Kaapstad die droogste in 100 jaar

cape town dams
Kaapstad se inwoners moet hulle regmaak vir Vlak 4-waterbeperkings en moet te alle tye water spaarsamig gebruik, want die stad is die droogste in 100 jaar. So het die stad se amptenare by die African Utility week se pas afgelope konferensie gesê.
Helen Zille, Wes-Kaap se premier, het ook amptelik die Wes-Kaap tot rampgebied verklaar. Die verklaring tot rampgebied sal vir die Wes-Kaap steun bied, want die regering sal dus nou sleuteldiensleweringspunte moet beskerm. Die aankondiging gaan hierdie week in die Staatskoerant verskyn.
Gisela Kaiser, ‘n amptenaar van die stad, sê behalwe vir die waterbeperkings wag hulle nou op ‘n wonderwerk. Sy sê ook aangesien die winter voorlê verwag hulle meer reën, maar weerkundiges waarsku dat die winter net so droog soos die vorige twee winters kan wees.
“Niks kan vanselfsprekend aanvaar word nie,” sê Gisela.
Gisela sê ook met die hulp van verbruikers en waterbeperkings kon hulle die verbruik van water verminder. En dit het tot dusver die ekwivalent van die Wemmershoekdam van ongeveer 59 miljoen kubieke meter gered. Dit is gelyk aan omtrent 23 600 swembaddens.
Stukkende waterpype word ook so gou moontlik reggemaak. Sy sê ook dat die stad alles in hulle vermoë doen om amper vier miljoen mense te diens, en dat dit in gedagte gehou moet word dat Kaapstad ‘n waterskaarste streek en SA die 31 ste droogste land in die wêreld is.
Volgens Gisela is bykomende watervoorsieningskemas vir die streek uitgestel voordat die droogte in beslag geneem het. “Die besluit om planne vir voorsieningskemas uit te stel, is gevolg deur buitengewone lae reënval.”
Sy het ook na ontsoutingsaanlegte verwys as ‘n moontlike alternatief, maar het gesê daar is geen manier waarop dit so vinnig gebou kan word om vinnig genoeg te help in die droogtetyd nie.
Bron: Alicestine October, uitgereik deur die African Utility Week