Kaapstad se eerste statebond-landboukonferensie: Program bekendgestel

landbou
Die organiseerders van die 31ste Statebond-landboukonferensie het die voorlopige program vir die geleentheid bekendgestel. Dit is die eerste keer dat die konferensie in Kaapstad, Suid-Afrika, aangebied word.
Agri-Expo bied die konferensie van 1 tot 5 November 2026 in vennootskap met die Royal Agricultural Society of the Commonwealth (RASC) aan onder die tema “Opportunities of Change in a Connected World – From South Africa to the World”.
Die konferensie is oop vir alle belangstellendes en nie beperk tot lede van die RASC nie. Vorige Statebond-landboukonferensies is onder meer in Edinburgh, Brisbane, Edmonton, Livingstone en Singapoer aangebied. Kaapstad maak hom nou gereed om afgevaardigdes van regoor die Statebond en ander wêrelddele te verwelkom.Die voorlopige program fokus op die vraagstukke wat landbou wêreldwyd raak, maar plaas terselfdertyd die kollig op Suid-Afrikaanse ervaring, kundigheid en oplossings.
“Landbou is vandag meer as ooit deel van ’n wêreld wat nou met mekaar verbind is,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en trustee van die RASC.
“Wat in een deel van die wêreld gebeur, het toenemend ’n invloed op produsente, landboubesighede en verbruikers elders. Die program bring internasionale en Suid-Afrikaanse perspektiewe bymekaar rondom die kwessies wat die grootste invloed op die sektor het. Terselfdertyd word die bydrae van vroue, jongmense en toekomstige leiers tot die landbou se toekoms uitgelig.”
Met toesprake, paneelgesprekke en talle geleenthede vir gesprek en samewerking sal afgevaardigdes die uitdagings én geleenthede ondersoek wat die moderne landbou vorm. Onderwerpe sluit in voedselsekerheid, volhoubaarheid en die impak van klimaatsverandering, asook geopolitieke ontwikkelinge, veranderende handelsomstandighede, nuwe verbruikerstendense en die toekoms van landelike gemeenskappe.
Bevestigde sprekers sluit in:
- Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme
- John Bennett OAM, president van die Royal Agricultural Society of New South Wales in Australië
- Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting, Suid-Afrika
- Joel Cowley, uitvoerende hoof van die Calgary Stampede in Kanada
- Melt Loubser, besturende direkteur van Fair Cape Dairies en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (SAMPRO)
- Robyn Sermon, uitvoerende hoof van die Royal Agricultural Society of Western Australia
- Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, Suid-Afrika
- Ivor Price, medestigter en besturende direkteur van Food For Mzansi, Suid-Afrika
- Emily Norton, voorsitter van die Agricultural and Horticultural Development Board (AHDB) in die Verenigde Koninkryk
- Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA en organiseerder van NAMPO Oesdag
- Shannon Robertson, Wes-Kaapse Prestige Landbouwerker van die Jaar 2025
- David Grindle, president en uitvoerende hoof van die International Association of Fairs & Expositions (IAFE) in die Verenigde State van Amerika
- Beauty Mokgwamme, hoofbestuurder van The Mohair Empowerment Trust, Suid-Afrika
- Francois Rossouw, Nasionale Jongboer van die Jaar 2025, Suid-Afrika
- Stefan Gerber, wolprodusent en stigter van Gerber & Co, Suid-Afrika
Nog sprekers en verdere programbesonderhede sal in die komende maande aangekondig word.
“Of jou belangstelling by voedselsekerheid, landbou-innovasie, volhoubaarheid, landbougeleenthede of leierskapsontwikkeling lê, die konferensie bied ’n uitstekende geleentheid om by wêreldkenners te leer en met rolspelers van regoor die Statebond in gesprek te tree,” sê Milford.
’n Groot trekpleister is die voor-konferensietoer van 29 tot 31 Oktober 2026. Afgevaardigdes kry eksklusiewe toegang tot toonaangewende landbou-ondernemings, opvoedkundige instellings en boerderye in die Wes-Kaap. Die toer, wat in en om Stellenbosch aangebied word, bied ’n unieke geleentheid om Suid-Afrikaanse landbou eerstehands te ervaar en reeds voor die konferensie waardevolle professionele netwerke te vestig.
VERSKEIE OPSIES VIR REGISTRASIE EN VERBLYF
Ter erkenning van die feit dat die konferensie in Afrika aangebied word, geld voorkeurregistrasietariewe vir afgevaardigdes uit Suid-Afrika en ander Afrika-lande. Verskeie verblyfopsies is ook beskikbaar naby die Century City Conference Centre om by uiteenlopende begrotings en reisbehoeftes aan te pas.
Vennote van die 2026 Statebond-landboukonferensie sluit onder meer die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Hollard, FNB, De Grendel Wynlandgoed, Fair Cape Dairies, Plaas Media, die South Africa National Convention Bureau en Wesgro in.
Die voorlopige konferensieprogram, registrasiebesonderhede, verblyfinligting en die program vir die voor-konferensietoer is beskikbaar by www.rasc2026.com.
Uitgereik deur Agri-Expo