Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 2nd November 2023

Jongboer van Noordwes bou voort op trotse tradisie

By 7 min read

gideon 1

Gideon van Zyl (40) en sy vrou Rodien nadat hy vroeër vanjaar as Noordwes se Jongboer van die Jaar vereer is. Die eer het hom ook in 2012 te beurt geval toe hy 28 jaar oud was.

՚n Skitterende voorbeeld van volgehoue boerderyprestasie is Gideon van Zyl (40), uitvoerende hoofdirekteur van Kroon Vee-familieboerdery naby Vryburg in Noordwes.

Gideon is vanjaar vir die tweede keer as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar aangewys. Die eer het hom ook in 2012 te beurt geval toe hy 28 jaar oud was.

Wie is Gideon?

Gideon is die derde geslag wat betrokke is by die Kroon Vee Brahmane, die grootste Brahman-stoetery in die Suidelike Halfrond, en hy bou voort op sy oupa, Gideon, en sy pa, Jan, se sukses.

Nadat hy ՚n graad in Landbouekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, is hy plaas toe om by die familieboerdery op die plaas, Buckshee, aan te sluit. Hy het egter nie in ՚n bestuursposisie by die boerdery ingestap nie. Hy moes homself van gewone plaaswerker tot plaasbestuurder opwerk. Vandag is hy uitvoerende hoofdirekteur van Kroon Vee. Sy pa, Jan, en sy broer, Jan Jr, is die ander direkteure. Gideon en sy vrou, Rodien, en hulle vier dogters, Lin-Mari, Liané, Jana en Mira, woon op ՚n naburige plaas, Compton Ranch.

Rodien, wat haar eie fisioterapiepraktyk op Vryburg het, is ook betrokke by Kroon Vee se arbeid, finansies en veral met die veilingsrolle en rekonsiliasie van die produksieveilings wat jaarliks op die eerste Woensdag in November gehou word.

Gideon en sy pa Jan het hulle eie silo met ՚n meule op die plaas opgerig om hulle eie
veevoer te maal en te meng vir beeste wat in voerkrale afgerond word.

Hoe pas Gideon in by die saak?

Gideon het sy eerste plaas in 2007 as ՚n eenmansaak gekoop. In 2009 het hy en sy pa besluit om Kroon Vee as ՚n familieboerdery te bestuur. Sy jonger broer, Jan jr, het in 2013 by hulle aangesluit. Gideon is tans verantwoordelik vir die ontwikkeling, toepassing en bestuur van die sakeplan, finansiële doelwitte en begrotings, asook om leiding te gee in strategiese denke. Jan jr is direkteur van vee en fokus op genetiese vordering. Pa Jan is altyd daar vir raad en bystand terwyl hy op nuwe projekte en bemarking fokus. Gideon is sedert 2007 by georganiseerde landbou betrokke, eers as lid van Agri Noordwes, later as vise- en voorsitter van die Jongboerkomitee. Hy was voorsitter van die Salpeterpan Boerevereniging en dien tans as voorsitter van Agri Greater Taung Landbouunie. Sedert 2022 dien hy ook as visepresident van Agri Noordwes.

Tegnologie

Uit die staanspoor het Gideon ՚n nuwe dinamiek met vernuwende idees vorendag gebring, wat tot voordeel van die boerdery aangewend kon word. Hy meen tegnologie is goed, maar die voordele moet die kapitaaluitleg werd wees. Hy doen graag navorsing en gebruik die data om nuwe ontwikkelings te staaf. Sodoende is daar deur goeie navorsing spilpunte op die marginale grond opgerig om voerkoste te verlaag. Hy en sy pa het ook hulle eie silo met ՚n meule opgerig om hulle eie veevoer te maal en te meng vir beeste wat in voerkrale afgerond word.

Gideon benadruk egter ook dat tegnologie soms negatiewe impakte het wat ՚n mens eers besef as jy aangepas het. Tegnologie kan nuttig wees vir die skedulering van besproeiing, maar dan gebeur dit dat die boer se voetspore nie meer elke dag op die land is nie. Gideon het ook die boerdery se bestuurstelsels verfyn en datastelle begin vergelyk. Hy het veral gekonsentreer op gewenste kudde-eienskappe soos mak temperament, vrugbaarheid en ՚n aanpasbare tipe bees wat kommersiële beesboere regoor die land en in Suider-Afrika wil hê om hulle kuddes te verbeter.

Met die datastelle het Gideon toegang tot elke bees se geboortedatum, kwartaallikse gewigtoenames, elke dier se stamboom, kalfterughouding en -intervalle, benaderde teelwaardes (groei- en melkwaardes), inentings en dies meer. Hulle het ook ՚n betroubare naspeurbaarheidstelsel wat die beweging van elke dier tussen plase aanteken. Die huidige verbod op uitvoer weens bek-en-klouseer knou die boerdery se uitvoere na buurlande wat voor die uitbreking tussen 30% en 40% van die produksieveiling se diere beloop het. “Ons het net ná die droogte besluit om die kudde te vergroot, strenger te selekteer en só ons gehalte te verhoog, maar weens die feit dat die mark na Namibië en Botswana toe is, fokus ons meer op uitvoere na ander Afrikalande wat nie beperkings het nie.”

Gideon se visie is om Kroon Vee as markleier in die Brahman-stoetbedryf
te vestig en uit te bou sodat die boerdery ՚n leier in die verskaffing van
Brahman-genetika in Afrika kan wees.

Bou op ‘n trotse tradisie

Gideon besef die waarde van die Jongboer-kompetisie terdeë. Dit was vir hom ՚n voorreg om twee keer bekroon te word as Noordwes se Jongboer van die Jaar, maar vir hom is die introspeksie en retrospeksie van die boerdery asook die uitvloeisels daarvan van onskatbare waarde.

“Ek ding teen myself mee en brei doelbewus my bestuursvaardighede tot voordeel van Kroon Vee uit. Dit gaan nie net oor monetêre waarde nie, maar ook oor die beste benutting van die intellektuele kapitaal binne die boerdery.”

Pa Jan, wat ook al aan verskeie kompetisies deelgeneem en gewen het, motiveer sy seuns ook om hulleself te meet en sodoende hulleself te verbeter.

Vandat Gideon op die plaas is het hulle boerdery ook die volgende prestasies behaal: In 2007 was hy Landbouweekblad en Breed Plan se Brahman- en Afrikanerstoetteler van die Jaar. In 2008 is hy vereer as SuiderAfrika se stoetteler van die Jaar, en in 2009 het hy die hoogste prys vir ՚n bul behaal op die eerste nasionale veiling waaraan hy deelgeneem het. In 2013 is Kroon Vee as die Landbounavorsingsraad (LNR) in die NoordKaap se Nasionale Vleisbeeskudde van die Jaar aangewys en in 2014 is Jan as Voermol se SA Nasionale Beesboer van die Jaar aangewys. Met so ՚n roemryke agtergrond is dit vanselfsprekend dat Gideon ook daarna sal streef om die beste boer – en mens – te wees wat hy kan.

Maatstaf vir groei

Toe Gideon in 2012 vir Agri Noordwes se Jongboerkompetisie ingeskryf het, het hy ՚n SWOTontleding van sy sterk- en swakpunte gedoen en besef daar is eienskappe waaraan hy kan werk. Hy het homself die afgelope elf jaar opgelei en ontwikkel sodat sy pa en broer die vertroue het om hom as die hoof-uitvoerende direkteur te kies. En vanjaar, elf jaar later, het hy weer die toekenning ontvang.

“Vir my dien die kompetisie as ՚n goeie maatstaf vir groei, en ek het weer areas van myself en die boerdery geïdentifiseer waar ek kan verbeter.”

In 2012 het operasionele bestuur tot 80% van sy werksverdeling uitgemaak; vanjaar was dit slegs sowat 20% en die klem het meer op finansiële en strategiese bestuur geval. Gideon glo die Jongboerkompetisie is ՚n wonderlike geleentheid vir jongboere om hulleself en hulle vaardighede te meet. In 2012 het hy hom voorgeneem hy wil elke jaar ՚n kursus voltooi om homself te ontwikkel. “Ek is steeds nie waar ek moet wees nie,” sê hy. Hy leer steeds by ander en sit tyd opsy om leierboere te besoek om meer uit te vind oor hoe hulle boer.

Familieboerdery

Gideon meen ՚n familieboerdery is vandag beter geposisioneer as net nog ՚n eenmansaak. In so ՚n boerdery dra elkeen by tot die intellektuele kapitaal wat tot almal se voordeel aangewend kan word. “՚n Goeie span funksioneer net beter as ՚n lyn van bevel. Ekonomie van skaal en gedeelde eienaarskap maak die las ook ligter op jou as persoon en jy het altyd ՚n ondersteuningsbasis. Dit moet wel ook goed bestuur word, want konflik en jaloesie het al baie families vernietig. Almal moet inkoop en bereid wees om ՚n bydrae te maak.”

Volgens hom behoort Kroon Vee aan hulle nageslagte. “Spanwerk is die sleutel tot sukses en elkeen van ons besef dat ons aan ՚n nalatenskap bou. Daarom is ՚n gedeelde visie belangrik om almal se oë op die doelwit te hou.”

Toekomsvisie

Gideon se visie is om enersyds Kroon Vee as markleier in die Brahman-stoetbedryf te vestig en uit te bou sodat die boerdery ՚n leier in die verskaffing van Brahman-genetika in Afrika kan wees, maar ook om bestaande stelsels te verbeter om die boerdery se vermoëns te vergroot. Hy wil stelsels in plek kry om die oorgang van die boerdery waar die twee broers nou saam boer na een waar niggies en nefies in harmonie kan saamboer, te vergemaklik. Hy wil ook graag die boerdery met vyf tot tien persent per jaar uitbrei sodat die hele familie uiteindelik ՚n toekoms daarin het, al besef hy dat van sy vier dogters en hulle toekomstige lewensmaats nie noodwendig in boerdery gaan belangstel nie.

Bronnelys

Muller, C. (2023) Agri Noordwes se jongboer wenner glo in SuidAfrika se toekoms. Plaas Media https://agriorbit.com/agrinoordwes-jongboerwenner-gloin-suid-afrika-se-toekoms

Smalman, N. (2023). Jongboer ryg tweede keer die prys in. NWK Arena. https://www.nwkarena.co.za/2023/06/20/jongboer-rygtweede-keer-die-prys-in/

Van Rooyen, C. (2023) Geen baantjies vir die Van Zyl-boetie. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/diere/geenbaantjies-vir-die-van-zyl-boetie-20230908

Kontak Gideon van Zyl by 082-944-0600 of besoek www.kroonvee.com

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment