genoeg boere in die land begin het om Kubota te ondersteun, is die maatskappy besig om terug te ploeg. Waar plaaslike boere tans die Europese reeks van Kubota te koop kry, kan daar dalk in die toekoms modelle spesifiek vir Suid-Afrikaanse omstandighede ontwikkel word. Dit gebeur net as daar meer as honderd eenhede van elke model in ’n land verkoop word.
Deon sê Suid-Afrikaanse boere moes net eers gewoond raak daaraan dat ’n mens die regte trekker vir die regte werk moet gebruik en dat ’n kleiner trekker op die voorpunt van tegnologie kan beweeg met moderne ontwikkelings soos hidrostatiese aandrywing. Die beteken dat ratwisseling outomaties en glad geskied sodat die enjinomwentelinge deurgaans presies reg is vir die werk wat gedoen moet word. Dit, tesame met Kubota se vindingryke driedwarrel-ontbrandings-kamers, is die groot geheim van Kubota se brandstofbesparing.
Soos Pieter sê: “Ek kan regtig nie verstaan hoekom alle tafeldruifboere nie al minstens een of twee van die klein trekkers gekoop het nie. As hulle maar net weet hoeveel meganiese skade hulle kan uitskakel, om nie eers van die dieselverbruik te praat nie, dan betaal hulle daardie trekker met ’n glimlag.”
Kontak Leonard Engelke in die Wes-Kaap by 083-461-8725 of 021-854-5239 of besoek www.kubotasa.co.za vir volledige inligting oor die reeks en om uit te vind wie jou naaste handelaar is.
