Categories: NuusPublished On: 30th August 2021

Koue toestande sal voortduur tot middel September

By 6 min read
1287 words

fields-1589613_1920

Foto: Pixabay

Deur Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

1. Huidige toestande

Ekstreme koue toestande het voortgeduur in Julie en Augustus veral oor die sentrale tot suidelike dele van die land. Sneeu het ook gereeld voorgekom oor die hoërliggende gedeeltes van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap se berge asook Lesotho.

Gereelde goeie reënneerslae in die Winterreënvalgebied van die Wes-kaap het baie gunstige produksietoestande vir wintergrane geskep. Noemenswaarige reën het ook in die Langkloof voorgekom wat gehelp het om kleiner opgaardamme aan te vul waar water dringend nodig was om ‘n ramp in die vrugtebedryf van die gebied te verhoed. Meer reën is egter nodig vir verdere aanvulling van waterbronne in hierdie gebiede. Tussen 20mm en 50mm het ook voorgekom oor die sentrale dele van die land vanaf ongeveer Kuruman in die noorde tot Bloemfontein en Wepener in die suidooste en Prieska in die weste gedurende die naweek van 14 en 15 Augustus.

Ligter neerslae het ook voorgekom oor die noordelike dele van die Oos-Kaap en aangrensende dele van KZN. Baie min of geen reën het steeds voorgekom in die baie droë Baviaanskloof en distrikte soos Jansenville waar die droogte steeds meer intens word nie. Die westelike en suidwestelike dele van die Noord-Kaap, veral Boesmanland en suidwestelike dele van die Karoo is steeds in die greep van ‘n baie intense droogte.

Weidingstoestande is oor die algemeen nog gunstig vir hierdie tyd van die jaar maar die kwaliteit begin baie vinnig afneem. Met die brandseisoen in volle swang het daar ook al groot weidingsoppervlaktes afgebrand. Alhoewel grondwatertoestande redelik gunstig is as gevolg van die reën voor die winter asook die reën oor die sentrale grasveldgebiede in die middel van Augustus, is temperature te laag vir groei en ontwikkeling of veldherstel.

Vlakke van opgaardamme is oor die algemeen gunstig met die uitsondering van sommige damme in die Ooskaap wat kritiek laag of byna leeg is. Wes-Kaapse damme is gemiddeld 80% vol maar meer belangrik is dat die grootste en belangrikste damme baie naby aan of meer as 100% vol is met verwagte reën in September wat damme verder kan aanvul.

Die watervlak van die Karibadam is op 45% teenoor 36.8% verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 66,4% is en die Mohale dam op 30,9%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 60,5% van vol volume.

2. ENSO en Indiese Oseaan

2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

ENSO is steeds op die grens tussen neutraal en swak La Nina. Die belangrike Nino3.4-gebied het alreeds afgekoel tot -0.9° C koeler as normaal teen die einde van Augustus wat alreeds ‘n swak La Nina verteenwoordig indien afkoeling sou voortgaan. Hou in gedagte om as La Nina geklassifiseer te kan word, moet daar afwykings van meer as -0.5°C koeler as gemiddeld wees vir ten minste drie tot vyf maande aaneenlopend. Wat tans baie belangrik is, is die omvang van die poel van koeler water in die Stille Oseaan, alhoewel nie baie intens koud nie. Dit strek vanaf die noordelike dele van die VSA se weskus, suid tot in die middel van Suid-Amerika en wes tot noordoos van Australië. Die omvang van die area met koeler water kan waarskynlik alreeds die gebrek aan intensiteit van die koeler water in die Nino-areas vervang om meer La Nina invloede op die klimaat uit te oefen. So kan die droogte in die VSA se noordweste alreeds tot ‘n groot mate hieraan toegeskryf word.

Die water in die dieper lae van die oseaan benede die Nino-gebiede het ook baie vinnig afgekoel tot ‘n diepte van ongeveer 250m sedert die begin van Augustus wat die La Nina ontwikkel gaan versterk en verseker.

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) as indikator van die invloed van see-oppervlaktoestande op oorliggende weerstelsels in die Nino-gebiede is ook reeds La Nina-neigend sedert die middel van Junie.

2.2 Indiese Oseaan

Verdere afkoeling van oppervlaktemperature in die westelike en suidwestelike Indiese Oseaan het gedurende Augustus plaasgevind. Bykans die hele westelike Indiese Oseaan vanaf die Horing van Afrika en suidwaarts verby Kaapstad, is tans koeler as normaal. Daar is warmer water ooswaarts in die Indiese Oseaan. Dit is ‘n unieke opstelling wat nie baie gereeld gebeur nie en is dikwels baie positief vir somerreënval. Dit is verteenwoordigend van die negatiewe fase van die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks en behoort voort te duur tot ten minste midsomer.

3. Reënval- en klimaatsvooruitsigte

3.1 Somerreënvalgebied

Reënval

Relatief sterk laagdruksisteme het alreeds begin ontwikkel met die eerste lentereën gedurende die middel van Augustus oor die sentrale Somerreënvalgebied. Dit kan alreeds die eerste aanduidings wees van ‘n gunstige somerreënvalseisoen. Met die gunstige Indiese Oseaan seetemperature is die vroeër begin van die somerreënvalseisoen baie moontlik. ‘n La Nina verskynsel is egter geassosieer met ‘n later begin van die reënseisoen maar die Indiese Oseaan kan dit vervroeg. Die gekombineerde effek van die negatiewe IOD en die La Nina wat besig is om te ontwikkel, is baie positief vir somerrreënval.

Dit is moontlik dat minder gunstige toestande in die tweede deeel van die somer kan ontstaan oor die oostelike produksiegebiede wat insluit KZN, Mpumalanga en die Oos Vrystaat. Verder is dit nog baie onseker of die baie droë Boesmanland en Karoo in die suidelike dele van die Noord-Kaap reën gaan kry wat die droogte kan breek aangesien ‘n swakker La Nina gewoonlik net verantwoordelik is vir goeie neerslae oor die sentrale tot oostelike dele. Die waarskynlikheid vir reën om die droogte in die Oos-Kaap te breek lyk gunstig in die volgende maande. Swaar neerslae en vloede is nie uitgesluit nie.

Temperatuur

Met die koue toestande en sneeu wat gedurende Augustus voortgeduur het in die suidelike dele van die land, lyk dit asof ondergemiddelde temperature gaan voortduur vir die grootste deel van September. In Oktober kan dit weer vinnig oorgaan in baie warm toestande en hoë temperature.

3.2 Winterreënvalgebied

Die grootste deel van die Winterreënvalgebied het tot op hede baie gunstige reëvaltoestande ervaar, nie net in die hoeveelheid reën nie maar veral ook in die verspreiding oor tyd. Die vooruitsigte is steeds positief vir verdere reën in September met reën wat verwag word rondom 5 tot 8 September, 11 tot 13 September asook 16 tot 18 September. Dit is baie gunstig vir wintergraanproduksie en baie goeie opbrengste word verwag.

3.3 Namibië

Baie min reën word verwag tot ten minste die middel van Oktober maar die reënvalvooruitsigte lyk baie goed vanaf ongeveer November.

Minimumtemperature in die sentrale tot suidelike dele gaan steeds onder 10°C bly vir ten minste die eerste drie weke van September. Baie warm toestande gaan begin voorkom vanaf die tweede week van September oor die noordelike dele.

4. Opsomming en samevatting

• Dit is redelik seker dat ‘n swak tot matige La Nina-verskynsel gaan voorkom in die somer van 2021/22 alhoewel dit tans nog in die ontwikkelingstadium is en baie onsekerheid bestaan oor die intensiteit wat bereik gaan word.

• Gunstige Indiese Oseaan temperature kan die effek van La Nina versterk en dit is baie positief vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval in die Somerreënvalgebied.

• Wat die Winterreënvalgebied betref, bly reënvaltoestande gunstig tot ten minste die tweede deel van September met koue fronte wat nog gereeld koue en reën gaan veroorsaak.

5. Vrywaring: Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0