Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 24th July 2018

Konflik in die werksplek

By 4 min read
734 words

lwo 1

deur Elmari Lemmer, LWO Werkgewersorganisasie

Boerdery word bedryf in ’n uitdagende omgewing waar arbeid een van ’n werkgewer se waardevolste bates is. Elke werksplek is uniek en werknemers verskil ten opsigte van persoonlikheid, verwysingsraamwerke, waardestelsels, kultuur en motivering. Konflik in die werksplek is ʼn algemene verskynsel en kan ʼn negatiewe invloed op enige onderneming hê indien dit nie proaktief bestuur word nie. Konflik moet eerder as ʼn geleentheid gesien word om menseverhoudings in die werksplek te verbeter.

Konflik op die plaas kan wees tussen die werkgewer en werknemer of tussen plaaswerkers onderling. Moontlike redes vir konflik kan die volgende insluit:

Konflik tussen werkgewer en werknemer:

  • Bestuurstyl
  • Uiteenlopende persoonlikhede
  • Verwagtinge
  • Onsekerheid
  • Meningsverskille
  • Diskriminasie
  • Inkonsekwentheid

Konflik tussen plaaswerkers:

  • Uiteenlopende persoonlikhede
  • Meningsverskille
  • Verwysingsraamwerke
  • Diskriminasie (geslag, ras, ensovoorts)
  • Onderlinge mededinging

Konflik is die gevolg van spesifieke omstandighede. Ons beveel aan dat werkgewers konflik in die werksplek beperk deur dit proaktief te bestuur. Maak seker die volgende aspekte is in plek:

Duidelike reëls en riglyne verseker dat wrywing en misverstande beperk word, wat weer produktiwiteit en ʼn positiewe werksomgewing bevorder. Reëls in die werksplek is op alle werknemers van toepassing en dissipline moet ook so toegepas word. Daar is verskillende soorte wangedrag in die werksplek, wat wissel van minder ernstige oortredings tot baie ernstige oortredings, wat beïnvloed word deur die werknemer se tipe werk en verantwoordelikheid, die (moontlike) gevolge van die oortreding, asook die impak van die oortreding op die werknemer-werkgewervertrouensverhouding. Elke oortreding moet dus op eie meriete beoordeel word en dit is uiters belangrik dat die werkgewer dissipline konsekwent toepas sonder om party werknemers uit te sonder.

Die Wet op Billike Werksgeleenthede is van toepassing op alle werkgewers en het ten doel om onregverdige diskriminasie in die werksplek uit te skakel deur gelyke geleenthede en billike behandeling te bevorder. Werkgewers moet daarop let om nie teen werknemers te diskrimineer ten opsigte van geleenthede, werkswyses, werksomstandighede, diensvoorwaardes en vergoeding nie. Indien ’n saak van onregverdige diskriminasie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys word, sal die kommissaris altyd ondersoek instel of die werknemer se waardigheid aangetas is en of die werkgewer die werknemer se eienskappe objektief beoordeel het.

Maak seker dat daar ’n grieweprosedure is en dat alle werknemers daarvan bewus is, asook van elkeen se reg om ’n grief te lug. Beleide en prosedures word normaalweg saam met die dienskontrak in werking gestel wanneer ’n werknemer aangestel word. Andersins kan die werkgewer die beleid of prosedure tydens ’n vergadering met werknemers bespreek, waar ’n bywoningsregister geteken word as bewys. Die doel van die grieweprosedure is om eerstens ’n harmonieuse werksomge-wing te skep deur enige ontevredenheid of gevoel van onreg by ’n werknemer te identifiseer en op te los.

Tweedens beskerm die grieweprosedure die werkgewer in gevalle van konstruktiewe ontslag. In so ’n geval sal die kommissaris by die KVBA altyd vra of daar ’n grieweprosedure was wat die werknemer kon volg. Konstruktiewe ontslag verwys na wanneer ’n werknemer bedank as gevolg van onhoudbare werksomstandighede.

Kommunikasie is deurslaggewend in enige verhouding en veral in die werkgewer-werknemerverhouding. Dit is belangrik om gereeld met werknemers te konsulteer en ook rekord van hierdie konsultasies te hou. Onderwer-pe vir bespreking sluit in die werkgewer se verwagtinge, doelwitte, vasgestelde standaarde, die werknemer se prestasie en rol in die onderneming en die impak wat die werknemer op die onderneming het. Gereelde gesprekke met werknemers, een-een of in ’n groep, skep ’n platform vir werknemers om gedagtes te deel en behoeftes te bespreek. Onsekerheid in die werksverhouding kan maklik tot konflik lei.

Konflik in die werkplek is normaal, maar dit is baie belangrik dat werkgewers konflik reg bestuur ten einde ’n positiewe werksomgewing te skep. Hou die volgende in gedagte:

  • Gee werknemers die geleentheid om enige ongelukkigheid of onbevredigende werksomstandighede onder die werkgewer se aandag te bring
  • Bly kalm en bespreek die situasie rustig – alle partye moet die geleentheid kry om hulle saak te stel
  • Fokus op die probleem en nie op die persoon nie
  • Fokus op ’n oplossing
  • Wees regverdig en konsekwent
  • Herbevestig die belangrikheid van ’n goeie werksverhouding

Werkgewers moet daagliks risiko’s bestuur ten einde die onderneming se winsgewendheid en volhoubaarheid te verseker. Die nakoming van arbeidswetgewing word as ’n spesialisrigting geag en daarom beveel ons aan dat werkgewers arbeidsrisiko uitkontrakteer aan kundiges wat leiding kan gee waar nodig en sodoende regsaanspreeklikheid kan beperk. Hierdeur is die werkgewer in die posisie om te konsentreer op sy primêre besigheid: landbou.

 

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2