Kernfeite wat jy van beesbrusellose moet weet

inenting
Beesbrusellose (besmetlike misgeboorte – BM) is ‘n kuddesiekte. As een dier in jou kudde positief toets vir brusellose, word die hele kudde as positief beskou en onder kwarantyn geplaas.
Dit is omdat die siekte wat deur die bakterie Brusellose veroorsaak word, kronies (langtermyn) van natuur is en kliniese tekens lank vat om voor te kom. Diere wat die eerste keer negatief toets, kan dikwels positief toets in ‘n volgende rondte toetse. Alle diere op die plaas moet dus geïdentifiseer kan word. Daar is geen behandeling vir die siekte nie en alle gevalle moet aan die Staatsveearts gerapporteer word omdat dit ‘n gekontroleerde siekte is.
Die siekte raak jou beursie!
Beeste wat besmet is, mag aborteer, wat beteken dat jy potensiële gesonde kalwers verloor. Kalfintervalle is dikwels verleng, wat beteken dat minder kalwers per koei per jaar gebore word. Melkproduksie verminder, wat beteken dat daar minder melk verkoop word (melkerye), of vir kalwers beskikbaar is (vleisbeeste). Tydens kalwing en aborsies, word miljoene Brucella bakterieë in die omgewing vrygestel.
Jy kan ‘n ramp inkoop!
Dring daarop aan om slegs diere wat kom van kuddes wat die afgelope jaar negatief vir brusellose getoets het, aan te koop. Eis bewyse van die toetsuitslae. Ideaalgesproke moet alle nuut aangekoopte diere eers onder kwarantyn geplaas word voordat hulle met die res van die kudde meng. Moenie die oorsaak van jou eie toekomstige probleme wees nie.
Mense kan siek word!
Brucella bakterieë kan mense besmet en koors, griepsimptome en kroniese siekte veroorsaak. Mense kan besmet word deur te help met besmette kalwings, die hantering van besmette plasenta of aborsies, die drink van ongepasteuriseerde melk van besmette diere en deur besmette diere tuis te slag.
Inenting is ‘n vereiste!
Die Wet op Dieresiektes, Wet 35 van 1984, bepaal dat alle verskalwers tussen die ouderdom van 4 tot 8 maande ingeënt MOET word met ‘n effektiewe middel (S19 of RB51). Dit versterk ‘n koei se reaksie op die siekte.
Bron: RPO Bulletin